My Liefie,

Wanneer laas het ek vir jou ’n liefdesbrief geskryf? As ek moet raai, was dit toe jy nog “my Engel” was. Ek onthou hoe Giel my altyd gespot het wanneer ek jou “my Engel” genoem het. Dan het hy altyd gesê:
“Engeltjie, Duiweltjie, Dief”.

Nie dat dit ooit verkeerd was nie. Ek meen, as ek vandag terugkyk na ons lewens, besef ek dat jy eintlik
’n engel is. Wie sou, ná alles wat ek aan hom gedoen het, nog steeds só lief wees vir my? Tot vandag toe
nog dans die duiweltjies in jou oë, veral as jy die aand vir ons kos maak en speels die spyskaart bekend
maak, of speels aan my klere trek. Dief? Dit was jy van dag een af toe jy by die bokjol voor die ander vryer
ingeduik het en met ’n grasieuse buiging my gevra het om te dans. My hart was onmiddellik gesteel.

Min het ek toe geweet dat die keuse wat ek daardie aand gemaak het om eerder met jóú te dans, ’n
blywende, lewenslange besluit sou wees waaroor ek nóóit spyt sou wees nie.Om die ja-woord te gee
vier jaar ná ons ontmoeting, was net ’n bevestiging van dit wat daardie eerste aand reeds in my hart
gebeur het. Die studentelewe daarna was vol pret, maar ons het ook saamgesit en hard gestudeer.
Dit was vir my ‘n voorreg om my studentejare saam met jou te deel.

Jy het vir my die pragtigste drie dogters gegee. Jy het nooit geskroom om vir ons net die beste te gee nie.
In die vet sowel in die maer jare het ons meer as genoeg gehad. Jy het nooit geskroom om self tekort
te skiet nie, net sodat ek en die kinders die beste kon hê. Soos nou wat jy bereid is om met die ou Tazz
te ry en vir my jou luukse-modelletjie te gee.

Dit is net vir my absoluut wonderlik hoe die liefde werk. Dit was en is sekerlik nie net altyd maanskyn en
rose nie. Maar die liefde is soos 1 Kor.13 sê: ... dit is geduldig, vriendelik ... dit hou nie boek van die kwaad
nie, dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

As my gedagtes terugloop na die verlede, onthou ek net die mooi. Jou soene wat tot vandag toe nog
my knieë lam maak. Jou gesig as jy ná ’n misstap kom witvoetjie soek, jou gewilligheid om te help met
die kosmaak toe die kinders gebore is, en om te help met die opstanery snags.

En wie het soveel nuwe planne soos jy, my Lief. Jy sien altyd ’n geleentheid raak, en maak werk daarvan!
Soos ek altyd sê: “Never a dull moment.” Wat my hart die warmste laat klop, is jou geestelike groei oor die
jare en jou hartklop vir die mannebediening.

My Liefling, as ek kon sing, sou ek elke liefdeslied op aarde vir jou sing. Dankie dat ek maar in jou kaste
mag krap, op jou kredietkaart mag koop, ek weer jou motor mag stamp, oor jou gevoelens mag loop,
weer my hare mag kleur en oor my plooie mag brom. Dankie dat ek dit nog altyd kon doen en steeds mag
doen, en dat jy my steeds lief het.

Ek het jou oneindig lief.