Op die plaas Kwaggalaagte naby Leandra staan ’n kleuter en staar na die windpomp. Die wiel draai en draai en draai . . .  “Ek is Daantjie se broer,” sal die filmmaker Johan Badenhorst homself deesdae voorstel. Johan is die skepper van treffer-televisiereekse soos Voetspore en Laurika Rauch se Kom laat ons sing, en sy jonger broer is Daantjie, wat voorheen onder familie en kennisse bekend gestaan het as “Johan se broer wat als van karre weet”. Maar nou is hy Daantjie Dinamiet. Vasvrakoning. Vir Johan is hy kleinboet. Hy is ’n soort vaderfiguur vir Daantjie, en dié noem hom Boet. Die twee sit in Johan se studeerkamer op die Mooikloof-landgoed, Pretoria.

“Chalk and cheese,” sê Johan. "Maar ons hét raakpunte," sê Daantjie. Hulle verskil agt jaar. Sus Janie is ’n jaar ouer as Johan en Hermien tussen hulle. Elkeen het ’n eie geaardheid en is beslis nié grootgemaak om in little boxes te pas nie, sê Johan. Hul pa, Dirk, was ’n “verligte” pedagogiek-prof aan Unisa en hul ma, Tienie, ’n liefdevolle tuisteskepper. Die kinders het hul grootwordjare in Empangeni, Ngoma, Pietermaritzburg en Groenkloof, Pretoria, deurgebring. Hul ouers is al etlike jare geskei. Die gesin kuier graag en dan gee Daantjie soms raad oor kar koop. “Waarna hulle nie luister nie,” sê hy. En Johan gee graag finansiële raad. “Waarna Daantjie nie luister nie,” sê hy. Dis die gesin Badenhorst in ’n neutedop. ’n Ousus met haar voete op die aarde, ’n filmmaker, ’n ander sus met wêreldwanderlust en Daantjie, die boetie wat altyd “anders” was.

“Wiele het hom gefassineer”
Johan sê die dag toe hulle op die strand op Richardsbaai sit en sy kleuterboetie skryf motors se name in spieëlbeeld in die sand, het hy geweet dié kind is strange. Toe hulle weer sien, toe lees en skryf Daantjie lankal. Homself uit die Car Magazine geleer lánk voor hy skool toe is. Seker die jongste kind nóg wat aan dié tydskrif verslaaf geraak het, meen Johan. “Kom ons sê maar dit was my mental gym,” lag Daantjie. Hy was hiperaktief en het sy huismense soms tot raserny gedryf. “Min dinge kon hom gefokus kry. Maar wiele het hom gefassineer. As hy op Oupa Daantjie Streicher se plaas lastig geraak het, het ek hom windpomp toe gevat. Hy kon ure daarna staar,” sê Johan. Daantjie lag verleë en woel met sy hande in sy skoot. Kort-kort gooi hy ’n kort, vinnige antwoord tussen in. Die broers is gemaklik in mekaar se geselskap. Kwinkslae kom van Johan. Feite en kort waarnemings van Daantjie. “Die wiel-ding het ’n versotheid op motors geword. Hy het elke motor geken. Ons het nie geweet wat hom so anders maak nie. Ons het vermoed hy het ’n fotografiese geheue.”

 

Toe besef hulle hy ken die kalender uit sy kop uit.

 

Daantjie is van kleins af die familie se almanak. Hy weet presies wanneer almal verjaar. Hy was nog klein toe hulle op ’n dag Oupa se verjaardag bespreek het. “Issie, Oupa verjaar dié jaar op ’n Donderdag . . . ” Toe besef hulle hy ken die kalender uit sy kop uit. “Jy kon hom vra waarop enige dag van die jaar val,” sê Johan. Hy was vyf jaar oud. Daantjie se ma het hom saamgeneem as sy kruideniersware gaan koop, want hy kon presies onthou hoeveel ’n produk die vorige maand gekos het.“Dit was ’n eienaardigheid, wat eers naam gekry het toe my ma hom na ’n psigiater geneem het.” Daantjie is met Asperger-sindroom, ’n vorm van outisme, gediagnoseer. Hy het nou, ná sy Noot vir Noot-oorwinning, by die Asperger-vereniging betrokke geraak.

