Ek is happy dat die see op my voorstoep kan wees en al waai die wind ons weg hier in die Kaap, is dit steeds lekker om net nié by die huis te wees nie. Ek is happy dat Projek 64 tot 'n einde gekom het. Ja, ja okay dit is miskien nie PRESIES 64 nie, maar dis naby genoeg en ek is happy.

Om 'n ma te kan wees verander verseker jou prioriteite en dis duidelik nie meer vir my belangrik om op 'n modelagentskap se boeke te wees of in advertensieveldtogte te pryk nie. Ek hou van my lyf. Ek het my nuwe magie aanvaar en alhoewel ek nie gaan ophou om aan hom te werk nie, huil ek nie elke aand my oë uit omdat ek nooit weer gaan lyk soos ek eens gelyk het nie. Ek is naby genoeg en baie dankbaar dat ek dit nie Projek 62 gemaak het nie! Of dalk moes ek juis, want dan het ek eintlik by 64 uitgekom. (Julle doen die Juf Bull wiskunde.)

Vir nou is hierdie mamma geamuseer met my kind, wat op 6 en 'n half maande begin kruip en hierdie week begin tande sny het. Sy doeke moet elke 3 minute omgeruil word, raad oor brandboude moet verkry word en Dis-Chem moet elke dag besoek word. As dit jou tyd in beslag neem is die laaste ding waaraan jy dink die dokter en sy kwaai oë en wettiese doktrines.

Ek, Aletté-Johanni Winckler, is met vakansie en ek geniet my familie! Môre is dit my broer se troue waarvan ek julle aan die begin vertel het en hier is ons nou, 18 weke en (om en by) 18 kilogram later... Vir nou gaan ek eers my rooiwyn in die Kaap geniet, en met oujaar vat ek en Pappa die pad Bulgarye toe via Turkye. En ek is seker die gluhwein gaan nodig wees om hierdie lywe in die koue sneeu warm te hou. As ons Januarie terug is begin ons weer met ons nuwejaarsvoorneme om op ons beste te lyk. En moet my nie veroordeel nie, ek weet dis vir elkeen van ons uiters belangrik om goed te lyk en te voel oor onsself want daaruit vloei selfvertroue. En dit het weer 'n domino effek op soveel aspekte van ons lewens. So Januarie 2011, hier kom ons!

My liewe lesers, dankie vir julle ondersteuning deur hierdie paar weke! Julle het dit vir my die moeite werd gemaak om deur te druk. Jammer vir al die cheats maar dit is ook uiters nodig. Ek het myself beter leer ken in hierdie tyd en besef ek is 'n vrou van die ekstreme. As ek die dokter volg, volg ek hom met durf en daad en my oë dwaal glad nie van die pad af nie. Maar as ek die dag besluit dis sulke tyd, dan stop ek enige ding wat voorkom in my mond of ek nou lus is daarvoor of nie!

Mag 2011 vir my 'n jaar van balans wees. Balans in die huis tussen my eggenoot en my kind. Balans tussen my ma-wees en besigheidsvrou-wees. En dan balans in dit wat ek in my mond sit. My man sal veral baie trots wees op my as ek dit kan regkry.

Mag elke SARIE-leser ook in 2011 die seën van die Here ervaar en uiteindelik doen wat al so lank op die lysie is. Pak die bul by die horings. Slaan die hand aan die ploeg en handel dit af. Die bevrediging wat daarmee gepaard kom is uit die boonste rakke.

Ek gaan my gebalansseerde reis in 2011 begin deu balans op ski's te probeer vind, en dan sal ons sien hoe dit gaan die res van die jaar... Miskien hou ek julle op hoogte met 'n balansstaat.

Geseënde Kersfees en BESONDERSE nuwe jaar!

Ekke.

P.S  Lees gerus die nuwe SARIE met ander mammas wat vertel van hulle stryd teen post-swangerskap-gewig