Dus, soos laaskeer begin ons gou by ‘n báie belangrike statistiek wat ek weggelaat het. Ja, ek weet nie van die ander mammas daarbuite nie, maar ek het steeds pregnancy brain of porridge brain. Ek vergeet goed, draai my woorde om en sukkel soms met ‘n paar Freudian slips...

Dit daar gelaat, hier volg my inlas, soos daai foto in die jaarblad van iemand wat tydens die fotosessie nie daar was nie.

Baba nommer 1: Weeg 4.12 kg

Baba nommer 2: Weeg 4.34 kg

Baba nommer 3: Weeg 4.56 kg

Baba nommer 4: Weeg 4.78 kg

Dus, soos een leser dit inderdaad genoem het, verbeel jou my 4.78-kg baba kom slapende uit my plat maag geloop in 30 sekondes, met Raponsie se hare... Vir dié van julle wat nie my vorige inskrywing gelees het nie, moet nie worry nie, julle sal nie verstaan nie.

Hier, Dames en Here, begin die nuwe blog dan offisieel.

Kyk, al rede waarom ek dankbaar is vir moeilike ma-wees-tye is omdat dit my verseker van sensasionele skryfgenot. Die afgelope maand het vir seker gesorg vir iets om te vertel. So is 2012 ook amper op sy rug en juis dáár waar ek ook graag in hierdie stadium van die wedstryd wil wees. (Alleen. Moet nie hond se gedagtes kry nie.)

Oktober was dalk nou nie vir my die mooiste maand dié jaar nie. Dit was meer soos die besigste maand! Dis asof ander dames (en ek is nét dankbaar) besluit dis die maand waarin hulle die mooiste ooit wil voel en (ek voel gevlei) aan my deur kom klop het. Ek het ook letterlik elke Saterdag vir 6 weke in ‘n ry by damesoggende gepraat (It’s the season to be jolly.) Enige sprake van ‘n naweek se rus was dus heeltemal uit. Maar dis in elk geval hééltemal uit as jy 2 kinders onder 2 en ‘n half het én jou man is elke naweek, heelnaweek uitstedig.

Die maand skop af met ‘n werksweek in die Kaap. Ek sit met ‘n siek assistent en twee kinders op ‘n vliegtuig met die vooruitsig van mooiweer, asemhaal, die gedruis van die see in my ore en (effense) rus. Nooit in my lewe sal ek weer daai fout maak nie! Die Kaap is ysig en nat en kort voor lank is twee kinders óók siek! Om alles te kroon slaap hulle by my in die kamer, so Mamma speel musical beds in die nag om tussen die beddens rond te skarrel om die een stil te maak wat die ander een wakker maak en vice versa. Kaapse kliënte word met moeë brandende oë gesien en ek mis my man (veral) baie!

My ateljee se teëls het onlangs begin lig en daar word met die bouer gereël dat hulle nuwes kom insit juis wanneer ek in die Kaap is sodat ek in hemelsnaam die stofbuie kan mis. Die dude het seker nog nie my Hannetjie-oë gesien nie... (‘n Eienskap wat ek by my ma geërf het om my oë nóg groter te rek en enige kind of man vinnig op sy plek te sit.) En teen dag 3 in die Kaap deel Heinz my mee dat niemand nog by die huis opgedaag het nie. Ek SMS. Niks. Ek WhatsApp. Niks. En binne my droë moeë brandende oë kom daar skielik ‘n paar ekstra elemente by.

Nou goed, net om almal op dieselfde bladsy te kry, die dagboek lyk so: Ek is van Woensdag tot Woensdag in die Kaap (met siek assistent en siek kinders). Heinz gaan Dinsdag (voor ek terugkom) na Sun City vir Skouspel tot Sondag. Sondagaand is ons vir die eerste keer in ‘n week en ‘n half vir omtrent 2 ure saam, dan is hy Maandag tot Donderdag in Bloemfontein en weer Vrydag tot Sondag in Sun City. Dus amper 3 weke dat ek alleenouer moet speel én dan is dit nog seker 3 van my volste geboekte weke nog. (Ek wil maar net sê, ek het nuwe respek gekry vir elke liewe enkelouer daarbuite, asook my liewe Ouma Cilie Spies wat 6 kinders onder 10 jaar moes grootmaak terwyl Oupa êrens in Afrika op die Sendingveld was.) HOW DID THEY DO THAT?!

Oukei, terug by die verhaal:

Toe ek met my siek moeë kinders by ‘n leë huis aankom, is dit natuurlik nie net leeg omdat my man nie hier is nie, maar daar is nie ‘n greintjie kos of drank tot ons beskikking nie. (Tipies.) Ek moet ook dadelik plan maak om die kinders by ‘n pediater uit te kry, want vir nóg ‘n slapelose nag het ek ná ‘n week nie meer kans gesien nie! Die volgende dag daag Meneer die bouer en sy span so waar as vet op en begin kap, kap, kap. Teen hierdie tyd is my geduld en energievlakke so laag soos dié van ‘n tiener die oggend ná ‘n lang nag se partytjie, en my kliënt moet maar op die stoep gesien word.

Ek het ook nagelaat om julle mee te deel (soos die belangrikste nuus óóit) dat ek op my en my man se huweliksherdenking van 25 September 2012 my affair met die dokter hervat het. Nee kyk, só kon ons nie aangaan nie. Blykbaar (is ek meegedeel) gebeur dit gereeld dat normale geboorte so ‘n groot skok vir jou liggaam is dat jou metabolisme heeltemal stop. Hy gaan nie stadiger nie. Hy stop. My ma s’n het ná my sussie se geboorte weer heeltemal na die ander kant toe geneuk en sy was brandmaer as gevolg van ‘n ooraktiewe skildklier. (Ongelukkig het ek nét haar Hannetjie-oë geërf) Nou vra ek jou, wat kon ‘n groter skok vir my lyf wees as ‘n 4.34 kg-baba wat in ‘n uur en half by hom uitstorm? My bene het ná die geboorte seker nog ‘n uur gelê en ruk soos ‘n dier s’n ... (So, that’s my story and I am sticking to it.) My metabolisme het gestop, en het dus ‘n nudge in die regte rigting nodig gehad om hom weer aan die gang te kry!

Ek het besluit om myself, my metabolisme en my lyf reg te ruk en dit het ‘n reeks gebeure tot gevolg gehad. Ophou borsvoed o.a. (en dít het weer ‘n reeks gebeure tot gevolg gehad soos hormone all over the show), en êrens moes ek daai ou lover van my se nommertjie uitkrap en die gebrande brûe weer herbou. Ek moet sê, ná allerhande shakes en formules was die dokter nie baie ingenome met my nie, maar nou, 5 weke en 7 kilo's later, lyk dit darem of hy dit in ‘n stadium oor sy hart gaan kry om my te vergewe. My man ook.

Dus dames, te midde van die warrelwinde van afsprake, min slaap, enkelouerskap en weer eens siek kinders (what's up met die weer?), is daar één ligpuntjie aan die einde van my Projek 64 (al weer)... Alhoewel, ek sal nét so dankbaar weer vir ‘n Projek 65 of selfs 66 as ek net deur daardie 70-klankgrens kan breek... Ek is darem al nader aan 70 as aan 80! Yay!

P.S. (Gaan my maag óóit weer nié flab wees nie, maar fab??)

Ek hou julle op hoogte.