Na net viér dae op die dieët was 3.3kg skoonveld en het ek soos 'n fighter pilot deur die klankgrens breek, deur die 80's grensdraad gebreek (uiteindelik!). Ja, ek wéét dis seker nie die gesondste manier nie, maar dis uitstekende motivering en die wetenskap daar agter is 'n gewigtige saak vir 'n ander dag.

Vrydagoggend was dit súlke tyd en die Nazi het my by haar kantoortjie in geboender. "Klim op die skaal!" "Maar ek het my vanoggend geweeg nadat ek 'n draai gaan stap het, sonder 'n draad klere aan en met nie eens 'n rêkkie in my hare nie en glo my, die uitslag is...X" (Gelukkig vir my, aanvaar sy my woord) "Goed, staan so, lig op jou hemp, trek op jou broekspyp..." En sy knyp-knyp-knyp met daai metertjie en vroetel en vat kompleet aan my rolle asof ek 'n os ter slagte is. "33, en dit was laas 38. 24 en dit was 27... 12 en laaskeer was dit 15."

Na die afmetings opskuddings veroorsaak het, is die resultate verwerk - kompleet soos deur 'n onafhanklike ouditeur van P.W.C. vir 'n Mej Suid-Afrika-kompetisie: Hoera! Ek het 5% vetpersentasie verloor! Blykbaar is dit na 12 sessies by die Nazi nie te versmaai nie en ek dog sy gee my die res van die sessie af as beloning. Maar Dog het baie dinge gedoen...(soos baie gevreet tydens swangerskap en geDOG als gaan verlore gaan met borsvoeding.)

Na 'n G.I. Jane hindernis baan in die (gevreesde) studio, is ek bloedrooi en doodhonger maar méér gedetermineerd, huis toe.

Ek en Heinz het laas Vrydagaand in Bloemfontein opgetree en moet vandag in Kuruman wees en het net daar en dan besluit ons om sommer die week by oupa en ouma de Klerk te kom kuier in Kimberley. En wat beteken dit? Die Dokter se tassie word ingepak en hy moet al die pad saam met ons reis. So, daar staan ek in OFM se studio-kombuis met my blomkool en hoendertjie terwyl Heinz sy heerlike hamburger hap.

Dinsdagoggend kom ek in my ma se kombuis met Lian op my arm. My ma se bediende, Rose, se aandag is dadelik op my seun en sy gaan aan en aan oor hoe mooi, groot en sterk hy is. Sy sien my skielik agter hom raak (ek weet nie wat het haar so lank gevat nie) en ek haal aan: (in haar tipiese Noord-Kaapse aksent) "Jimmel sus, maar djy't opgetel?"  Nou wonder ek wat sy sou sê as ek en die Dokter nie versoen het nie?

Ek reageer nie eers meer daarop nie, maar wonder wat is dit met hierdie ander nasies wat so kinderlik eerlik is en geen asem op diplomasie wil mors nie? Die Afrikaners aan die ander kant, volg 'n tipiese Hitler- paai-beleid en wil net nooit iemand se gevoelens seer maak nie: "Nee man, jy lyk pragtig" maar hulle kan jou nie in die oë kyk terwyl hulle met jou praat nie.  Ek gaan werklik met ander oë na die Waarheids- en Versoeningskommissie begin kyk...

Maar my susters, dis nou al amper 2 weke en ek en die Dokter is nog boesem vriende. Ek sê nie ons baklei nooit nie. O, jinnetjie tog! Daar is tye dat ek baie dikbek en dikvellig my skaaltjie moet uitruk terwyl die mans in die huis die bure se lemon meringue-tert bespring. (Ek het my ma aan die Dokter voorgestel, en sy is verlief). Ek het my nog nie weer geweeg nie want ek wag tot ek weer in my eie badkamer kan staan, en dit maak die opwinding om by die huis te kom net groter.

Projek 64 is weer op dreef en as ek weer vir julle skryf gaan ek nóg nader daaraan wees. Desember vakansie, hier kom ons! (En DAN los ek die Dokter by die huis!)

Vir meer inligting oor Dr Cohen se plan besoek gerus www.1stpersonaldiet.com

Baie liefies,

'n Ligter ek.