Toe haar vyf jaar lange verhouding verbrokkel, het die donkerte haar gevat. Rolanda Marais, die aktrise met die voorkoms wat aan ou Hollywood herinner, het reeds twee keer vantevore depressie gehad, waarvoor sy antidepressante gebruik het.

Maar vir die eerste keer het sy besef hoe aftakelend die toestand kan wees. “Ek was nie meer lus vir die lewe nie, huilerig, emosioneel verlam, lus vir niks. Hoewel ek nie selfdood oorweeg het nie, kon ek verstaan dat mense dit doen.”

Sy gebruik die afgelope jaar nie antidepressante nie. Maar sou die depressie weer toeslaan, sál sy. Ek ervaar dinge meer intens as baie ander mense. As ek hartseer is, is ek in ’n diep put van ellende. En ek kan ekstaties gelukkig wees. Dis asof ek die kleure van emosies helderder ervaar. Depressie was iets waarvan ek geweet het, want daar was familielede wat aan hul ‘senuwees’ gely het. Maar dit het nooit ’n direkte invloed op my lewe gehad nie. Ons was ’n gelukkige gesin.

Ek was 24 toe ek dit die eerste keer kry. Ek het gevoel iets is nie lekker nie. Dit was asof ’n groot swarigheid, ’n donkerte, oor my hang. Niks kon dit laat wyk nie. Ek het dit vir my vriende probeer wegsteek. Die dokter het antidepressante voorgeskryf en ek het ná twee tot drie weke beter begin voel. Iets lig, jou gemoed lig. Ek het daarna my ups and downs gehad, maar was meestal oukei.

In 2005 het ek ’n rol in Binneland aanvaar en van Kaapstad na Johannesburg verhuis. Dit was ’n groot aanpassing. Daai Desember het die swarigheid my weer beetgepak. Ek het besef ek het ’n geneigdheid daartoe. As ek ’n ruk lank nie tussen mense wil wees nie, te veel of te min slaap...Dis gevaartekens.

Toe, vroeg in 2010, loop my verhouding van vyf jaar skeef en dit gaan slég met my. ’n Psigiater diagnoseer depressie en angs. Dié keer skop die pille vinnig in, ek begin drie tot vier dae later beter voel. Ek raak halsoorkop betrokke by ’n man wat my verbaal aftakel. Hy maak asof iets met my fout is omdat ek antidepressante gebruik. ‘Jy´ is die een op pille ...’ sou hy sê.

As dit sleg gaan, vergeet jy so maklik om na jouself te kyk. Maar ek wóú beter word. Ek het byvoorbeeld glad nie aan alkohol geraak nie. (Ek drink steeds minder alkohol. Te veel wyn laat my die volgende dag angstig voel.) Oefening, ’n gebalanseerde dieet, minder koffie en suiker, dis alles belangrik. Ek glo aan oefening, veral joga. Álle oefening het positiewe voordele en laat die goedvoel-endorfien in jou brein bruis. Maar joga is ’n meer spirituele eerbetoon aan jou kop, siel en lyf. Die fokus op jou asemhaling help ook as jy angstig is.

Ek was verstom oor van my vriende se reaksie op antidepressante. Hulle glo jy moet omtrent op die randjie van selfdood wees voor jy dit gebruik. Ek het vriende wat deur hel gaan, maar dit nie sal drink nie.

Nog ’n wanopvatting is dat jy altyd gelukkig voel as jy dit gebruik. (Prinses Diana het dit mos haar ‘happy pills’ genoem.) Maar nee, jy raak steeds kwaad, ongelukkig...Daardie swaar gevoel is net weg. Die ander dag het ek weer ’n angsaanval gehad, nogal op stel. Dis belangrik dat jy weet wat met jou gebeur. En só ook die mense om jou. Jy is nie besig om dood te gaan nie, dit vóél net so. Dis asof my hart uit my borskas wil klim, asof ek nie kan dink nie, asof my brein toeslaan. My asemhaling raak vinniger en my sig soms swak, asof ek nie kan sien nie. Mense verstaan nie altyd waaroor angs gaan nie. Hulle dink jy drink ’n glas water en voel beter.

My boodskap aan mense met depressie is: As jy huiwerig is om antidepressante te gebruik, sê vir jouself dis net tydelik. Neem dit ’n ruk en kyk of dit ’n verskil maak. Moenie skaam wees nie, práát daaroor. Depressie mors so dikwels menseverhoudinge op. Dit kán behandel word.

Daar is oomblikke dat ek intens gelukkig is. Geseënd en veilig voel. In moeilike tye klou ek daaraan vas. Die lewe is te kort ommet depressie te sukkel. En te mooi ...