Daar lê ons babatjie- armpies en beentjies wat rondskop en beweeg, en ek kan eintlik nie glo hoe baie Klein Wincklertjie in net vier weke ontwikkel het nie. Hartklop 161 bpm en alles lyk goed.

Dit is 'n wonderlike gevoel al hoes Mamma Winckler behoorlik haar longe uit as gevolg van 'n post-nasale drup. Mens voel so half die slympies kan nou maar op 'n ander plek gaan drup want die irritasie in die keel maak enige proses van vas-slaap heeltemal onmoontlik.

Al goeie ding wat daaruit kom, is dat ek elke 3-5 minute my maagspiere oefen, maar ek hoor al hierdie babatjie smeek: “Asseblief tog mamma, ek probeer slaap!”

Op Oom Dokter se skaal is ek 2kg swaerder as laas wat ek daar was, en ek vra die suster om my vorige statistieke vir my te wys. Met Lian het ek tussen week 7 en 10, 3.9kg opgetel en nou tussen week 6-10 net 2...so op papier lyk dinge volgens plan.

Na my afspraak by die ginekoloog is ek weer na die dieetkundige en na ons afspraak kan ek eintlik nie glo dat ek nie met my eerste baba al daaraan gedink het om so iets te doen nie. Dit maak SOVEEL sin, om presies te weet wat om te eet, wat is nodig vir my bloedsuiker vlakke om konstant te bly want as die bloedsuiker wipplank ry veroorsaak dit dat die vetselle wipplank ry, veroorsaak dit dat die skaal wipplank ry. BOSE KRINGLOOP.

Daarom, dames (en here?) as jy fokus op lae GI kosse en gereeld klein porsies eet is dit uiters gesond vir jou liggaam en jou brein kry die nodige petrol van die koolhidrate wat jy eet, wat dit nodig het om optimaal te funksioneer. Sjoe, ek het behoorlik BAIE geleer. Nou om dit toe te pas.

Hierdie afgelope naweek (25 September 2011) was en is 'n geskiedkundige dag in die Winckler/De Klerk (my nooiensvan) families.  Gister was my pa se 65ste verjaarsdag, my ouers se 40ste huweliksherdenking (asook hulle verlowingsherdenking) EN my en Heinz se 5de huweliksherdenking! As my oupa nog gelewe het so dit sy verjaarsdag ook gewees het!

Dus, het ek nou nie aldag gewonder of die roosmaryn MALVA en vla (jip, wat 'n smaaklike kombinasie) van die lae GI-familie is, en of my bloedsuiker deur die dak gaan skiet nie. Skiet het hy geskiet, op meer as een geleentheid want ons het die HELE naweek saam feesgevier! (Ek dink nogal dit is iets om te vier!)

MAAR, vandag is MAANDAG! En vandag het ek begin met my lae GI pappies, melk, jogurt en my vrug was drie aarbeie want ek weet werklik nie HOE ek al die kos op hierdie lys gaan inkry nie. Dit is die eerste keer in my lewe waar ek leer dat jy moet EET om gewig te verloor (of nie op te tel nie) eerder as om jou self uit te mergel.

Ek is dankbaar ek het nou al die “tools” en ek en Lisa het reeds ook 11 uur vanoggend 'n Pilates afspraak gehad, sodat ons net weer hierdie spiere van my kan herinner van hulle bestaan!

Ek hou julle op hoogte van die vooruitgang...

Groete

Die Mamma.