Vir Emma, in wie se kop “deure oopgegaan het”, sal die lewe nooit weer dieselfde wees nie. (Met ons ter perse gaan het sy laat weet sy’t haar droom bewaarheid en die Ysterman voltooi in stormsterk wind en hael.)

“Uithousport het my nog altyd gefassineer. Ek was byna klaar met skool toe ons deur Gordonsbaai gery en ek my aan die Ystermandeelnemers daar verkyk het. Ek was verstom oor hul uithouvermoë, al moes ek self jare lank met ongelooflike vasberadenheid teen ’n spraakprobleem baklei. Sonder dat ek dit besef het, kon ek destyds dalk al iets verstaan van hoe mense se deursettingsvermoë op verskillende maniere getoets kan word.

“In November het ek ’n video-insetsel oor die oorspronklike Ystermanbyeenkoms in Kona, Hawaii, gekyk. Die vasberadenheid, die pyn waardeur die atlete moes worstel ...dit het my so aangegryp. Ek was in trane. En so het my eie droom wortelgeskiet. Dis asof dit vir my lewenspad beplan was. Ek het nie verstaan hoekom nie, maar ek het geweet ’n waardevolle les lê opgesluit in die reis na die wedloop.
Die alles-of-niks-element het my gelok. Ek het geen idee gehad hoeveel toewyding dit sou verg nie. ”

AKUTE PYN EN PLESIER
“Die eerste maand was ek in akute pyn. Alles was seer. Dit was ’n yslike skok vir my gestel. Maar dan begin jou liggaam aanpas. Ek moes tussen 15 en 20 uur se oefening per week inpas. Toe ek met mense praat wat dit al aangepak het, het ek besef enigiemand kan dit doen as jy die laaste tree op die rooi mat met jou hele hart begeer. Elkeen doen dit om ’n ander rede. Ek het nog nooit iets aangepak wat so ’n emosionele impak op my gehad het nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek so gelukkig en tevrede gevoel het nie, al is dit die grootste opoffering wat ek al in my lewe gemaak het.”

’N REIS NA BINNE
“Ek het 5 kg verloor en is fikser as ooit. Dis seker ’n voordeel, maar dis bysaak. My kop het soveel baat gevind. Dis ’n reis na binne. Jy kyk hoe diep jy kan delf in plekke binne jou waar jy nog nie was nie. Jy leer jouself goed ken. Soms oefen ek saam met mense, maar uiteindelik gaan dit net ek wees en die 17 uur waarin ek dit moet voltooi. Dis die krag en skoonheid van die kompetisie. Jy ding met jouself mee. Jou ingesteldheid is alles. Ek het baie onafhanklik geraak, ek herstel self my fiets as ek iewers vasval. Dis ’n bemagtigende ervaring om vroualleen in Johannesburg te oefen. Ek bewonder ook vroue-deelnemers met gesinne en loopbane, ek weet nie waar hulle die oefentyd kry nie.”

NIE NET VIR MYSELF
“Daar is slegte dae, soos toe my splinternuwe fiets gebreek het tydens ’n halwe Ysterman, of as my knie my opkeil (ek het las van my knie sedert ’n operasie op skool), maar jy kan nie bekostig om weg te kyk van die einddoel nie, anders sal dit jou breek. Dit moet jou eerder opbou. “Jy is byna egosentries op jouself ingestel as jy so oefen, daarom is dit goed om iets onselfsugtigs aan jou doelwit te koppel.
Ek het mense gevra om my te borg vir elke voltooide kilometer, en die geld is ten bate van die Alma-skool vir serebraal gestremde kinders in Pretoria. Die onderwysers is engele wat ’n groot verskil in kinders se lewe maak. Dan is al my bloedsweet darem nie net vir myself nie.”