Ek het darem vandag my afspraak met die dieetkundige bevestig en sy het my gerus gestel sy gee my ‘n programmetjie vir elke trimester om seker te maak baba kry als wat hy/sy nodig het. (Nie noodwendig 4 stukke pizza nie...) En dat dié mamma slegs optel wat sy veronderstel is om op te tel in die nodige trimester. Net jammer ek sien haar eers oor ‘n week, so julle beter my aanmoedig om hierdie week gefokus en gerantsoeneerd te lewe. Dit het ook nie gehelp dat Lisa (Pilates) ‘n noodoperasie moes kry en Mamma niks oefening gedoen het nie. Ek troos myself daaraan dat mens nie kanse moet vat met ‘n loopneus en verkoue in die lug nie...

Op ‘n ander noot, moet ek bieg om ‘n swangerskap met ‘n 16 maande oue peuter aan te pak en steeds te werk is nie vir sissies nie. Lian is op ‘n vermoeiende stadium en alhoewel hy cuter as óóit raak, maak die feit dat hy nie presies kan sê wat hy nodig het nie dit nóg moeiliker. Elke dag haal ek my hoed af vir mammas wat dit waag met 2 of 3 of selfs 4! Hoe het my eie ma dit gedoen met 4 kinders tussen 0 en 8 sonder al die bystand en hulp wat ons vandag het? Enige raad is welkom!

Blykbaar is die mamma-word-hormone ook volop in die lug en lyk my toe dit begin papreën het n paar tannies begin skep. Ek het uitgevind dat daar ‘n hele paar vriendinne is wat amper saam met my swanger is, so dit sal ook lekker wees om hierdie swaar-dra-al–aan-die-een-kant-pad saam met hulle te stap. Dalk hardloop? Ons sal maar moet sien wat die dokter, dieetkundige, pilates-tannie sê!

Tot volgende week,

Die Mamma