Christell Horn van Silverton skryf:

Almal sê altyd ek is 'n jolige, vriendelike mens, maar min weet dat ek op die jong ouderdom van 16 jaar 'n beroerte gehad het wat my lewe vir altyd verander het ("Die ballon in my kop" - joernalis Kay Karriem, Julie 2009-SARIE).

Vandag is ek 34 jaar oud en mense wat my al jare ken, praat steeds van my as die kind wat 'n beroerte gehad het. Dit voel vir my ook altyd of ek myself moet voorstel as "Hello, ek is Christell en ek het op 16 'n beroerte gehad" en "ja, een en een is steeds twee, maar as ek iets stupids doen, is dit nie my skuld nie".

Ek probeer nie meer bewys dat al my varkies op hok is nie, want in die eerste plek is ek 'n vrou, in die tweede plek 'n vrou wat 'n beroerte gehad het en in die derde plek het ek boonop 'n kunstenaarsiel. Dus praat ek voor ek dink, verf waar en wat ek wil, hang bottels in my bome en praat hardop met my Liewe Heer. My ma kry baie keer skaam vir my, my liewe man sê net "ja-nee". En tog weet ek hulle is lief vir my. Maar dit maak seer, hoewel ek weet ek doen iets wat hulle skaam maak of hulle net hul koppe laat skud.

Soos Kay Karriem is ek 'n ekstrovert wat maklik praat, lag en baie maklik baklei. Ek het voor my beroerte maklik gehuil, maar nie meer nie. Die ballon wat in my kop gebars het, het my emosies na die verste hoeke in my brein geskop. Ek voel soms soos 'n vierjarige kind wat steeds wipplank ry, want my emosies vat my van onder na bo en van links na regs.

Soos Kay voel ek die verlies van beheer is die ergste. My dokter het destyds ook geglo kinders word gesien en nie gehoor nie. Dus was my beroerte nooit met my bespreek nie en het ek nooit geweet dat my gemoedskommeling algemeen is ná beroertes nie.

My familie het gesê ek is bederf en nooit aan iemand anders dink as net aan myself nie. Dis seker hoekom ek hulle net op begrafnisse sien.

My liewe man en pragtige twee kinders is my familie en aavaar my soos ek is. Hulle glo ek is "weird", maar bly lief vir my al ry my emosies wipplank. Ek dank God vir my man en vir verhale soos dié van Kay Karriem wat my laat besef ek is nie alleen nie. Nog iemand verstaan waardeur ek gaan.

SARIE, dankie vir die artikel. Toe my dogtertjie dit gelees het, het sy gesê "mamma, hierdie is amper soos jy".