“Dis ironies dat sy kennis hom nou eers bevoordeel. Dit het hom nie op skool gehelp nie, want hy het nie op die regte dinge gefokus nie,” sê Johan. Hy het onlangs op een van Daantjie se ou skoolrapporte afgekom. “Jy het op jou bas deurgeseil,” sê hy.  “Ja, dit was seker in st. 9 (gr. 11). Toe wou ek net tale leer.” Daantjie het skool gehaat. Hy kon nie stilsit nie en onderwysers het niks van sulke kinders gehou nie. Johan vertel hoe Daantjie geboelie is.  “Hulle het klippe in sy tas gesit en dan het hy heeldag so rondgeloop sonder om dit agter te kom. Dan lag die ander kinders hulle dood.” Daantjie het nooit groot groepe maats gehad nie. Net enkele vriende. “Soos Callie.” “Ja, behalwe dat hy vir die WP skree.” Darem ’n paar vriendinne ook, vertel hy. “Platonies.” “O, nét platonies?” spot Johan.

Anders én dieselfde
Die broers het albei koor gesing. Daantjie nogal in die Noord-Transvaalse Jeugkoor. Johan sê hyself kon nooit noot hou nie. “Dis oor hy homself onderskat,” beskuldig Daantjie. Daantjie was lief vir kultuurdinge soos die Franse klub. “Je peux parler seulement un morceau de français (ek praat net ’n bietjie Frans).” Met ’n perfekte aksent. Hy was nooit ’n sportman nie, hoewel hy van kleins af versot is op rugby en krieket. “Ek was darem in st. 5 (gr. 7) ’n rasieleier,” sê hy. “Ja, aan entoesiasme het dit Daantjie nooit ontbreek nie,” sê Johan droogweg. Vanweë die ouderdomsverskil het hulle nooit saamgespeel nie. Die susters het wel met Daantjie pop gespeel. “Hy was die mooiste seuntjie. ’n Vrou het eendag vir my ma gesê sulke wimpers is vermors op ’n seun,” sê Johan. Daantjie onthou hoe hulle in die agterplaas in Pretoria krieket gespeel het. Hy was in st. 3 (gr. 5) en Johan aan die Universiteit van Pretoria. Daantjie sê hy en Johan deel ’n liefde vir rugby en musiek. As Johan en sy universiteitsvriende soggens vroeg na oorsese rugbywedstryde gekyk het, het Daantjie ook opgestaan en voor skool saamgekyk. Hy bloos as jy vra of Johan hom ouboet-dinge geleer het soos hoe om ’n meisie te soen. “Ek was te skaam vir sulke dinge! Dié dat ek eers laat getrou het.” “Ja, maar as ék wou opsit met ’n meisie, het jy soos ’n klein grootmeneer tussen ons gesit. Dan wou jy nie gaan slaap nie,” kla Johan. Dít kan Daantjie kamma nie onthou nie . . .

“Daantjie was van kleins af sy eie mens en dit kon jy nie verander nie,” sê Johan. “Dis soos ek is. Ek het nie verander oor ek nou bekend is nie,” sê Daantjie. Hy skryf deesdae ’n musiekrubriek vir Rapport en het ’n webblad (www.dinamiet.co.za), waarop hy ook musiekresensies skryf. Die broers deel ook ’n liefde vir die joernalistiek. Johan was al op skool op Empangeni die SABC se korrespondent. Hy het verslag gedoen oor die reënval en ongelukke. Daantjie wou ook joernalis word en wil sy studies in dié rigting voortsit. Maar musiek is hul groot raakpunt. Daantjie onthou hoe hulle saam na langspeelplate geluister het. Hy was hoogs in sy skik toe Johan by die destydse Oggendblad in Pretoria begin werk het en oor musiek geskryf het. Hulle kon nie wag vir elke nuwe plaat nie. “Boet, onthou jy toe jy die eerste David Kramer huis toe gebring het? Jy het nog gesê dis iets unieks in Afrikaans. En dit was,” onthou Daantjie. In Johan se huis luister sy drie kinders, Nina (13), Heleen (11) en Streicher (10) elk na onderskeidelik Avril Lavigne, Karen Zoid en Linkin Park. Maar Daantjie is baie beslis. Sy klein Dirk (nou 9 maande) sal nie toegelaat word om eendag na mense soos Eminem te luister nie. “’n Mens praat nie so nie en jy luister ook nie daarna nie. Klaar,” sê hy ferm.

