Ek is nie net verskriklik hartseer nie, nee my hart pyn by dié gedagte: My mooi meisiekind, weg vir altyd.

Een van die vier vreugdevolste dae in my lewe was die dag waarop die radioloog op die sonar gekyk en gesê het: “Dis ’n dogter!” Ek onthou so goed hoe lag en huil met mekaar in my gewedywer het en dat ek nie kon besluit watter een van die twee moet die oorhand kry nie. Toe lag ek maar dat die trane loop.

Maar dan onthou ek tog die oorweldigende vreugde. Ek gaan ’n dogter kry! Van haar geboorte een groot plesier. ’n Cliche? Of is dit soos met kraampyn – ’n mens vergeet soos die jare aanstap. Of wil ’n ma nie onthou van die moeilike, hartseerdae nie? Is ’n ma se hart en niere so geprogrammeer dat ons vergeet om te onthou?

Nee, hoor! Sy was ’n maklike kind. Sy het werklik sonder die gewone “fieterjasies”, wat so kenmerkend is van dogtertjies, die lewe ingekom. Miskien het sy tóé reeds geweet: Dié ma sou dit nie kon hanteer nie. Ek is nie opgewasse daarvoor nie. Fyn aanvoeler van mense se emosies, ingestel op mense, so is sy gebore.

Sy het van kleinsaf mense geraak met haar onuitputlike lewensvreugde. Van kindwees af het sy maklik gelag met haar blink oë ... ja, ek het baie blink dae met blink ure wat ek kon wegbêre vir later se onthou. Vanaf haar geboorte was dit of sy die wêreld vierkantig in die oë kyk met net een vraag: “Wat, ou wêreld, het jy om my te bied?”

Dis 23 Februarie 2006. Ek is vandag 48 jaar oud. Lea het soos soveel vorige jare gebel en gesê sy kom die dag by my deurbring. Net ons twee alleen.

“Ma, dan gaan eet ons iewers en chat sommer net lekker.”

By die restaurant aangekom, doen sy onbewustelik wat sy altyd doen. Sy gaan dadelik na die toilet. As klein dogtertjie het sy ook altyd dadelik die toilette gaan verken en dan breedvoerig kom verslag doen oor die toestande wat sy daar aangetref het.

Ek kyk haar agterna en die woorde van die ou-ou gediggie kom onwillekeurig in my op: “O, die aankom, die inkom, die wegstap van haar ...”

Met die terugkomslag val dit my op, haar stap is anders. Nog fier en regop soos altyd, maar vandag is dit tog anders. Of verbeel ek my dit?

Sy kom sit en doen dan ook inderdaad verslag oor die toilet en dan begin ons gesels oor niks besonders nie. Net doodgewoon ma-en-dogter-gesels. En weer merk ek op: Ook haar praat is vandag anders, of is dit? Nog ’n paar minute van gesels en wéér kom die gedagte na vore, Lea met die blink oë se oë is vandag nog blinker, as dit enigsins moontlik is.

Alles aan haar is anders, nee, ek verbeel my nie, selfs haar manier van praat, haar lag, nog net so luidrugtig as altyd, maar tog anders.

En eensklaps wéét ek: DIS DIE LIEFDE!

Sy kyk vir my met die blik van ’n vrou, ’n volwasse vrou. My dogtertjie is weg! Haar oë, haar lag, haar praat, selfs haar stap sê: Ek het lief. En êrens is
iemand wat my liefhet ...

Die kyk in haar oë sê vir my, ek weet wat jy weet, ek ervaar wat jy en duisende vroue deur die eeue heen ervaar het en dis ongelooflik goed!

Hoe kon ek dit miskyk? Al die tekens is daar en ek moes dit raakgesien het. Ek is mos ’n ou bekende van dié liefde. Net ’n vrou wat opreg bemin word, lag met
soveel oorgawe vir die wêreld. Haar oë, ek moes tog raakgesien het dat net liefde ’n vrou se oë so kan laat skitter.

Met haar 21 ste verjaarsdag verlede jaar het ek vir haar Elisabeth Eybers se “Eerste Nag” as geskenk gegee. Min kon ek toe weet hoe gou dié woorde in haar eie lewe van toepassing sou wees.

Wat, in die nag van liefdeslus?
Dat teerheid sterker as hartstog is.

’n Jubel-psalm begin in my eie hart sing. Ek het my kind aan die liefde verloor! ’n Groter geskenk kan geen moeder kry nie.

