Jy kan hom of haar gewoonlik nie sien vanwaar jy is nie en dan tref dit jou: hier is iets aan die gebeur want dis heeltemal te stil! En dan, wanneer jy hulle op heterdaad betrap is hulle besig om grootliks droog te maak. (Meeste van die tyd eintlik letterlik besig om NAT te maak, maar dit val ook onder droogmaak.)

Die rede waarom ek met hierdie uitbeelding begin het, is maar net om vir julle te verduidelik waarom ek die laaste ruk so stil was... Ja, ja die laaste paar weke van werk was belaglik besig, en ja, ja my kinders was weer siek, maar al daardie faktore hou ‘n mens besig en uit die kwaad. Hier waar ek egter nou op 18 Desember 2012 sit, is ek stil vir ander redes. Ek maak droog!

Meeste van julle le seker nou lekker met bruingebrande bikinilywe op Suid-Afrika se mooiste strande. Meeste het seker die laaste 3 maande baie produktiewe tyd in Virgin Active deurgebring (wat ‘n vreemde begrip in elkgeval?) Ek weet van baie non-Active Virgins, ja daar is nog ‘n paar oordentelike goedopgevoede dames daarbuite. Daar is Active Non-Virgins, soos al my jong pelle wat onlangs voor die kansel gestaan het, of dan is daar die Non-Active Non-Virgins (dié wat al ‘n bietjie langer getroud is). Maar Virgin Active? Ek weet darem nie. In elkgeval (ek maak weer droog, want ek stel my belydenis-sessie net uit deur aandagafleibaar te wees)

Ek weet dat die gemiddelde Suid-Afrikaanse vrou met minimum logika vir haarself kon uitwerk dat die Desembervakansie om die draai is (was). Dus moet alle gemorskos en luilekker lê-voor-die-TV-sessies vervang moet word met non-fat, non-starch, non-sugar, non- tasting-kos opsies saam met ‘n paar sessies met die Active Virgin.

Ek het probeer, ek het rerig, êrig probeer. My eerste week terug in die gym het ek 4 keer gegaan. Met moeite kan ek bysê om kinders en skedules en aandetes te koordineer met ‘n uur in die gym. In die tweede week het daai Virgin my 3 keer gesien en na ‘n lekker vet verjaarsdagfamiliefees het ek darem ook om die blok gestap, met ‘n 9kg baba aan my lyf. Dus 3.5 keer se oefening. Week 3, mmm laat ek dink, dalk net 2 keer of een keer, êrens het ek tred verloor en begin droogmaak.

Intussen kry baba (weer) bronchiolitis en ouboet sommer disentrie van Johannesburg se gagga water. Die twee siekies is egter troopers en hanteer dit baie goed. Dis ‘n week voor ons die langpad vat Kaap toe. Sondagnag die 9de word ek wakker met Simeon se gegil en toe ek by hom kom is sy hele kot bedek met... wel, iets wat begin met ‘n “B” en eindig met “raaksel”. Dis die eerste keer in sy lewe dat hy so opgooi en hy is hoogontsteld (Glo my, ek ook.)

Maandagoggend so 10 uur is dit weer sulke tyd en ek is vas oortuig hy en boetie het meer as dummies gedeel in daardie tyd. Simi bly heeldag naby mamma se lyf en word goed opgepas terwyl daar opgetas, oftewel gepak word. (Kan ek asb net weer sê: “EK HAAT PAK!”)

Intussen word my oulike sportiewe (kar) wiele ingeruil vir ‘n splintenuwe moedermotor kompleet met spasie en als. Woensdagoggend 12 Desember breek aan, al die tasse, tydskrifte en kinders is gelaai en ons pak die N1 aan met ons nuwe wa. Simeon skater soos hy lag in sy stoeltjie agter my en Lian lyk ook in sy noppies met die opgradering. Later, toe die sitstoeltjie-lyfies al seer was, skuif ons oor na die speelarea agter in die kar. Dis kompleet ingerig met matras, speelgoed ens.

