Ek wil net dankie sê vir ’n lekker webtuiste. Ek werk en woon tans in Bangkok, en dis sóóó lekker om gereeld aanlyn te gaan. Ek lees en kuier te lekker tussen al die SARIE-artikels.
Die foto’s van die celebs hou my op hoogte, en die kos ... wel dis ’n ander storie. Ek kan hier nou nie juis eg Suid-Afrikaans kook nie, maar ek probeer. My vriendin het in Desember kom kuier. Ek het ’n hard copy van SARIE by haar gekry, asook bevrore koeksisters!
Ons het lekker op die strand van die eiland Koh Samed, sowat 3 ure se ry uit Bangkok, gelê en lees! Die eiland is baie gewild onder die plaaslike inwoners en natuurlik ook buitelanders. Dit het pragtige strande, wit sand en helder blou water.
SARIE, jy is great en help my gereeld met die verlange huis toe. Jy hou my op hoogte van nuwe Afrikaanse boeke, en die My Lewe-gedeelte is so goed vir my siel! 
Anita Kruger, Thailand