Hoe ry jy?

Mik vir die Somerset Mall ( tussen Somerset-Wes en die Strand) en volg daarvandaan die bordjies na Gordonsbaai en hou kuslangs na Bettiesbaai. As jy die huise van Betties gewaar, moet jy dophou vir die bordjie wat Stony Point sê. Draai regs af en hou aan tot by die parkeerplek.

Wat ervaar jy?

Die pikkewyne se blyplek is omhein, maar jy sien hulle oral op die rotse en tussen die bosse terwyl jy op ‘n hout-wandelpad verby hulle kan loop. In paartyd spat die sand letterlik soos hulle ywerig gate grawe om neste te maak. 

Die pikkewyne (Spheniscus demersus) word brilpikkewyne genoem en het voorheen ook bekend gestaan as Jackass Penguins, juis oor die geluid wat hulle maak wat soos ‘n donkie s’n klink. Die see is hier diepblou en op ‘n mooi dag sal jy ‘n hele ruk hier wil deurbring.

'n Kolonie pikkewyne2 pikkewyn-maters

Waarheen vir middagete?

Die nuwe hawe-gebied van Kleinmond, net langs Bettiesbaai het verskeie eetplekke en met iets vir almal. Daar’s ook oulike winkels, ‘n kwekery en kunsgalery, maar as jy wil piekniek hou, mik vir Kleinmond se strand met sy mooi groen grasperk.

Nou vir die appelboorde

Ry van Kleinmond in die rigting van die N2 en hou dop vir ‘n bordjie naby die Arabella-landgoed wat Highlands aandui. Draai hier links af op ‘n grondpad. (As jy van die N2 se kant na Kleinmond aangery kom, word die afrit as Viljoenshoop aangedui). Volg die grondpad (nie te sleg of te rof vir ‘n gewone motor). 

Die pad kronkel teen die koppe uit, verby ‘n denneplantasie. Bo het jy ‘n mooi uitsig oor die appelboorde. Volg die pad verby al die plase en plaas-skole. Uiteindelik sluit jy weer by die N2 aan.  

Draai links as jy Kaapstad toe wil gaan om regs as jy wil terugdraai na Kleinmond of Hermanus.
Die roete neem nie te lank nie, maar ‘n mens ry noodwendig bietjie langer as op die teerpad. Dis ‘n interessante alternatiewe roete om te ry as jy vir ‘n daglank toergids moet speel.

Uitsig van die grondpad by Grabouw

- Alida Vos

Alida Vos