Nog voor ek kon antwoord het sy dit dadelik vir my gespeel. Ek kon nie glo wat ek hoor nie, want volgens my was daar op daai stadium in die Afrikaanse musiek nog nie só iets geskep nie. Die melodie en harmonieë het my in vervoering gehad en in my gedagtes het ek getrou met één van hierdie manne wat gesing het. (Of sommer albei.)

Die wenduet deur Joe Niemand en Jaco du Plessis met “Sy is die een” (En vir die van julle wat nog nie twee en twee, of in hierdie geval een en een bymekaar gesit het nie, Jaco is inderdaad “Jay”...Jay van “Melanie” Jay.) En vir die ander van julle wat noú nog sukkel om Crescendo uit te spreek en in die Idols-era grootgeword het, Crescendo was ‘n ATKV-sangkompetisie wat in 1974 begin was, lank voor Simon Fuller of Simon Cowell enige hond se gedagtes gekry het oor kom-ons-kyk-wie-sing-die-mooiste.... (So by the way, hoe ironies is dit dat Joe die een was wat my aan my man voorgestel het... ek was nie ver af nie.)

Van ons ander talentvolle wenners wat met die Crescendo-trofee weggestap het en dit as die wegspringblokke van hul suksesvolle sangloopbane gebruik het was: Randall Wicomb, Rina Hugo, Karen Hougaardt, Annelie van Rooyen, Innes en Franna Banade (en vir dié wat weer vashaak by Wicomb of Hougaardt), van die nóg meer suksesvolle meer onlangse wenners wat dalk ‘n klokkie sal lui is, Anna Davel, die Coleskes, Jak de Priester en die immer gewilde Riana Nel.

En na daardie gratis geskiedenisles van ons Suid-Afrikaanse kultuur tree ek met liefde terug na Joe Niemand wat inderdaad nie Niemand is nie maar deur die afgelope 10 jaar in die musiekbedryf gewys het waarvan hierdie man gemaak is. Sy reis was nie maklik nie. Dit het nie net alles vir hom gebeur nie. Maar vandag staan Joe Niemand voor Suid-Afrika met ‘n nasie agter hom wat hom sal dra en ondersteun omdat hy as jong man gehoorsaam was, geloof aangegryp het, en vrees by die deur uitgeskop het. Hy het inderdaad sy eie raad gevolg: “Ek sal nie bang wees nie!”

Met 7 albums wat strek oor sy 10 jaar loopbaan het Joe glad nie die algemene, normale of verwagte paadjie in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gestap nie. Sy eerste Afrikaanse album saam met Jaco (Jay) was ligte Afrikaanse musiek wat bekende treffers insluit soos: “Ek is lief vir ma” en “Ek laat jou telefoon lui”. Hy het daarna sy band, NIEMAND, gestig en radiotreffers gehad soos: “Words” en “All I have”.

In hierdie tyd het Joe tot bekering gekom, maar omdat soveel Christene hom al teleurgestel het deur hul lewenswyse het hy besluit om vir “niemand” te vertel wat met hom gebeur het nie. Die Here het egter ander planne met hom gehad en na tientalle Christelike treffers, platinum album verkope, toere en ‘n hele string Mighty Men-konferensies, het hy aan die einde van 2011 op ‘n strand ‘n droom gehad om die MTN Dome in die noorde van Johannesburg vol te pak en ‘n epiese produksie op die planke te bring.

“Daar was die afgelope paar jaar min dinge in my loopbaan wat sin gemaak het, maar ek glo dat God my lei en dit is die enigste rede waarom ons iets so groot soos Night of Light aangepak het,” het Joe gesê.

Op ‘n verhoog wat in die middel van die Dome gebou is, met duisende ligte, ‘n simfonie orkes, ‘n band, 500 koorlede, gaskunstenaars soos Romanz, Coleske en Liza Liversage, het Joe se droom waar geword. Enige iemand in die musiekindustrie sal vir jou kan vertel dat dit basies onmoontlik en fataal is, maar “Night of Light” 2012 was ‘n reuse sukses. Volgens van die personeel by die Dome was hierdie hul mees suksesvolle vertoning ooit (Lionell Richie, Westlife en Bryan Adams is van die min Internasionale kunstenaars wat al daar opgetree het). Ek self was bevoorreg om op 38 weke swanger die stilering te doen van die vertoning en selfs al tydens die oefeninge kon ek ervaar Joe is besig met iets ongeloofliks.

Omdat hierdie aand 20 Maart 2012 werklik die onkieming was van ‘n klein mosterdsaadjie wat slegs 5 maande vroeër in goeie grond geval het, moes hierdie massiewe geleentheid en die gebeure vooraf eenvoudig net vasgevang en gedokumenteer word, en so is “Agter die Ligte” gebore. Vanaf 28 September 2012 word Joe Niemand se “Agter die Ligte”–konsert vir ‘n beperkte tydperk landswyd in rolprentteaters vertoon.

Hierdie rolprent is vir almal wat by Night of Light was, en vir almal wat nié daar was nie. Dis vir almal met ‘n droom, hoe belaglik ookal dit mag klink, dis vir almal wat al seer gehad het, en vir almal wat HOOP soek. Met ander woorde, elke Suid-Afikaner wat Afrikaans kan praat of Engels kan lees moét ‘n plan maak om hoendervleis musiek, beeldskone beelde, inspirerende stories en tranetrek treffers te ervaar en te beleef met” Agter die Ligte”.

Ek waarsku jou, dis nie ‘n Jennifer Aniston rom-com-fliek nie en dit het níks met “Agter elke man” te doen nie. Dis soveel beter. Soveel meer waarde vir geld en soveel meer waarde vir jou siel. Doen jouself en jou gesin die guns om hierdie naweek deel te word van een van die grootste belewenisse wat Suid-Afrika nóg getref het.

Agter die Ligte by ‘n teater naby jou.

KYK DIE VOORPRENT