Godgegewe liefde ...
Soos ons ontmoeting, so is ons dae. Elke dag saam met jou is ’n vreugde en elke oomblik saam met jou bied my vrede. Dieselfde vrede en wete wat ek ervaar het daar in my ou padstal toe jy in my lewe ingeloop het. Geen droomman-“checklists” meer nie! En die vyf dae se opwinding tot die verlowing en die byna vyf maande tot ons jawoord-dag was vol afwagting, sonder vrese.
My wettige man ...
Prentjies vanuit ’n droom. Die prentjies in my gedagte van ons jawoord-seremonie sal nooit kan verflou. Hoe jy op die rivierwal staan en wag, met Barberton daisies spesiaal vir my en ’n breë glimlag wat verander in laggende snikke met trane oor jou wange, soos ek naderkom. Jou mooi soet stem en glinster in jou oë, toe die antwoord byna te vinnig oor jou lippe val. En die prentjie vanwaar jy die familie en gaste uitnooi om vir ons te bid en so deel te raak van ons eie familie. Die prentjie van sand aandra vir ’n sagte paadjie vir my voete se stap na jou toe, sal ek nooit vergeet nie.
Gordyn ...
Dankie skat, dat jy my beskutting is in die huisie van glas. Jy vou my toe in liefde elke dag en nag. Beskerm my teen die houe van die lewe. Troos waar die hou klaar toegedien was, en jy nie by was om te kon keer nie. Jy is my gordyntjie waaragter ek skuil, van waar ek kan loer vir al die nuwe geleenthede wat wag.Dankie dat ek jou altyd kan vra om ’n ogie oor my te hou.
Pappa ...
Waar die diere kinders word. Jou liefde vir ons dierekinders is inspirerend. Dankie vir ons twee stout "honde-dogtertjies", Joy & Faith, se geduldige pa. En groot dankie vir die twee nuwe aangenome "kinders" Eeyore, ons spanjoel, en Franny, die gemmerkat. Nou gaan ek met vrede uitkyk vir eendag, vir daardie kloklaggie van ’n trippelende tientoontjie, as dit ons so geval.
Manlief ...
Dankie vir oomblikke saam met jou wat so maklik deelbaar is met vriendinne. Jy is ’n inspirasie. Ek en jy besluit mos toe om nou en dan etes meer interessant te maak deur nuwe resepte te probeer. Vra nou ’n vrou met ronde handjies om ’n resep te probeer! Maar gewillig om jou hart bly te maak doen ek toe maar so. Hulle sê mos: As jy kan lees, kan jy enigiets doen. Dit was toe ’n sukses, al was die kaas bo-oor die paprika in plaas van andersom en die ete genoeg vir 6, al is ek eintlik op ’n dieet!
Boesman ...
André,jy is vir my soos ... jy. Bly altyd jy – jou standvastigheid in God, jou “van nature romantiese jy”, my beskermheer, valmat en rusplek. Pappa van ons "kinders", eregas aan tafel, luisteraar en dokter van my hart. Vir ’n man alles raar, maar van jou alles waar.
En die belangrikste van alles – myne vir altyd. Ewige liefde Van jou Padstal-pie, Prinses en Peperkorrel *Die Liefdesbriefkompetisie is gesluit.