My Manste Man Jy het vanoggend Pa-Man geword toe jy ons wit handdoekbondel dogtertjie in jou bruin hande toegevou het. Ek het gekyk hoe jy die keisersnit aan die anderkant van die skerm met versigtige verwondering gevolg het en, toe Poppie boudjies eerste die wêreld inbars, het ’n saligheid en verwondering oor jou gesig getrek soos die son wat opkom. My hart wou bars van liefde toe jy pou-trots vertel hoe jy haar haar eerste bad gegee het en ek sal vir altyd onthou hoe ons uur-oue dogtertjie vir die eerste keer op jou bors aan die slaap geraak het. Jy het so gehoop dat ons eersteling “Pappa se bulletjie” gaan wees. Ek weet jy het jou rugbybal- en karate-drome stilweg weggebêre toe die sonar Poppie se koms aangekondig het. Vandag kon ek reeds in jou oë, jou hande en die buig van jou lyf sien dat ons prinses haar Pappa se hele hart vol lê. Ek dink vanaand terug aan ons troudag, toe ek met my pêrel-hare, perfekte skoene en vrolike bos blomme in die paadjie afgetrippel het na die aantreklikste man in die kerk, oortuig dat my liefdesbeker tot boordens toe vol is. Min het ek geweet op hoeveel onverwagse maniere ek hierdie splinternuwe bruidegom van my nog sou liefkry! Op ons huweliksnag het jy Minnaar-Man geword en vandag kan jy nog steeds my hardnekkige swangerskap-bultjies in verleidelike kurwes verander met jou sagte hande en warm oë. In die ongenadige buislig van Woolworths se aantrekhokkie ween ek oor my bene wat soos ’n padkaart met haelskade lyk. Ek besef met leedwese dat die enigste manier waarop ek my lyf suksesvol sal kan verkoop, per kilogram sal wees. Ek weet egter dat ek in jou oë altyd ’n perfekte tien sal wees. Dankie vir jou onvoorwaardelike bewondering (en jou selektiewe blindheid!) Jy, Hart-Man, het verlede week ’n derde (onnodige!)grasbesem in die motorhuis gaan bêre omdat die besem-vrou verwese en moeg gelyk het en haar twee kinders onder ’n bos teen die son geskuil het. Met jou groot hart en oop hand gee jy my daagliks ’n kykie in hoe ons wêreld eintlik moet wees. Jy is my Lekker-Man wat peri-peri pizza eet vir ontbyt, stout raak oor ’n stukkie fudge en ’n derde stuk peppermint crisp-tert eet “net sodat dit nie sleg word nie”. Jy is beter as Prozac en meer effektief as Rescue Remedy. Wanneer jy lag dat jou neus opkreukel en jou oë toegaan, verdwyn elke donker wolkie op my horison! Ons lewe was egter nie altyd fudge-lekker of opkreukel-snaaks nie. Toe jy jou werk verloor het net ná ons troue en ek ten hemele wou skreeu oor die vernedering en die seer wat jy moes deurgaan, het jy, Priester-Man, op jou knieë gegaan en ons gesin se ware nood van God afgesmeek. Jy is elke dag my kompas wat onderskei tussen belangrik en bloot dringend. Jy gee koers aan ’n bestaan wat andersins ’n afkop-gejaag na klatergoud sou wees. Al moet ek bedags ’n staalharde beroepsvrou wees, koester jy my steeds in jou arms en in jou hart. Ek kan op ’n wintersaand agter jou rug inkruip en my tien ysblok-tone in die waai van jou bene warm maak. Ek kan koffie met warm melk by jou bedel en op jou skouer slaap wanneer ons saam my chick-fliek kyk. As die wêreld te veel word kan ek maar onder jou blad inkruip en op jou skouer huil, al maak ek jou ore nat! Jy is my Suiderkruis, my anker en die tweede duik in my kopkussing. Ek wil elke dag van elke maand van elke jaar langs jou wakker word, vir die res van ons lewens. Ek is lief vir jou! Jou Rooikop