My liefste Mlobi Ek het vergeet hoe om te lewe. Om die fokus te verskuif van oorlewing na die dinge wat die siel voed. Om musiek te maak en te dig en woorde te skryf en nuwe musiek wat in my kop rondwaai in notebalke neer te pen en om ’n kwas op te tel en ’n verfhaal oor ’n doek te trek; om kaalvoet te stap op die sypaadjie, op die pavement te sit met slaptjips en Coke en te lag en te lag en te lag oor die wonder van die lewe.   Toe ek onbevange jonk was, het ek baie en hartlik en oopmond gelag. My lag het min geword. Ek te ernstig. My bestaan omvorm deur dinge wat ek moet doen – oorlewing!  Sielsverkramping. Ek het vergeet wat dit is wat my laat tick, hou te veel terug, die bang vir seerkry altyd maar daar. Skulp-toe. Grendels dig gesluit. Nee, net nie waag nie – netnoumaar ... Verdomp! Afrikanerisme is ingebed en ingeteël in my grein. Maar ek wil nie gal braak nie, want gal is bitter en maak my hart koud. Eintlik wil ek jou vertel dat dit goed gaan, dat die genade elke dag gróót is. Dat alles wat ek het en is nét genade is. Ek aanvaar niks meer op aarde as vanselfsprekend nie. Nie werk, gesondheid, kinders, liefde, geluk, brood op my bord of wiele om mee te ry nie. Want ek het geleer dat die veranderlikes in die lewe net te groot is. Dat die enigste ding wat saakmaak die ek binne die my is, wanneer ek kaal gestroop van aardse dinge bakhand-bedelaar van die Lewe is. Dit wie ek binne-in is. Die enkele een wat nakend staan teen die lewe. En so leef ons voort sonder kaart of transport op aarde, op reis na die Ewige, soekend na sin. Ek wéét van die dinge van die lewe. Ek hoop ek weet genoeg, want om eerlik te wees wil ek nie baie meer weet nie, daar is te veel oopgekrapte wonde en uitgesteekte oë en te veel ore ... Tog word ek getrek na die lewe soos ’n mot na ’n kers, en soos my metafoor sal ek ook sterf in hierdie “verligting”. Ek bly ’n “met wondervervulde realistiese optimis wat soek na die onopspoorbare en reis na die onbereikbare ...” En tog, en tog ... Vanmiddag op pad huis toe ja’ die wind die wolke oor die uitspansel aan en bondel hulle saam in ’n swanger massa van belofte wyl die aarde in spannende afwagting wag vir die lafenis. Ek wonder of jou liefde ook ’n dor lewe sodanig kan voed dat die harde korse oopgebreek kan word tot ’n malse blom van vreugde en lewe? My woorde is min. Dit raak stom wanneer ek aan jou dink - en sukkel ek worstelend om dít te verwoord wat in my binneste se wegkruipkamers vér-ver toegesluit is ... Durf ek droom?  “Dis tevergeefs!” fluister my verstand. “Hoop beskaam nooit!” fluister my hart. “Jy is 43 en hy 30!” fluister my verstand. “So what?” sê my hart. Hoe op aarde het dit gebeur dat die somme maak nie wil uitwerk nie? Dat een plus een gelyk is aan drie. Emosies. Diggesaaide gedagtegange, verwarrende belewenis, wéérloos! Soms is die verlange na jou so intens dat dit ’n fisieke pyn in my sielsgebeente raak en stap ek oral met jou rond in my lyf. Ander kere verlang ek om net ’n oomblik my voet te laat rus op die drumpel van jou lawende vriendskap, ’n oomblik se magic te ervaar in die harwar van die lewe. En eintlik wil ek sommer net myself in ’n bondel krul en aan jou voete sit en net wéés. Wat sal jou Ma sê? En my kinders? Hoe sal die samelewing ons nie kruisig en soetsappige stories saamflans om in die oggend saam met koffie op te dis aan elke gewillige oor wat wil luister nie?  Ek verlang na die stiltes in my binneste waar ek voor jou venster gestaan het, die berg deinserig in die agtergrond, die see sommer hier neffens my voete, wingerde, bome, vrede en jy wat êrens besig is om met twee vingers briewe te tik. Daar is ’n band wat ons bind, dikwels die enigste sin in die onsin. Soms droom ek van arms wat my onverwags van agter omvou, weerkaatsings in die kombuisvenster van soekende lippe, oë wat met liefde dieper weerlooshede raakkyk en hartskamers se koue slotte wat ná droogtejare in jubeling oopbreek. Verbeel my vanaand ek hoor hoewe wat klap op die plaveistene van die kompleks en ek wéét, om te droom is nooit tevergeefs nie! Verlangend na jou. Jou Mandi