Toe ek die foto’s van prins William en sy Catherine saam met die Obama-egpaar sien, het twee  vrae my kop ingebars. 

Hoeveel gewig gaan Catherine nou nog verloor? En het Michelle Obama haar romp gecolour code met die stoeloortreksel in daardie betrokke vertrek in die Buckingham-paleis?

Dit lyk darem of Catherine en Michelle lekker gesels het. Dalk oor die troue? Michelle wou mos alte graag na die troue genooi word, maar omdat dit nie n volle staatsplegtigheid was nie, is staatshoofde soos die Obamas en Sarkozys nie genooi nie. (Wens ek was n hofknaap in daardie vertrek gewees toe die twee styl-ikone mekaar ontmoet het!)

Ewentwel, die arme koningin se ontmoeting met die Obamas is toe amper vergete met die ontmoeting tussen die jong koninklikes en die Obamas. William met sy al minder wordende kroon, en Catherine met hare wat nie uit haar gesig wil bly nie, het die web omtrent aan die twiet en facebook gehad.

Tog, koningin Elizabeth en haar een kleindogter, prinses Beatrice, het die afgelope week by die Chelsea-blommeskou 'n draai gemaak. Die koningin het verruklik gelyk met 'n swart net om haar netjies gekapte kapsel, ewe met swart lintjies versier.  Modieus vir n dame van oor die tagtig! En wel, Beatrice se Pretzel-trouhoed is gelukkig nie meer in haar kas nie, so sy het ook heel beskaafd gelyk. Ek het nogal gehoop Lady Gaga koop die Pretzel en span dit op haar een van vreemde vertonings in...

Maar terug by Catherine, wat een van die dae haar eerste amptelike besoek blykbaar sonder lady in waiting gaan aandurf. Catherine hou van alles sélf doen. Haar klere uitsoek, hoewel haar ma haar raadgee, eie grimering doen, en ook haar eie hare stileer. Hopenlik gaan prins Edward se vrou, Sophie, die hertogin van Wessex, tog saam om raad te gee en dalk te help voete vryf. Want om die hele dag in hemelhoë spykerhakke rond te loop en hand te skud kan ook nie maklik wees nie. Daarby is Sophia natuurlik 'n PR-ekspert...

 Te oordeel na die Reiss-rok wat Catherine met die Obamas se besoek gedra het, sal haar kleredrag op dié Kanadese besoek geen verrassings inhou nie, maar eerder voorspelbaar eenvoudig en baie klassiek wees. Sy speel altyd veilig met haar kleredrag, des te meer noudat sy met die tweede aanspraakmaker op die Britse troon getroud is.

Catherine se styl herinner my heelwat aan prinses Laetizia van Spanje en koningin Rania van Jordanië. Beide kan altyd deur n ring getrek word, maar o wee, hulle is darem net té maer. Amper lolliepop-maer.

Ek mis nogal die Kate van ouds met die rooi wange, borsmaat wat sigbaar was en welgevormde kuite.

In die Sarah Burton-trourok het die boeseltjie agter en uitklok-romp haar al krimpende lyf goed weggesteek. Ná die afgelope week se foto’s is dit vir my duidelik dat om twee rokgroottes aan só n klein lyfie te krimp, dalk net-net te veel is.

Liewer dan soos kroonprinses Victoria van Swede wat ná haar stryd teen anorexia nou n gesonde gewig handhaaf.

Maar as Kate nou weer bietjie gewig optel, gaan die skinderkolomme seker weer gons dat n kleinding op pad is ...