Dis drie-uur, Saterdagmiddag, 22 Mei. My ma sit agter die naaimasjien en ek lê op die bank en kyk die soveelste keer Marley and Me. Heinz kom (gelukkig) tuis vanaf 'n vertoning, en die Bulle speel 'n baie spannende wedstryd in die Super14. Êrens diep binne my slaan die klok twaalf slae. Die tyd het aangebreek en stadig maar seker raak ek bewus van intense kontraksies wat my baba hierdie grote wêreld in wil begelei.

"Hoor hier ...ek dink iets is besig om te gebeur ..." sê ek en vryf oor my maag. My ma is wasbleek en kry dadelik die hele huishouding in rep en roer. Tassies word klaar gepak, bevele word uitgedeel en terwyl Pierre Spies die eerste drie op die agtergrond druk, sukkel ek om die vrese wat binne my begin broei te bekamp. Ek weet nie waarvoor ek die bangste is nie: die geboorte-proses of al die prosesse wat daarna gaan volg?

By die hospitaal bevestig die kontraksie-masjien dat ek inderdaad nie jok nie. Maar Lian is duidelik sy pa se kind en vat sy tyd ...'n Epiduraal is op 'n skinkbord vir my aangebied, maar die gedagte aan my voorgeslagte op ossewaens oor die Drakensberg het my die versoek (vir eers) van die hand laat wys. 'n Paar uur later was die Voortrekkers vergete en kon hulle nie vinnig genoeg 'n narkotiseur opspoor nie! Ek het gebrul en gekrul van die pyn en myself belowe dat ek my nooit weer in hierdie "posisie" sal bevind nie!

Na nóg drie uur word ek na die kraamsaal gestoot en ontmoet my nuwe beste vriend, die narkotiseur. My ginekoloog kom lig ons in: "Nog so 'n uur." Almal (behalwe ek) gaan slaap 'n rukkie, maar ek worstel met die idee dat my lewe binne 'n uur onomwonde gaan verander. Ek gaan 'n ma word. 'n Opvoeder, 'n berader, 'n voorbeeld, 'n bemoediger, 'n adviseur en soveel meer.

Om 7:25 Sondagoggend kan ek my skreeuende seuntjie vashou. Toe hy my stem hoor, is hy dadelik tjoepstil. Terwyl die trane oor my wange loop, gaan die lig net daar in Aletté-Johanni Winckler se lewe aan en ek sien hoe my besigheidskaartjie verander van voorkomskonsultant, stilis, skrywer en spreker na . . . Mamma.

Lees nog van Aletté-Johanni Winckler