...toe die uitnodiging in my e-posbus land het ek dadelik geantwoord.

Halfaampieskraal, 'n Overbergse plaas , het ek lank gelede leer ken toe 'n span van ons vir 'n Leefstyl-bylae van SARIE daar foto’s geneem het, en gelukkig was om ook oor te slaap. 

Die baas van die plaas Jan Georg Solms, het ons gul ontvang en op heerlike eetgoed trakteer terwyl ons foto na foto van al die interessante vertrekke in die ou karaktervolle plaashuis geneem het.   Met die jare was daar nou en dan kontak tussen ons, want 'n boer soos Jan Georg en 'n plaas soos Halfaampieskraal vergeet jy nie sommer nie.

Deesdae is daar  wonderlike gasteverblyf  hier . Troues en funksies word  in die Kubaans-geïnspireerde Club Havana (voorheen die skuur en stalle) aangebied.  En as daar hier feesgevier word, word 'n rooi ster op die plaas se naambord geplaas sodat die bure weet wat aangaan. Maar op Halfaampieskraal is gaste verseker van Jan Georg en sy vennoot Cobus Geldenhuys se persoonlike aandag en lekker kos.  

Skryfster Maia du Plessis het op die plaas beland toe sy op soek was vir 'n trouplek vir haar suster. Dit het haar nie lank geneem om te  besef die plaas, die dekor, plaaslewe,  sy mense en bedrywighede  moet 'n boek word nie.

By die boekbekenstelling het die fotograaf Simon Scarboro vertel hoe hy moes bontstaan om alles wat op die plaas in 'n dag te gebeur te fotografeer. Min stilering is gedoen, volgens hom en sy taak was net om dit wat voor hom afspeel “vas te vang.”

Dis wat die boek so spesiaal maak – dis ingedeel in verskillende hoofstukke van spesiale geleenthede en by elke afdeling is daar van Jan en Cobus se lekker resepte.    

Groete

Alida Vos.

Halfaampieskraal vier fees word deur Human en Rousseau uitgegee en kos R265.