Net duskant 12 kg het ek genoeg gehad. Genoeg van té min verloor. Genoeg van té min eet en genoeg van té veel uithou. Maar eintlik het ek die hele proses beplan. Dit was nie impulsief nie. Dit was nie emosioneel nie. Dit was goed deurdink en goed betrag en glo dit of julle wil of nie, ek is nie een oomblik spyt nie. Denell was saam met my terwyl ons manne gewerk het, en alhoewel sy seker amper 4 weke ná my met die dokter kennis gemaak het (nadat sy aan Kobus se gat geknibbel het), blaas sy hier in my nek met meer as 9 kg verlies. Ek wou haar nie saam met my onder toe vat nie, maar sy was in, deur dik en dun!

Aletté-Johanni Winckler se (steeds) vol lyf moes vir 'n slag lekker geskok word, en daar was eintlik geen beter dag as gister nie. Heinz en Petru (Denell se man) het net 'n SMS gekry wat lees: "As julle van die lughawe af kom, bring pizza en sjokolade!" Geen asseblief nie, geen subteks wat eintlik sê dat hy dit nié moet doen nie. Net dit. En hy het geweet die dag het gekom.

Ek dink eintlik my verstand was meer geskok as my lyf (alhoewel????) Daar was Luigi pizza (S), en Jak se Sally Williams Nougat, peperment EN gewone Aero, wit EN bruin Lindt-sjokolade en amper die lekkerste van dit als was my glasie(s) wyn!

Kyk, toe die reën toe nou ook nog losbars, was ek reguit in die hemel. Flip, na 9 weke dink ek dat ek maar EEN middag losbandig kon raak en my dokter se inhibisies buite los saam met die reën. Nie waar nie?

Vandag is Maandag én die 1ste November én daar is 'n besonderse reënboog om die son, so vandag is ek weer terug en getrou en ge-train. Ja, ja ek weet die 15de November was dalk "wishful thinking", maar ek gaan steeds probeer om te kyk wat ek kan vermag in 3 weke. En as dit eers aan die einde van November is, is dit ook goed, solank ek nie met hierdie ekstra bagasie met vakansie gaan nie sal ons petrolverbruik ook baie beter wees.

Daar is nog 8,6 kg oor, (wel na gister mag dit dalk 'n ander getalletjie wees, maar ek stel nie belang om uit te vind nie) en ek glo werklik na al die suiker en stysel is my lyf vandag weer ge-supercharge en reg om sommer vinnig-vinnig aan die gang te kom. (Ag asb. tog, sê my julle stem saam?)

Die een goeie ding is dat ek darem in my nommer 36-broeke pas! Uiteindelik, uit met die swangerskaprekke en welkom-terug-ritsluiters en knope. Gelukkig het ek na my aanvanklike gewigsverlies vóór Lian se verskyning 'n paar 36's gehou en het ek darem nou iets om aan te trek. Daai 34's lê egter met verlange na my en kyk in die laai, en ek moet hulle gereeld gerusstel: "Dit is nie meer (te) lank nie."

Maar as ENIGE iemand raad het oor hierdie swanger maag sal ek dit ontsaglik waardeer. Nie eers die Nazi (wat duidelik geen kinders van haar eie het nie) kan hierdie outjie wegkry nie... What's up with that? Ek vertrou dit gaan maar so saam met die kilos wegsmelt, maar iets hier binne my dink dit gaan meer vat as dit, HELP MY!!

Goed, vriendinne, ek wil ook graag bietjie hierdie week hoor hoe dit met julle gaan wat saam met my hierdie (laaaangggg) reis aangevat het. Komaan, ons is hier om mekaar te inspireer en te bemoedig, laat ons bietjie hoor wat in julle harte aangaan en of julle ook al 31 Oktobers gehad het!

Sterkte met die week, ek weet my kop is weer reg, ek weet net nie van die RES van my lyf nie...