En dan begin ek onthou ... Hoe sy as ’n baie klein dogtertjie, op my vraag oor watter kleur ons haar kamer moet verf, met ’n baie ernstige gesiggie vir my gesê het: “Ek is mos nie einklik ’n pienk dogtertjie nie.”

Hoe reg was sy nie. Pienk was sy nooit. Helderblou, grasgroen en bloedrooi, maar pienk, nee nooit! En nou sien ek haar voor my in al die fel skakerings van die liefde sit. Selfversekerd sit sy daar en onbeskryflik mooi. En ek onthou dat sy altyd baie seker was oor presies wat sy wil hê en wat nie. Sy het dan ook na twee balletoefeninge ewe wys verklaar: “Ek hou glad nie van ballet nie, ek wou net die balletskoene en balletklere gehad het!”

Met haar matriekafskeid die aand staan ons klomp ma’s op die balkon en afkyk na al die kinders. Met my beperkte sig vra ek sommer so in die oopte, waar is Lea? ’n Wildvreemde ma langs my antwoord: “Luister net, dan sal jy haar hóór, sy is die een wat die hardste lag”

My mooi meisiekind wat hard en maklik lag.

Ek sit met verbasing en staar na die wonder wat hom voor my oë afspeel. Ek is so ontsettend bly en só dankbaar. Weer begin die twee ou geesgenote – lag en
huil – in my wedywer. Weer weet ek nie wie van die twee ek moet laat wen nie. Maar dit weet ek wel, te veel vroue gaan deur die lewe sonder om ooit die
goedheid en guns en vreugde van ware liefde te smaak.

En my hart juig dat my Lea nie een van dié vroue gaan wees nie. Dit staan nou op haar hart gegraveer en hierna sal sy nooit, ooit in haar lewe weer met enigiets minder as ware liefde tevrede wees nie. Inteendeel, ek weet sy sal alles wat nie ware liefde is nie met groot minagting bejeën. Die diep geborgenheid aan een mens wat jou waarlik liefhet en vir wie jy onvoorwaardelik liefhet, die groot misterie van die liefde, daardie iets tussen hart en hart, sal sy vir ewig as haar geboortereg beskou.

Ek kyk haar reg in die oë waar sy oorkant my sit en vra dié vraag wat my nou al die hele oggend so laat wonder: “My kind, en jý, van waar al die
onverbloemde vreugde en geluksaligheid?”

En toe gaan die sluise van haar hart oop en sy begin vertel. Van ’n jong Fransman met donker oë wat aan haar hart kom krap het.

“Ma, hy het aan my hart kom krap en aanhou krap totdat hy deur die mure gebreek het ... en toe stap hy in en sit al die ligte aan." Die uitroepe en praat van
haar hart kon en wou sy nie keer nie.

“Hoe wéét ’n mens, Ma? Hoe weet jy hý is dié een?”

Ek dink dadelik aan Salomo se woorde: “Daar is drie dinge, nee, vier ... en hoe die liefde tussen ’n man en ’n vrou werk. Maar ek vra uitstel op die
vraag. Wat antwoord ’n mens? Weet ons ooit?

Die afgelope drie jaar het ons die jongman goed leer ken. Hy is nie onbekend met die genade van liefde nie. En ’n ma sien en hoor mos juis die dinge wat nie gesê word nie. Hy het in hom genoeg deernis vir altwee van hulle. Hy sal nie toelaat dat haar drome uitrafel nie. Hy dra nie my kind op die hande nie, nee inteendeel, hy dra haar op sy skouers sodat sy hoog en ver kan kyk.

Op ’n dag het Lea, ook met haar kenmerkende humor, vir my gesê: “Ma hy kan vry en kook, wat meer kan ’n vrou vra?” Hierop het ek wel dadelik ’n antwoord gereed gehad. Inderdaad! ’n Droomman!

Hy laat haar die riel van die liefde en die lewe met oorgawe dans, elke dag, soos net sy dit kan doen. Nie die geloof nie, nie hoop nie, nie drome of rede nie – slegs die liefde. Deur die eeue heen is vroue dit met mekaar eens: Oë word dof sonder liefde, die vlam van die hart verdoof sonder liefde. Daarom is reeds eeue gelede deur God self geskryf: Die grootse hiervan is die liefde, sonder die liefde is jy niks.

Toe antwoord ek haar vraag van vroeër, maar soos Petrus: JY WEET NET!