Bokka ’n Liefdesbrief net vir jou om ons 10 jaar van saamwees, eenwees, menswees te gedenk en om te sê hoe verskriklik dankbaar ek is dat jy my lank terug gevind en liefdevol weer heel gemaak het. Jou rustige en positiewe siel het die beste in my gevind. Jy, as gestremde, leer en wys my daagliks dat ek móét, mág en kán voluit lewe. Omdat ek ’n stadsmens was en jy ’n plaasmens, het jy die hunkering na ’n plekkie in die natuur in my hart verstaan en baie hard gewerk om ons aardse paradys mooi te maak. Die fondasie is uit rots gebeitel. Nou kan ek op ’n koue wintersnag van jou ’n teddiebeer maak in ons nessie langs die rivier. Dankie dat jy terugslae en teleurstellings saam met my oorkom het, en my met jou unieke lewensdrif saamsleep en net aanhou voortbeur. Jy, wat saam met my lag en huil oor “ons” kinders en kleinkinders, ons lief en leed. Jy is my hart se punt en het my ’n gelukkige, volkome vrou gemaak. Jy, wat Katie, my geliefde hondekind, in die huis net ter wille van my duld en nie skaam is om vir my Ma te wys en te sê dat jy my liefhet nie. Jy, wat die Here saam met my dien en liefhet, en ondanks alles nederig en dankbaar bly. Ek het jou baie lief. Ek wil graag ook vir jou sê jy is my lig elke dag. En wanneer die duisternis jóú eendag heeltemal omvou, sal ek sterk genoeg wees om jou lig te wees en jou hand styf vas te hou.

Ek is so bly jy het my gekies om lief te hê. Jou gogga