Ek besin oor die jaar wat verby is en oor al die hoogte en laagte punte, al die harde werk (en of dit die moeite werd was) al die lesse geleer, al die foute begaan, maar natuurlik ook al die oorwinnings en grondgebied wat verower is. Desembers is 'n tyd van asemhaal, van droom, van doelwitte stel van HERbesin, van HERevalueer, van WEER probeer.

Desembermaande ruik anders, hulle proe anders, hulle voel anders. Die gees van Kersfees heers in die lug en die liggies landswyd in die aande is betowerend. Dis 'n magical maand, al is jy by die huis of steeds by die werk, of op die strand, of dalk is jy gelukkig genoeg om miskien vir die eerste keer 'n wit-Kersfees te beleef. Oral oor is die atmosfeer net anders en lieflik.

Ek hoor uit elke oord dat 2011 'n rowwe jaar was. 'n Harde jaar. Baie mense moes hard werk, ander het hulle werk verloor. Geliefdes is oorlede of het ons lewens verlaat om een of ander rede. Sommiges het siek geword.

Maar 2012 is 'n jaar van hoop! 'n Jaar waarin drome gaan waar word en waarin fantasieë gaan realiseer. 2012 hou vir my 'n rykdom in, in die vorm van 'n skatkis wat net oopgemaak moet word en  gebruik word. Ek hoop julle hou saam met vas aan die geloof dat die BESTE nog moet kom...

Ek en Lian kuier by die oumas en oupas by die see en na twee dae van gruwelike winter-weer het ons nou al drie van die mooiste, windstil, helderson dae gehad en ek kan net dankbaar wees dat my 19 maande oue seuntjie buite kan speel en nie vasgekeer is in die huis nie. Pappa is elders (waar dit mooi weer en warm is)... op toer, en ons verlang baie.

AND NOW FOR THE NAKED TRUTH:

Ek weet, ek weet daar is baie van julle wat gewag het vir die dag dat ek begin tik “The pawpaw hath hiteth the faneth!” Soos iemand in Shakespeare se tyd sou sê. Wel, na my 22 week ondersoek sing ek skielik 'n ander deuntjie. En, hierdie deuntjie is treurig en in 'n mineur eerder as 'n vrolike majeur. In net drie weke het ek 3 kilo’s geswel!

Dankie aan Elvis Blue se twee partytjies, Mev. United Nations, my sel-groepie-afsluiting, 'n goeie vriendin se ooievaarstee, Kamers vol geskenke, die herontdekking van “Fruit Loops” by die Superspar en die lysie is laaaaaaannnnkkkkkk. Dis nie asof dit met vakansie baie beter gaan nie, want hey... DIS VAKANSIE!

So daarmee verlaat ek julle in 2011. Ek het ALLE goeie voornemens dat dinge in 2012 weer (meer) positief gaan lyk en dat ek vroeg-vroeg in Januarie die bul by die horings gaan pak... anders mag 2012 dalk (ook) 'n GROOT jaar wees!

Mag elkeen van julle 'n wonderlike geseënde Kerstyd en spesiale nuwe jaar saam met julle geliefdes hê!

Baie liefde uit die Winckler huishouding en tot 2012