Maar die Bybel (of my ma?) sê mos jy kan nie net niks doen nie, jy moet jou kant ook bring. Ok, ek dink dit was my ma. Sy het my altyd voor 'n eksamen op skool herinner, ons kan nie net bid dat Liewe Jesus ons moet help nie, ons moet swot ook. Ek gaan nou begin bid dat Liewe Jesus my moet begin help!

Ek probeer rêrig hard: Geen stysel, geen suiker (goed soms is daar 'n geleentheid soos ' n ooievaarstee waar al wat jou voorgesit word suiker bevat, dan het jy nie 'n keuse nie). Ek oefen, oefen, oefen, oefen, oefen en ek drink shakes dat ek al die shakes kry. Maar daai syfertjies op daai skaal is soos die woorde op 'n grafsteen ingegraveer. Dit wil nie move nie. Ek is eerlikwaar bly dit word ook nie meer nie, maar 'n deurbraak sal verseker op hierdie stadium van die wedstryd waardeer word, so ENIGE RAAD is WELKOM!

Ek het gisteraand in my desperaatheid na 'n oplossing "breastfeeding and weightloss" ge-google en op 'n e-boek afgekom: "Breastfeed your way thin."  Ek het sonder om te skroom my beste (Pay) pal nader getrek en daai $9.97 betaal om te lees wat vir hierdie vrou gewerk het. Sy het oor die 40kg opgetel met haar eerste baba en toe het sy geleer hoe om dinge reg te doen met die volgendes EN hoe om gewig te verloor terwyl sy borsvoed. Maar ek het nou nog nie kans gehad om dit te lees nie, so ek sal vir julle volgende keer meer daarvan kan vertel.

So, dis nou my plan van aksie: Lees die boek, leer wat om te doen, hou aan oefen (want die Nazi gaan my inelkgeval nie so vinnig laat gaan nie) hou op cheat, en bid BAIE hard!

Vandag het 'n pragtige vriendin van my by my gekuier en vir my gesê mens moet eintik GLAD NIE die skaal dophou as jy so hard oefen nie, want mens raak net neerslagtig en dikvellig (eintlik heeltemaal te laat vir dit) omdat mens eintlik spiere bou! So nou weet ek nie meer lekker wat om te doen nie. Ek sal maar bietjie minder op daai vierkant klim en eerder kyk hoe my klere (watse klere?) aan my lyf pas!

Yolanda het vir my geWERK hierdie week. Daar was baie uitlatings soos: "Girl jy's mal man!", "ek kan DIT nie doen nie!", "hoevéél nog?" en "dit brand!" geuiter, en dan praat sy ook nog met terwyl ek probeer konsentreer om net asem te haal om aan die lewe te bly. Ons is nou al klaar met 7 sessies. More is die 8ste een en na die 12de een gaan sy weer daai vet-metertjie uitruk en kyk of sy Nazi-genoeg is vir my.

Maar nou moet ek eers klaar tik, daar is 'n boek wat gelees moet word en 'n gebed wat gebid moet word.

Ekke

P.S Só baie dankie vir al die kommentaar. Julle bemoedig my. Keep it coming!