'Thabang inspireer my om beter dinge te doen’

Die sangeres Bianca le Grange van Winchester Hills, Johannesburg, het in Januarie 2012 die “informele” pleegouer van die 13-jarige Thabang Mpheng geword. Sy put baie vreugde uit dié verandering in haar lewe.

DEEL VAN DIE GESIN

“Ek is lief vir kinders en wil eendag my eie hê. Agnes, my huishulp en Thabang se ma, werk reeds vyf jaar vir my. Weens gesondheidsredes kon sy nie altyd by hom gaan kuier in Carletonville, Wes-Gauteng, waar hy gewoon het nie, want sy moes dikwels hospitaal toe. Indien sy hom wel besoek het, het sy altyd hartseer teruggekom omdat sy baie bekommerd was dat hy nie behoorlik kon lees of skryf nie.

“Ek wou graag help en het hom gevra om by ons te kom bly. Saans slaap hy by Agnes in haar kamer. Maar bedags doen hy saam met my sy tuiswerk en help my met huistake soos om die swembad skoon te maak en neem my honde om te gaan stap.

“Hy gaan nou skool by Forest Hill Primary School in Johannesburg. Hy is deel van my gesin en gaan selfs saam na familie-byeenkomste. Dis vir ons albei op ’n manier ’n nuwe begin.”

LEKKERTES

“Dit was bevredigend om hom te leer lees. Hy het vanweë die aandag binne ’n paar maande goed gevorder. Ons gesels lekker en hy gaan dikwels saam met my na sosiale geleenthede. Dáár geniet Thabang dit om al die glanspersoonlikhede te ontmoet. Soms vertel hy my dingetjies wat te ongemaklik is om vir sy ma te vertel en ek probeer raad gee.

“Die eerste drie maande by my het ek vir hom ’n private tutor gekry om met sy skoolwerk te help. Dit was nie goedkoop nie, maar beslis die moeite werd. Sy selfvertroue het ’n hupstoot gekry en deesdae kyk hy mense in die oë, want hy glo in homself. Hy vermaak my soms heerlik wanneer hy van my pruike opsit en maak asof hy een van die sepie-karakters is wat hy op televisie sien.

“Ek het hom ook geleer hoe om te bid: voor elke aandete en voor hy gaan slaap. Dis wonderlik om hierdie spirituele dimensie met hom te deel.”

UITDAGINGS

“Aanvanklik was dit nie so maklik om aan die nuweling gewoond te raak nie.My lewe is baie besig en ek moes mooi beplan om al my rolle te vervul. Dit is boonop soms moeilik om ’n tiener te dissiplineer. Thabang hou van emosionele grense en ek moet dit konsekwent toepas. Hy weet byvoorbeeld dat hy altyd eers sy tuiswerk moet klaarmaak en moet lees voordat ons prettige dinge kansaamdoen.

“Om skielik vir nog iemand te sorg is ook nogal duur. Ek het die afgelope jaar drie keer vir hom nuwe skoolklere gekoop omdat hy so vinnig groei! Soms moet ek twee keer dink aan my begroting: Gaan ek vir my skoene koop, of moet ek nuwe boeke of ’n T-hemp vir Thabang koop?

“My verhouding met die akteur Keenan Arrison, met wie ek intussen uitgemaak het, was ook baie stresvol omdat ek soms te veel tyd saam met Thabang bestee het. Ons was duidelik nie gereed vir ’n ‘pasklaar’ gesin nie. Tog was hy baie goed vir Thabang en ek was hartseer toe ons verhouding beëindig is.”

WAT EK GELEER HET

  • ’n Kind het nie so báie aandag nodig nie, maar wel gereeld en toegewyd. Ek bestee minstens drie uur per dag saam met Thabang. Daar is niemand soos ’n kind om jou geduld te leer nie.
  • Dit kos niks om iemand lief te hê nie. Thabang het my ’n voorsmakie gegee van hoe dit voel om “ma” te wees.
  • Die nuwe “kind” in my lewe inspireer my om meer en beter dinge op aarde te doen. Ek leer meer by Thabang as wat hy by my leer.