Elke oomblik
Met al die verskillende rubrieke, tegnologie en navorsing wat gedoen word (en mekaar heeltemal weerspreek!), het ek aan die einde van 2010 oor verskeie goed gewonder. Wie is ek werklik, het ek die regte keuses gemaak, wat hou 2011 vir my in? Ná 38 jaar pak ek bokse, groet vriende en familie, en verruil die lewe in ’n baie klein stad vir Egoli, stad van goud. Van die Gautengers wat hier by die see kom vakansie hou, het my in kleur en geur vertel wat vir my voorlê . . . elkeen met sy eie waarnemings en ervarings. Ek is ’n positiewe mens. Die vlinders in my maag is nie meer heeltemal onseker nie. Nee, dis half asof hulle nie kan wag om te vlieg nie. Ek’s opgewonde, ook ongeduldig dat dinge stadiger verloop as wat ek in dié stadium verwag. ’n Mens is nooit te oud om te leer nie. Die lewe is ’n reis, foute word gemaak, en daar’s nie altyd antwoorde nie. Een ding is wel seker: Elke oomblik is kosbaar, elke situasie uniek en elke geleentheid ’n herinnering.
V. van Newtonpark (Port Elizabeth)

Hartsboekie . . .
“Ons dagboek vir die maand,” sê vir my man en gooi SARIE se rooi notaboekie in my tas. Ons gaan vir ons seun in China kuier. Ek en my boekie word onafskeidbaar. Ek skryf oor eksotiese geure en vreemde smake, van feng shui en oeroue tradisies. Ons deel my huiwerige proe-proe  aan ’n hutspot en my wantrouige aanskoue van repies gebraaide padda met brandrissie. Ek verluister my aan die gemak waarmee my seun in Mandaryns kommunikeer. Ek skryf oor die gelag wat my man se groot voete en harige arms ontlok, van die fyn noukeurigheid waarmee ’n vrou haar neute rangskik. As Kerstonele teen ’n wolkekrabber in Hongkong flits, word my boekie ’n naelstring wat my aanmy land
verbind. Ek skryf opdie laaste bladsy: “My seun se Chinese naam beteken klein perdjie, want, sê hulle, hy’t duisende kilometers ver gekom, hy hardloop soos ’n perd sonder om moeg te word, hy’s betroubaar, hardwerkend en toegewyd.” Woorde vir latere troos teen die verlange.
Mara Binedell, Kaapstad

’n Vriendin vir altyd
’n Ruk gelede kon ons inteken op ’n mededinger-tydskrif teen byna ’n derde van die normale prys. Soos ons vroue maar is – ek heel voor – val ek en my vriendinne daarvoor. Weens die ekonomiese resessie en hoërskoolkinders op pad universiteit toe besluit ek om nie my SARIE-intekening (met net een uitgawe oor) te hernu nie. Die aand vertel ek my man van my dapper besluit en dat dit vir my voel asof ek ’n beste vriendin in die steek laat. Hy antwoord: “Nooit kan jy dit doen nie!” Nou lê my vriendin steeds elke maand op my (of is dit sy?) bedkassie.
Marilé Kriel, Caledon

Die geskenk
Ons vriend Nigel het vandag vir ons vier bottels Bovril gebring en ons weer met ’n nuwe storie verstom. Hy het in Desember by sy ouers in Kaapstad gekuier. Hy en sy pa gaan laai toe hul huiswerker by haar Hop-huis op die Kaapse Vlakte af, en hy sien sy’t nie ’n boom of grasspriet op haar erf nie. Hy vra vol deernis wat sy vir Kersfees wil hê. Sy kan aan niks dink nie. Wat mis sy van haar geboorteplek in die Ciskei? Om in die grond te vroetel, sêsy. Dan kry sy ’n groentetuin, besluit Nigel. Terwyl Beauty vir drie weke in die Ciskei kuier, spring Nigel aan die werk. Hy spit die erf om en ry sakke kompos aan. Hy plant ertjies, tamaties en blaarslaai, én ry klippe van Kirstenbosch af aan om die
erfie mooi te “landscape.”  Alles gedaan, toe besef hy daar’s nie water op die erf nie. Hy reël met die buurvrou (met ’n buitekraan) om Beauty se tuin nat te gooi totdat sy terugkom. ’n Paar dae later het Nigel teruggevlieg Kanada toe. Nodeloos om te sê, Beauty was sprakeloos oor haar geskenk.
Wilma Kellerman, Kanada

