Stomgeslaan deur haar observasie verlaat ek die kombuis met my swart koppie koffie, stert tussen die bene... O, nee jammer daar's plek vir niks tussen hierdie bene!

Ek voel dis tyd dat ek dalk my stryd aan julle moet verduidelik. So vandag sit ek my siel op 'n skinkbord... Ek geniet al die kommentaar terdeë, positief en negatief en ek kan dink dat daar mense is wat dink ek is obsessief met my lyf en my gewig.

Wel, al moet ek dit nou self sê op hierdie stadium van die wedstryd word daar 'n groot deel van my energie op hierdie obsessie bestee. Maar vra vir enige nuwe of jong ma watse skok dit op die sisteem is om skielik 'n ma te wees en terselfdertyd nie jouself in die spieël te herken nie. Jy's oormoeg, oorwerk en oorgewig!

Ek was nog nooit in my lewe brandmaer nie, inteendeel ek was grootendeels altyd 'n 36. En as ek 'n paar kilo's opgetel het, het ek baie vinnig 'n plan gemaak om dit te verloor want ek het erg ongemaklik gevoel. En ek weet dit sit nie elkeen se broek om 'n 32 of 34 te wees nie. Iemand baie naby aan my is doodgelukkig met 'n 36 en selfs baie tevrede as 'n 38 lekker los aan haar sit. Elkeen moet uitvind waar hulle tevrede en gelukkig voel.

'n Paar maande voor my swangerskap was ek geinspireer deur Bertha Wahl (7de Laan se Emma) om die Dr Cohen-dieet te volg grootendeels met die gedagte om swanger te raak omdat dit eintlik begin het as 'n fertiliteitsdieët. Ek en Heinz het teen dié tyd al lank probeer het om 'n  broodjie in die oond te kry.

Ironies genoeg is daar geen toelaatbare broodjies in oondjies met hierdie eetplan nie! Dit was moeilik vir omtrent die eerste week en daarna raak mens in die patroon en ek het binne 4 weke 10kg verloor! Ek het so goed gevoel, my selfvertroue was in volle swang en ek kon enige iets aantrek. My man kon my nie uitlos nie en needless to say was ek 3 maande later swanger! So, ek weet nie of DIT Dr Cohen se intensies was toe hy gereken het dat dit 'n fertiliteitsdieët was nie, maar dit het gewerk!

Julle ken nou al die storie van hoe ek toe nou massas kilo's opgetel het in die 12 maande en nou lê my pragtige voor-swangerskap klere vir my en loer terwyl die kwota klere wat ek wel kan dra daagliks meer onaantreklik raak.

Wel, in 3 weke is dit my 4de huweliksherdenking (kan julle glo?) en op hierdie stadium wil ek omtrent nie eers in 'n sweetpak voor my Adonis verskyn nie praat nog van ietsie met kant. Hierdie gaan nie net oor my en my lyf nie. Dit gaan daaroor dat ek vir my man op my mooiste wil lyk. En ja, ja hy aanvaar my soos ek is (hy doen regtig) maar ek aanvaar my nie soos ek is nie. Want ek weet nou wat is my potensiaal en ek het nou geproe aan daai size 34-vrugte en ongelukkig proe enige iets groter nou baie bitter in my mond.

Ek weet baie mammas gaan nou appelleer en sê my kind kom eerste en glo my, as dit by tydsbesteding, aandag, soentjies en drukkies, doeke-omruil, kossies voorberei en ander baba-behoeftes kom, kom hy op die oog af eerste. Maar mag ek nóóit my huwelik agter weë laat ten gunste van my kind nie. Mag ek nooit myself verloor te midde van 'n familie nie... En daarom het ek besluit ek weier om te aanvaar dat dit nou maar net so is. Ek sit nou maar met die kilos, maar ek het darem 'n baba om daarvoor te wys?

Aikôna, nie hierdie mamma nie! Ek wil hot wees vir my man en gorgeous wees vir my seun en hope energie hê om ure saam met hulle albei in die tuin of op die strand te speel. Ek wil suksesvol wees in my beroep as 'n voorkomskonsultant (waar voorkoms nogals belangrik is?) en daarom wil ek beoefen wat ek preek! (Dit klink NET nie dieselfde in Afrikaans nie). En juis daarom (ja, daar's nog baie ander redes) was eergister MAANDAG.

Omdat Lian refluks het moes ons baie moeite doen met bottels en gel om sy kossies dikker te maak en hy was al hoe minder en minder aan mamma se bors. En nou amper 4 maande later drink hy net so een keer per dag aan my en dit lyk ook of hierdie fonteintjie ook nou besig is om op te droog. Vir my as mamma is dit ongelooflik hartseer om te dink ek gaan nie meer my kind borsvoed nie en as ek net daaraan dink kry ek 'n knop in my keel. Alhoewel dit die grootste voorreg was om dit te kon doen, het die tyd nou aangebreek vir hierdie mamma om weer bietjie 'n sexy bra aan te trek. En juis daarom is Dr Cohen net gister weer terug in my huis verwelkom. Dus is die kos-skaaltjie uitgeruk, die groente is in massas vooraf gekook en vir die eerste keer in 'n baie lang tyd dink ek oor wat ek in my mond druk.

My maag sit en grom soos ek hier vir julle tik want hy moet net gou eers weer gewoond raak aan baie kleiner porsies want soos my bediende tereg sê: " You love food too much!"

Volgende week vertel ek julle weer van die Nazi en wat die vetmetertjie gesê het...

Liefde

Ekke

PS: Hierdie week se foto word geplaas vir inspirasie...