My liefste Henk Elizabeth Barrett Browning sê:“How do I love thee, let me count the ways ...”.  My liefste man, kom ek vertel vir jou hoe en hoekom ek vir jou lief is. Ná 33 jaar se getroude lewe ken ek jou binne en buite, soveel as wat een mens ooit ’n ander een kan ken. Ek het ’n respekliefde vir jou – ná soveel jaar het ek steeds die grootste respek vir jou vir wie jy as mens is. Ek dink steeds jy is die beste voorbeeld van ’n daad-Christen wat ek ken. Jy is ook die onselfsugtigste mens wat ek ken. Ons een kind wat in daardie opsig na jou aard, gaan lyk my wel daardie plek met jou deel! Daar is so baie wat ek van jou waardeer – dis my dankbaarheid-en-waardeer-liefde vir jou. Ek het jou lief vir jou intelligensie, algemene kennis, insig, liefdevolheid, praktiese aanslag, handigheid, eerlikheid, hardwerkendheid, betroubaarheid, onkreukbaarheid en kreatiwiteit. Jou manlikheid met beide jou krag en sagtheid was nog altyd vir my baie aantreklik. Ek geniet jou skerp (en soms minder skerp!) humorsin – ook die manier waarop jy kan skud van die lag wanneer jy ’n ou simpel grappie maak. Dit is vir my lekker dat jy my steeds terg soos die tyd toe ons uitgegaan het. Ek kan die lagduiweltjies in jou oë sien dans nog voor jy iets sê wat jy hoop reaksie by my gaan uitlok. Ek waardeer die baie goed wat jy vir my en ons kinders doen. Ek onthou hoe jy toe die kinders klein was, leeu-leeu en arend-arend met hulle gespeel het en die oulike Slonster-Monsterstorietjies wat jy opgemaak en vir hulle vertel het. Soms het ek gewens jy kon my pa ook gewees het! My liefste man, ná ons kind se dood het ek nog ’n jammer-seer-liefde vir jou bygekry.Ek het gesien hoe jy ná haar dood effens mank begin loop het, hoe jou pragtige vol lippe dun geword het, asof jou liggaam die smart wat ons albei voel fisiek moes uitdruk. Ek het jou gesien ruk van snikke, ek het gesien hoe stukkend jy is – jy wat nog altyd so sterk was en enige krisis kalm hanteer het. En weet jy, ek is dankbaar dat jy kan huil. Dit sou vir my bitter moeilik gewees het as jy al jou emosies iewers in ’n kluis opgesluit het sodat ek dit nie kon sien nie. Ek is dankbaar dat ek in hierdie grootste krisis in ons lewe nie vir een oomblik getwyfel het dat ons huwelik dit sal maak nie, ten spyte van wat statistiek vir ‘n mens sê oor hoeveel huwelike in ’n egkeiding eindig ná ’n kind se dood. Dit bring my by my veilig-voel-liefde. Ek wéét ek kan jou vertrou. Ek weet ook dat wanneer ons vassit oor iets, ons op een of ander manier dit uitgesorteer sal kry sonder dat ek of jy voel die ander een wen altyd ’n geveg.  Dit is kosbaar! Saam met die basiese veilig-voel, het jy my ook my eie grense laat strek. Dankie dat jy vir my wat eintlik maar ’n regte ou bangbroek is, gehelp het om die avontuurlike sy van myself te ontdek. Een of ander sanger het in ’n ou liefdesliedjie gesing “I love you for what I am when I am with you”. Ons elkeen is ’n getuie van die ander een se lewe – jy sien en beleef my op my beste en slegste tye. Dankie dat jy my steeds liefhet en onvoorwaardelik aanvaar. Ek is wie ek is as gevolg van die manier waarop jy my geslyp het en glo vandag aan myself as gevolg van jou liefde en aanvaarding – dankie daarvoor! Ek het jou oneindig lief!

Jou vrou