Ralph,

Ek het vanmiddag in Potch aangekom, effe vuisvoos ná die Cultivaria-fees en soos altyd 'n bietjie triestig van nostalgie en verlange. Want Potch is waar ons mekaar die eerste keer ontmoet het, Ralph. Voor die stadsaal. Ek het met 'n bus uit Johannesburg gekom, want my vriendin Anne, wat later jou vrou sou word, het gebel om te sê sy wil hê ek moet haar trouman ontmoet.

Ons het so lekker gekuier daardie naweek! Jy het vir my Billy Joel-liedjies op die klavier gespeel en gesing en ons het vir ure gesels en in die veld vol sonneblomme langs jul huisie gestap.

Ek het op julle troue vir julle "Kinders van die wind" gesing. En die woorde halfpad vergeet.

Jare later, toe julle jul seuntjie, Reuben, vir my in Kaapstad kom wys het, het ek nooit vermoed dat jy die land op sy kop sou keer met die Voëlvry-beweging nie. 

Maar jy het - en Afrikaans het vry geword. Ons kon vir die eerste keer ons kop oplig en voel dat ons taal en musiek 'n doel dien, dat ons grense kan verskuif en vir niks in die wêreld hoef terug te staan nie. 

Ek was by jou toe jy uit die closet geklim het. Hoe weerloos was jy nie - maar ook dapper en sonder verskonings. Ek was by jou toe jy jou minnaar aan die dood moes afstaan. Ek was daar toe jy Koos Prinsloo verwoed met die vuis bygekom het omdat jy gekrenk gevoel het oor sy uitlatings in "Slagplaas".

Jy was altyd daar vir my. Deur my depressiejare was jy een van die min mense wat my altyd kom opsoek het. Menige Sondag het jy met jou fiets van Gold Reef City se kant na Westdene gery met blomme, wyn en brood en my kom verras by die Westdene-dam. Dan het ons op ons rug na die swaeltjies gekyk wat huis toe kom. G'n woord was nodig. Ons kon stil wees saam.

En dan moes ek jou natuurlik, fiets en al, terugry huis toe. 

En hier is ek in Potch, 2010, dis weer Aardklop, ek bly in dieselfde hotel, dieselfde kamer waar jy en Dimitri altyd gebly het. Ons doen 'n produksie met die Potchefstroomse Universiteitskoor en orkes, getiteld Persreën. Hulle maak so mooi, Ralph. Die eerste keer toe ek hulle hoor, het ek besef dat jou musiek tydloos is. 

Dat jy vir ons 'n musiekskatkis gelaat het wat nooit sal oud word nie. Dat "Halala Afrika" volksbesit geword het. Selfs my gehore in Nederland juig die lied staande toe wanneer ek dit daar sing.

So bring "Hillbrow" steeds trane in ons oë. En laat "Ossewa", "Persreën" en "Sit dit af" ons steeds dans. "Hoe ek voel" is die mooiste liefdeslied in Afrikaans en "Somer" maak almal week wat luister en jóú Kaapstad beleef.

Ek open die produksie Persreën met 'n lied wat ek ná jou dood vir jou geskryf het. Ek wens jy was hier om die produksie te sien en hoor. Die universiteit wat julle destyds met die Voëlvry-beweging weggejaag het, vereer jou na dese as een van hul GROOTSTE seuns!! Oukei, hulle sensor steeds van jou lirieke, maar laat ek nie daaroor uitwei nie.

Iets voel vir my dat jy wel hier is. En luister. En instemmend knik. Hier is my lied vir jou waarmee ons die produksie open. Terloops, daar is 'n YSLIKE GROOT skildery op 'n agterdoek van jou wat alles gadeslaan. En by tye kan ek sweer dat dit leef.

Ek het gedroom

Ek het gedroom jy't opgestaan uit jou dood
en aan my deur kom klop soos altyd, met blomme wyn en brood
Jy sê ek moes net vinnig wegkom, en jy maak die bottel oop
ek is jammer oor die drama, maar dis die pad wat ek moes loop

En jy gaan sit op die rusbank, en glimlag verleë
my mond is droog, my hande beef as ek die glase vir jou gee
Het jy enige idee hoe ons gevoel het oor jou dood?
Jy was selfsugtig, jy was wreed - jy sê: Miss Mandy, sny die brood

En so hard soos ek probeer, kan ek nie uit die droom ontsnap
En ek sê vir God: Meester, hierdie droom is 'n siek grap
Maar hier sit ons op my rusbank, jy kyk my in die oë en jy sê
ek moet vir altyd in die liefde bly glo
Jy sê ek moet vir altyd in die liefde bly glo

Ek skink die wyn, sny die brood, ek sit die blomme in 'n pot
terwyl jy giggel oor die knipsels uit die Beeld en die Rapport
Daar's meer, sê ek, lees Marie Claire en die Huisgenoot
En Litnet het ontplof met huldeblyke na jou dood
Van Amsterdam tot Sydney is daar oor jou gerou
En RSG speel sedertdien elke dag 'n lied van jou
By 'n uitstalling in Oudtshoorn oor jou lewe en jou werk
Het die mense kom kyk en huil – dit was heilig, soos 'n kerk

Dan sit jy jou bord neer, lê jou kop op my skoot
Jy sê: "Moenie hartseer wees nie, ek is nie regtig dood
Solank jy my onthou, sal ek lewe in jou kop
en net jy kan besluit om die herinneringe te stop
Miss Mandy, onthou jy hoe't ons Saterdae geloop
deur Hillbrow se strate, ons was jonk en so vol hoop
En onthou jy die pub lunch in die Chelsea-hotel
Ons het die slegste bord vis en tjips op aarde bestel

En jou gesig begin verdoof in die strale van die son
en waar jy op my skoot gerus het, lê 'n blou ballon

En ek weet dat jy moes terugkeer na die ander kant
waar jy altyd jonk en vry sal wees en die lewe jou nie brand
waar jy altyd jonk en vry sal wees
en die lewe 
jou nie brand

(Lirieke: Amanda Strydom. Musiek: Amanda Strydom en Juan Oosthuizen.)

Amanda Strydom het ook eksklusief 'n kortverhaal vir SARIE geskryf.