Johan, die filmmaker
Die broers gesels ook lekker oor die regte. Daantjie werk by die Staatsdrukkery in Pretoria en beantwoord heeldag vrae oor wette. Johan het regte gestudeer, maar hy het ander draaie geloop ná universiteit, waar hy onder meer joolvoorsitter was en by Radio Tuks betrokke was. Hy was ook al vlugkelner en nuusskrywer vir die TV-ontbytprogram Goeie Môre Suid-Afrika - “soggens van eenuur tot sewe-uur”. Hy spot dat hy met sy aansoek by die SABC minstens verwag het hulle sal hom die agtuurnuus laat lees. Soggens ná sy skof by die SABC het hy homself met al die redigeer- en videomasjiene opgelei. Dit was goeie ondervinding toe rolprentmaker Jan Scholtz hom ’n pos by sy videoproduksies aangebied het. “Ek het voor Jan grootgeword, en ek en my pêlle was teen R50 per dag ekstras in sy movies soos Sterretjie en Kiepie en Kandas.” Johan het vir Scholtz-films reekse soos Pieter Pieterse se Boude en blaaie en Van die Kaap tot die Kunene gemaak. Vandaar sy liefde vir die natuur. Toe hy Voetspore vir kykNET kon maak, was hy in sy noppies. Dit was ’n sukses en hy gaan eersdaags Voetspore 3 maak. Dis ’n reeks waarin hy en ’n paar ouens 4x4’s vat en die lang pad op die spore van olifante gaan volg. Hy wil Streicher dié keer saamvat tot in Kaïro. “Dit sal vir hom ’n ongelooflike leerskool wees.” Sy vrou, Alma, ’n loodglaskunstenaar, sal Streicher laat saamgaan, meen hy. Hy het ook programme vir 50/50 en Agriforum gemaak en naas die huldeblyk aan Johannes Kerkorrel vir kykNET, ook musiek-DVD’s vir kunstenaars soos Anton Goosen, Amanda Strydom, Valiant Swart en Dozi.

 

“Dis wat ek doen met die useless information in my kop” - Daantjie Dinamiet

 

Daantjie het bewondering vir Johan se werk en vra deesdae raad oor die TV-bedryf. “Dis nou as hy gehelp wíl word. As hy nie in ’n onderwerp belang stel nie, kan jy maar vergeet,” sê Johan. Dit was op sý aanbeveling dat Daantjie aan Flinkdink deelgeneem het. Hulle het saam na ou reekse gekyk en Johan het besef Daantjie sal meer aardrykskunde moet lees. “Maar hy wou dit net eenvoudig nie doen nie.” “Is nie, ek het darem later Dawid van Lill se boek oor Afrika gelees.” Johan sê Daantjie glo dít wat hy in sy kop het, is daar en dis genoeg. Daantjie se vrou, Yolanda, ’n kassier by ’n slaghuis, probeer altyd saamgaan as hy deelneem, maar met Flinkdink was die spanning byna te veel. Daantjie lag. “Met die eerste Noot vir Noot het sy byna met Dirkie in kraam gegaan.”

Nuwe lewensfase
Pa-wees is vir Daantjie lekker en hy kan nie wag dat Dirkie grootword sodat hulle saam motorskoue toe kan gaan nie. “Die vasvra-wedstryde maak vir my geleenthede oop. Dit het my geleer jy is tot baie meer in staat as wat jy dink.” Johan sê vir die eerste keer bring Daantjie se uniekheid vir hom geld in. “Op sý salaris sou hy nooit ’n nuwe motor kon koop nie. Hy verdien dit.” Hy draai dwars na sy broer. “Ek hoop nie jy gee om as ek dit so beskryf nie, maar wat anders maak ’n mens met so ’n klomp useless information in jou kop? Dis die ideale manier om dit te gebruik.” By die werk is Daantjie ’n ensiklopedie. Mense vra hom eerder as wat hulle iets naslaan.  “Dis hoekom ek 25 mense se werk doen. Soms wonder ek hoekom ek al 14 jaar dieselfde werk doen.”

Hy mik nou na A Word or Two en Who wants to be a Millionaire? Johan keer dadelik: “Dis beter om ’n vaste inkomste te hê en die ander dinge vryskut te doen. Jy kan nie jou werk los nie.” Hy weet jy kan nie sommer net vir Daantjie sê dís wat jy moet doen nie. Jy moet eers bewyse gee voor hy jou glo. Johan erken Daantjie se koppigheid is soms frustrerend. “Ek het al ’n paar lesse geleer wat ek graag met hom deel. Maar hy wil nie altyd raad aanvaar nie.” Daantjie lag skuldig. Raad oor geld is ’n teer punt. Kort daarna vra Daantjie sy Boet se raad oor die ryery Johannesburg toe vir die opname van die kampioen van kampioene van Noot vir Noot. Hy gaan dalk in sy nuwe geel Chevy Spark ry. Uiteindelik sy eie nuwe wiele.