O die liewe Alettetjie! Nog ‘n week is verby, maar wees nie bevrees nie my liewe SARIE-vriendinne, daar is vordering. STADIG MAAR SEKER! Verlede Vrydag moes ek gaan rokke pas vir Dinsdagaand se Tempo-Toekennings en NIKS maar NIKS wou oor my “borste” gaan nie! Ek en Diaan Daniels kon net lekker lag, want daar was die mooiste rokke om van te kies maar DIT het my niks gehelp nie! Moes toe maar ‘n ander alternatiewe plan maak! Die naweek was moeilik, (naweke is gewoonlik moeilik) maar ek kon darem agter kom dat my gedagtes is besig om te verander. Teen Sondagaand het ek vir Yolanda Kruger (Hitler-‘n baie mooier weergawe) geSMS om my konsultasie afspraak te bevestig. Dinsdagoggend 9:00. Ek staan voor haar in al my glorie en terwyl sy my analiseer moet ek net keer of ek gaan histeries aan’t lagge! Hoe in die LEWE het HIER gekom? Die gesprek was iets in hierdie lyn: “Wat eet jy?” “ALS!” “Hoe baie eet jy?” “ Die hele bord vol” “Hoe groot is die bord?” “BAIE groot?” “ Wat haat jy om te doen in die gym?” “Hardloop” “Goed, ons gaan baie daarvan doen!” “Nice.” Sy stel voor ek eet ‘n goeie ontbyt, miskien oats en 'n jogurt en vir ‘n snack moet ek ‘n “shake” drink. Vir middagete kan ons ‘n lekker slaai eet en dan weer laatmiddag ‘n “shake” en dan ‘n matige gebalanseerde aandete. Geen pasta, geen brood, geen suiker, geen pizza, geen aartappels en rys in dieselfde bord, baie groente, liters water en GEEN CHEAT dae! Toe sy my afmetings neem kon sy haar verbasing nie wegsteek nie. Veral na daai maatband skaars om my heupe kom was haar reaksie: “Dis bad”. Teen hierdie tyd was ek al histeries van die lag, want daar is nie veel meer wat ons kan doen nie! Maar die rerige SHOCKER was toe sy daai vetpersentasie-metertjie uitruk en my oral op my sagte (en harde) rolletjies knyp. “Dit lyk vir my jou probleem-area is van onder jou arms tot by jou knieë. HA HA HA! Toe ons ‘n paar minute later uit die kantoor stap was ons dit eens: “Ons het BAIE werk om te doen! Daarna wou sy my krag toets en moes ek vir ‘n minuut lank maagoefeninge doen. "OH MY HAT!" Voor my baba kon ek vir ‘n paar minute aanhou, en dan praat ek nie eers uit oor wat gebeur het met die “push-ups” nie. Okay eerlik, "push-ups" was nog nooit my sterkpunt nie, maar NOU met 20 kg ekstra om up te push kon ek maklik-maklik ‘n plekkie op Kwêla se snaakste video-kompetisie gewen het! Goed. Gedane sake het geen keer nie, en die koeël is deur die kerk! En daar is nog ‘ n paar Afrikaanse idiome wat heel gepas is vir hierdie situasie, maar ek sal nou maar fokus op die wending! Woensdagoggend 7 uur is haar eerste opening. In my oorywerigheid het ek nie besef dis die Tempo’s Dinsdagaand nie, en het ek gereken ek is in elk geval LANKAL op in die oggende met my beeldskone baba teen 7 h - ek kan net sowel myself handig maak. Toe ons 12 h Dinsdagaand of eerder Woensdagoggend by die huis kom en ek besef ek moet net nou weer opstaan en nog my nagtelike rondtes doen, het hierdie blondie uitgechicken! Ek was doodmoeg en dit was ‘n lang aand. (Ek het darem Woensdagoggend met Lian gaan stap). Woensdagaand het ons NOG ‘n formele liefdadigheidsfunksie aangehad waar Heinz opgetree het, maar ek het seker gemaak ek gaan met my eie motor sodat ek kon ry net voor die Amarula sjokolade-meringue-poeding bedien was. En as ek so na myself op Top Billing kyk (Donderdag 29 Julie) , is ek maar bly ek het eerder gery en gaan slaap! Maar my liewe vriendinne en mede-stryders. Môre-oggend 7 uur is dit sulke tyd. Ek is eintlik te bang om te gaan slaap, want dan weet ek ek moet weer opstaan om my eerste sessie met die "Nazi" te hê. Al wat ek kan sê is: “BID VIR MY!!!!!!!!!” As ek volgende week my vingers kan voel (dis onder my arms en bo my knieë), sal ek julle laat weet hoe dit gegaan het! Ekke.