My Frikste Frik Jy is my wilgerboom van skaduwee en rus. Jy soek die lewe, soos die wilger se wortels na water soek, en bring dit na my. Jy les my diepste dors. Die spreekwoordelike sak vol sout kan mens seker baie dors maak, maar sonder sout sal die lewe ook weer oes proe. Ek maak ons sak sout oop en weet: daar was genoeg water vir die dors en genoeg om ons lewe te geur. Ons sak vol kinderloosheid het tot in ons diepste menswees kom oopbars. Daardie sout het diep gebrand, maar ons geleer dat ons saamwees meer is as voortplant. Ons het die voorreg gekry om twee saailinge uit die Hemelse kwekery aan te neem en hulle groei vandag pragtig in die tuin van ons lewe. Ek krap ’n mislukte boerdery raak in die sak. Die swaarkry van leë koskaste en swaar harte. Maar ons het geleer dat ons mekaar het, en dat ’n gesin meer is as enigiets anders. Ons het geleer dat alles net geleen is. Ons het oor begin en dankbaarheid en tevredenheid ontvang. Toe kom die kankersak. Drie jaar later raak ek soms nog bang. Wat as ... Ek weet van die snoeimerke aan jou, my liewe eggeboom*, maar jy is hier – diep geanker in die water van die Lewe. Meeste dae is ’n piekniek in ons tuin – ’n viering van jou-wees, ek-wees, ons-wees, saam-wees, een-wees ... Vanjaar is ons huwelik mondig. ’n Diep, volronde cabernet sauvignon.Ek skink uit my hart ’n glasie vol woorde: Weet jy, hoe ek jou ganse menswees indrink en vertroetel? Jou astrante groen oë, daardie sterk, manlike hande. Weet jy, dat ek elke gebaar van jou diep in my hart bewaar? Jou hand wat myne stil-stil soek, dit vind. Jou gevoelvolle mond, wat myne ken ... ’n Heildronk op ons. Vir altyd, Jou vrou *Met erkenning aan die digteres, Saphira, se gedig: My eggeboom