Ek haal sommer vandag my man se liedjie se woorde aan (wel ek het dit gedeeltelik uitgedink so saam met die F.A.K, so ek mag dit sekerlikgebruik?) Vriendinne, die lente is hier en ek is in my element, dik of de-'not'! Wie kan nou kla met die voëltjies se getjirp in die agtergrond, so vandag gaan ek my gedagtes “spring clean.” As ek in die middag gaan stap en ek ruik die jasmyn voel ek sommer hoe die endorfiene vrygestel word en laat dit my terugdink aan my kinderjare toe ons nog met gemak buite kon speel en elke dag in September gewag het vir die eerste reëns om te val voor ons kon swem. Saam met die nuwe bloeisels en die vars ge-chloorde swembaddens, het ek nuwe inspirasie EN dissipline. Ek kan nou nie meer dik swart tights en jasse aantrek om alles te bedek nie. Ek kan ook nie meer dik wol serpe dra om my trippel-ken te verdoesel nie.Hierdie arms gaan nou moet uitsteek en ek praat nie eens van my bene nie. Maar ek moet darem sê ek kon Vrydag 3 stelle van 12 push-ups klaarmaak en DIS nie te versmaai nie. So eintlik, êrens onder hierdie 16 of 17 kilogram is daar ‘n paar spiere wat besig is om lekker te ontwikkel en sodra die kilos val gaan ek vir Caster Simenya ‘n go kan gee. (Raai wie het Sondagaand Carte Blanche gekyk?) En om my opgewondenheid te versterk het my baba gisteraand vir die eerste keer deurgeslaap: van 7 tot 7, so miskien, net miskien kan ek van nou af op ‘n bietjie meer slaap staatmaak wat ook tot verdere gewigsverlies mag lei.Dit lyk asof my gebede toe wel beantwoord word... Die boek wat ek gekoop het, aan die ander kant, het nie sulke positiewe resultate te weeggebring nie. Daar is kossoorte in daardie dieët wat ek nie eens kan spel nie, en daar moet baie moeite ingaan in kos voorberei en dis tyd wat hierdie werkende mamma nie nou het nie.(Kan iemand dalk vir my sê wat is arugula slaai of gebraaide Halibut???) Saterdagaand het Heinz in Pretoria gesing en ek was genooi na ‘n vriendin se 32ste (25ste) verjaarsdagpartytjie ook in Pretoria en so het ons besluit om ons hart se punt by my sus af te laai en (klaarblyklik) daarmee tesame my dieët. Die aand was gevul met romerige smaaklike kos,wyn, kaaskoek, sjokolade-brownies, Dom Pedro’s, baie gelag en min selfbeheersing. Sondag, sou hulle wragtag so gemeen wees om sjokolade-croissants by die kerk te verkoop en sondig ek net daar en danop die spot. Om nie te praat van die Sondagmiddag braai en Woollies se malvapoeding nie. Soos my 32 (25)-jarige vriendin sou sê: “ ‘n Grap is ‘n grap, maar jy sit nie ‘n hospitaal se krag af nie.”En my loskopgeid oor naweke moet ook nou end kry. Dus, vriendinne, dis Maandag, dis bykans ‘n nuwe maand en ek het (ook) gisteraand my somer- en winterkaste omgeruil so dis tyd vir ‘n nuwe (kleiner) b(l)aadjie. Die skaal is (vir eers), op julle aandrang, weggepak en my nuwe maatstaf sal my broek se knope wees...(hopelik het hulle almal knope.) Ek gaan hierdie stryd stry tot die einde en die einde is nou net 3 maande ver. Geen verskonings meer nie. Geen grappies meer nie. Van nou af is dit oop neusgate al die pad wenpaal toe: “Projek 64 here I come! ...(Again)!” Mwa P.S Sjoe, maar daar is ‘n paar tannies wat my lekker oor my vet vingers tik met die kommentaar? Dis reg, en dis nodig want hoe méér ek weet hoe minder gaan ek weeg. Ek moet darem by sê dis lekker om te weet ek is nie alleen in hierdie stryd nie, en dat daar al vele was wat hierdie paadjie gym toe moes stap (draf) voor my.