Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het nie (weer) heeltemal van die treinspoor afgeval nie, inteendeel, ek dink die skaal is steeds (dalk) my vriend, maar hier is definitief dinge met hierdie lyf aan’t gebeure waaroor ek nou maar net GEEN beheer het nie.

Onthou julle toe ek laas geskryf het dat as 'n driehoek-liggaamsbou (soos ek) a.k.a die PEER, (noem dit wat jy wil, jou heupe is “huge” en jou maag -area is kleiner bedeeld,) swanger word, hulle eintlik maar kan oorgee. Want, skielik is jou beter bate, jou baba-bate of baba broeiplek en word jy maar iets soos 'n “all rounder” of jy nou wou of nie. Dis werklik asof alles in jou liggaam skielik elke slukkie water stoor, of jou bloedmassa verdriedubbel (dit gebeur blykbaar so te sê werklik) en of jou bobene verdubbel in grootte, al het jy NIKS gedoen om dit moontlik te maak nie?

CAN I GET AN AMEN ON THAT?

ALLES DRIL! Dié dat arme Lisa van Pilates nie eens kon dink oor die volgende oefening nie, dan moes ons al begin. Daar is nie tyd om water te drink nie ONS MOET FERM RAAK!

En te midde van my stryd besluit my hormone om my te boikot en los hulle my in 'n terneergedrukte, moeë, ongelukkige emosionele staat en huil ek my oë uit want: “HOE DOEN ENIGE IEMAND DIT?” Hoe, vra ek jou met trane in my groen-blou oë? Hoe groei jy aan 'n lewe in jou moederskoot, wat elke liewe druppel energie van jou tap, werk jy voldag met 'n peuter wat om jou bene speel, gee jy liefde aandag en KOS aan jou lewensmaat, drink tee saam met jou vriendinne, EN help kinders in nood? Hoe? Hoe gee jy dieselfde aandag aan hierdie pragtige nuwe fetussie as wat jy aan jou eerste gegee het? Waar is die dae toe dit moontlik was om 'n middagslapie sonder enige sorg te kon neem en werklik hierdie nuwe fase van vrou-wees te omhels?

Is ek die enigste mamma wat hierdeur gaan?

Dalk dwaal ek vandag bietjie van die gewigtige saak af, maar hierdie is ook iets om na die lig te bring. Want raak mens so buite jouself is die eerste ding wat (ek) of dalk jy doen om jou te vergryp aan iets in die yskas, wat duidelik sy vervaldatum bereik het, maar WIE GEE OM dit laat jou beter voel?

Nee dames, moet julleself asseblief nie oor my bekommer nie, na 'n goeie huil sessie op my man se skouer en 'n noodgedwonge gebed of ses voel ek ligter. (Nie op die skaal nie) Net in my gemoed. Soos my skoonma altyd sal sê: “This too shall pass.”

Maar, voor ek uit “pass” los ek julle tot 'n volgende keer waar ek hopelik weer al my hormoontjies goed in gelit sal hê.