Hierdie is die verhaal van Mirriam, ’n Xhosa-vrou wat in die swart woonbuurt in Despatch, in die Oos-Kaap, bly. Mirriam het my pad gekruis toe ek vetkoek gesoek het om in my wegneemete-winkel op die dorp te verkoop. Sy het in daardie stadium by ’n plaaslike bakkery gewerk waar ek vetkoek gekoop het. Mirriam het besluit om te bedank en het van die huis af vir my begin vetkoek en roosterkoek begin bak. Sy staan soggens om drie-uur op om te knie en te begin vuur maak – sy bak die roosterkoek op ’n regte houtvuur buite haar huisie. Die hout kap iemand vir haar in die bos en met die hulp van ’n man met ’n bakkie ry sy die hout aan na haar erf by die huis. Sy bak die vetkoek in ’n paar braaipanne en het in dié stadium ’n jong vrou wat haar help. Sy't 'n kosstalletjie by die taxi-staanplek ... Mirriam is ’n enkelouer wat haar eie kinders grootmaak, asook dié van haar suster en sommer nog elke kind wat haar pad kruis. Sy was getroud met ’n skoolinspekteur, maar hulle het geskei omdat hy dit nie kon hanteer dat sy altyd almal op haar pad help en hy tweede plek moes inneem nie.

Nadat sy my vetkoek en roosterkoek klaar gebak het, begin sy met haar eie “wegneemetes”. Sy maak toebroodjies en nog vetkoek, roosterkoek, muffins en slaaie, wat sy by Uitenhage se taxi-staanplek gaan verkoop. Daar het sy ’n kosstalletjie, waar sy elke dag ook vars kos kook en verkoop. Sy moet iemand met ’n bakkie huur om haar elke dag met die hele pakkaas te karwei.

Sommige oggende klim Mirriam nie eers uit die bakkie by my winkel met haar aflewering nie, sy sit voor in die bakkie en slaap van uitputting en om bietjie krag te kry vir die dag wat voorlê.

Die woord "nee" bestaan nie in haar woordeskat nie ...

En so gaan dit 7 dae ’n week. Sondae het sy bestellings vir gekookte kos in die omgewing van die taxi-staanplek, maar sy doen dit eers wanneer sy van die kerk af kom. Behalwe die kinders in haar huis wat elke dag gereed gemaak word vir skool – party nog sommer baie klein – kom klop die kinders in die buurt en die straatkinders aan haar deur vir ’n stukkie brood. En die woord “nee” bestaan nie in haar woordeskat nie. Dit alles word gedoen in ’n piepklein viervertrek-huisie waar sy ’n sinkplaat-“kombuis” aangebou het om kos te kook.

Sy betaal haar helpers ’n klein bedraggie geld en sorg dan verder vir hulle met kos en klere. Sy koop tweedehandse klere, was en stryk dit en hou dit in ’n kas waar die mense hulself kan help as hulle iets nodig het.

'n Sakevrou en hoop vir haar gemeenskap ...

Ek moet ’n lansie breek vir Mirriam en ek glo daar is nog vele soos sy, wat die beste maak van hul omstandighede. Dis allesbehalwe maklik, en ek glo sy kry ook negatiewe dae, maar sy gaan elke dag aan en help nog soveel ander in die proses.

As ek ’n “Woman of the Year”-toekenning moes gee, sou dit definitief aan Mirriam gegaan het! ’n Moeder, sakevrou, werkverskaffer, hoop vir haar gemeenskap! Helena Botha, Despatch