Die kinders lyk doodgelukkig en in my kop dink ek (terwyl ek Simeon op en af laat spring op die matras) wat gebeur as hierdie mannetjie nou besluit om ‘n kat te skiet? Dames, my gedagtes was nog nie eens by my ore uit nie of daai mannetjie trek los: oor my gesig, tussen my borste, oor my klere, my matras, my nuwe moedermotor (goed ingelyf).

Die mannetjie huil sy oë uit en mamma moet hom kalmeer en skoonmaak terselfdertyd (gelukkig is ek ‘n vrou). Uiteindelik is hy skoon en gelukkig(er), maar hierdie mamma sit nog met die gebakte pere, of was dit Purity pere? My opsie: uit met die klere. En daar dames en here sit ek vir 150km in die kattebak (hoe ironies?) van my nuwe kar met gekruisde bene in my onderklere. Nice. En net daar en dan wens ek dat ek alle Active Virgins meer ernstig opgeneem het.

By Bloemfontein kry pappa my tas uit die waentjie en skoner gemakliker klere word aangetrek. Ons is vinnig weer fort en almal is in hulle stoeltjies. ‘n Rukkie voor Colesberg (waar ons oorgeslaap het) is mamma en baba weer in die boot maar ek is (oor)versigtig. Simi sit op my skoot en ons speel met blokkies, geen meer op en af gespring en vakansieliedjies sing nie. Die volgende oomblik voel ek dit warm word op my skoot, en asof ek aan vertraagde reaksies ly is ek amper te bang om te kyk wat dit is.

Ek lig daai mannetjie op en my nuwe skoon klere, die duvet en kussing is beplak met Simi se....wel, passering. Teen dié tyd is al wat ek kan doen om te lag! In Colesberg word daar wasgoed gewas soos in die ou dae, kompleet met ‘n groen koekie Sunlight seep om daai hardnekkige vlekke uit al die besmette klere te kry.

Die aand bring opwinding van sy eie maar die 13de is ons vroeg weer op pad. Teen 12-uur is dit Simi se etenstyd en ek voer hom baie versigtig en stadig (Shame, die kind het skaars ‘n eetlus gehad) Toe ek na ete sy vloeistoffies vir hom wil gee sodat hy nie dehidreer nie, begin daai mannetjie protester en 1, 2, 3 en daai Purity is nie meer so Pure nie. Heinz is bitter teen dié tyd en so opgewerk vir al die uitskeidings in sy (my) nuwe kar, dat hy net daar en dan aftrek en die stoeltjie met sy gebottelde drinkwater was.

Teen 18:00 stop ons by ‘n dokter in Stellenbosch, maar teen dié tyd is niks meer snaaks nie. Ek is moeg, styf, honger en báie geïrriteerd. Die dokter gee die groenlig en 30 minute later stop ons by my ma-hulle in die Strand. Die vakansie kan begin.

Twee dae later is ons Bettysbaai toe en dis hier waar alle onheilighede uitbreek wanneer dit by kos kom, julle ken al die ou stories. Ons het nét vanaand Kersfees se spyskaart bespreek en al wat ek kan sê is: "Bid vir my!"

Vriende, al wat ek weet is, 2012 was vir Aletté-Johanni Winckler ‘n gróót jaar. Letterlik én figuurlik. En Heinz kan wraggies sê hy bly met my getroud deur dik en dun. Letterlik én figuurlik.

Dit was ‘n harde jaar, ‘n moeilike jaar, ‘n leer-jaar en ‘n jaar van bittermin slaap. Maar deur die Here se genade ook ‘n skatryk jaar waarin ons gesin gegroei het, ‘n inspirasie jaar, ‘n jaar van openbaring, kreatiewiteit, entrepeneurskap en wonderlike geleenthede.

Mag elkeen van julle tydens hierdie feestyd aan jou familie vasklou en jou vyande vryspreek. Mag jy onthou hoe Jesus, die koning van die eeue, in ‘n baie vuil stal gebore was sodat ons, Sy kinders, vir ewig kan lewe. Mag ons die grootste geskenk van alle tye vir mekaar gee in hierdie tyd.

En mag 2013 letterlik báie kleiner en figuurlik (nie my figuur nie) báie groter wees!

Tot vroeg in volgende jaar wanneer 1 Januarie “Maandag” is en al daai lekker nuwejaarsvoornemens begin...