Bokkie, ek kry jou altyd by die see. Selfs in jou gedagtes. Jou drome. My liefste man van die see
Kan ek die stilte vir jou gee?
Die sand wees op jou vel?
En slaaptydstories vertel?
Ek dink vandag aan jou en aan die groot trek wat voorlê. Soveel nuwe ervarings wag en wink. Ek wonder of jy ooit kan verstaan hoe jy my laat voel. Die sagte warm gevoel soos ’n sonskyndag se totsiens-strale. Wanneer als net reg is, nie te veel of te min nie. Soos ’n stomende koppie melk-milo op ’n koue wintersdag met een lepel suiker. Varsgebakte brood nou net uit die oond met klonte botter wat smelt. Die afwagting net voor jy ’n onverwagte pakkie oopmaak om sy inhoud te ontbloot. Onthou jy toe ons laatmiddag die dag gaan groet het op die strand? Die warm kleure wat ons toevou soos ’n kombers. Robynrooi wyn en ’n vuur-oranje dak oor ons kop soos die dag al hoe minder raak. Stilte en saamwees sonder die mengelmoes mense wat gewoonlik die sand onder hulle voete kom sit. Net ons en ons kroos wat sonder gedagtes van kommer die golwe soos ’n koue arm om hulle voel. Elke oggend as ek my oë oopmaak kan ek nie ’n oomblik wag om om te draai en jou te sien nie. Jou warm slaapvel onder my arm te voel as ek jou styf teen my hou om my lus vir die dag te kry. Bontrooi skoenlappers en bloues fladder nie net in my maag nie, maar sommer die hele kamer vol. Jy’s my natuurlike vitamiene B en jou mond is my ‘Red Bull’. Jy’s my lagmaat en bors om op te huil as die dag se belt my knel. Ek bewonder jou sterk gemoed  wat my rustig maak as ek soos die hoender op die plaas rondhardloop wanneer die kat hom jaag. Net jou kyk laat my stop en dink en vergeet van die angs wat nou net my hele bors volgemaak het. Ek kan weer asemhaal en lag vir die banggeit wat netnou nog my oë wou wasig maak.
Ek geniet dit om saam met jou te lag. Sommer oor niks. Of oor iets. Jy laat my ook vir myself lag. Ek voel aan wanneer jy met ’n skalkse glimlag na my staar as ek verdiep raak in ’n fliek en frons of ’n skelm traan probeer wegvee. Jy maak my laf soos ’n kind wat nog nie weet van begrotings en die petrolprys wat styg nie. Ons kan mekaar kielie en rondjaag en spuit met die kinders se watergewere tot hulle nie meer weet of hul ouers nou heeltemal van die werklikheid vergeet het nie. Daardie oomblikke maak my hart vol en warm en hou my staande wanneer my dag nie so lekker verloop nie. Wanneer hy mank is en koponderstebo staan en wonder waarom alles nie makliker kon wees nie. As ek huil en jy hou my vas sonder ’n word, kan ek snik net omdat daar nog trane is. En al weet ek nie eens hoekom dit dan nou so reën in my hart nie, vra jy nie hoekom nie, jy is net daar langs my sonder om als te ontleed en te frons oor ek so simpel is. Ek’s veilig by jou en ek’s nie eers bang vir die donker nie, want jy is my held met die wit perd en groot swaar swaard wat woes keer dat enigiemand naby my pyn kan kom.
Ek het jou lief soos die oseaan. Ek sal my Lindt-sjokolade met jou deel. ’n Bottel Diemersfontein Pinotage smaak nie dieselfde sonder jou nie. Jy mag maar my boeke se ore omvou en my glase breek. Jy kan maar selfs in my handsak krap en my sjampoe leen. Net omdat dit jy is.  My man van die see
Kan ek die stof in jou kamer uitvee?
Kan ek die sout proe op jou wang?
En die wind vir jou in my vingers vang?
Jou strandvrou