Nuwe wedstryd
Daar koop ek toe my SARIE van Maart 2011. Opgewonde soos elke keer. My oog val op die voorblad-opskrif, “Skryf in & word ons voorbladgesig!” Onwillekeurig glimlag ek, want op 48 onthou ek dit soos gister . . . SARIE van 4 Maart 1981. Ek haal vinnig my sakrekenaar uit. Ja, 30 jaar gelede! Nou vir die groot soektog na daardie uitgawe. En sowaar, ek kry my SARIE. Hoe groot was my drome nie op die ouderdom van 19 nie? SARIE het ons tóé al geïnspireer om te droom van eendag. Baie dankie vir elke lekkerlees-bladsy oor baie jare.
Sandra Hofmeyr (néé Van der Merwe), Bromhof

’n Pêrel van Sarie
Ter viering van my 50ste verjaardag in Desember 2010 trakteer ons ons gesin en twee oumas vier dae lank op die skoonheid van die Victoria-waterval. Maar daar is olikheid ná die vrolikheid. Ek beland in Januarie vanjaar in die hospitaal met ’n bloedklont op die brein. Twee weke later kom ek inspuitingvoos en gedaan huis toe, maar nie sonder hoop nie. Ek loop, praat, sien en hoor nog soos altyd, en ons juig van dankbaarheid. Ons seun bring die berg pos wat wag, en gaan haal ’n pakkie by die poskantoor af. Groter as groot die verrassing: ’n Bottel Dreaming Pearl EDT (Tommy Hilfiger) van SARIE, met ’n brief daarby dat dit aan intekenare geskenk word. Buiten nog ’n kans op lewe, was hierdie die grootste geskenk van 2011. Baie dankie, SARIE. Julle maak dit die moeite werd om so ’n pragtige tydskrif te kan lees.
Hanneli Lombard, Lichtenburg

Beter en Beter
Ek het pas my Februarie-SARIE verslind. Elke maand raak sy net beter en beter. Sy maak jou lus vir die lewe, lus vir nuwe uitdagings en sy help my om myself beter te leer ken. Die inhoud – van modes, grimering, nuwe boeke en nuwe wyne tot die inspirerende ware verhale – laat ’n mens opnuut jou seëninge tel. Ek voel soos ’n meisietjie wat haar eerste Barbie-pop kry as ek SARIE op die winkelrak sien. Ek kan nie wag om te sien waarmee julle my vanjaar gaan verras nie. Ek weet net dit gaan ongelooflik wees. Ns. Ek gaan nou dadelik die witsjokolade-koek bak.
Daleen Vorster, Durbanville

Saam-saam
Suzette Truter se artikel “Die krag van sáám” (Januarie 2011) onderstreep my eie ervaring van die waarde van ’n groep. Dis iets wat ek van harte vir elke mens gun. Ons het vyftien jaar gelede as ’n studiegroep ontstaan om oor onderwerpe te gesels wat ons as sielkundiges en maatskaplike werkers in ons beroep kan help. Ons het gou besef ons het ’n groter behoefte – so het tuning in ontstaan waar ons reflekteer oor wat in ons lewe gebeur en tuning out waar ons oor ons groepdinamika gesels. Ons het sedertdien so ’n vlak van intimiteit en diepte bereik dat ons die afgelope tien jaar volstaan by ons groep van vier, van die ouderdom 42 tot 67 jaar. Ons leer baie van mekaar. Ons vier is al deur verskillende krisisse – gesondheidsprobleme, huweliks- of gesinsprobleme. Een het ’n kind aan die dood afgestaan. Moeilike situasies wat ons saam hanteer het. Dis ’n voorreg om ’n getuie te wees van mekaar se lewens, om te sien hoe ’n mens deur krisisse kan kom en te besef daar is lente ná ’n winter.
Ansie Gous, Florida Hills

Vakansie in die kleine
Dit gebeur nie baie dat ons ’n man op die voorblad van SARIE (Februarie 2011) sien nie! Baie verfrissend! Veral omdat Nataniël so ’n spesiale man is met soveel oorgawe vir die lewe. Die voorblad-kleurskema is ook pragtig en het beslis met my “gepraat”. Ek kan dit nie bekostig om elke maand ’n uitgawe te koop nie, maar by die Februarie-boek kon ek nie verbyloop nie. Soms “erf” ek ’n uitgawe by my ma wanneer sy hare klaar gelees het. Ek verslind elke woord van elke brief en al die fantastiese artikels, en lees dit dikwels wéér en wéér. Dis soos ’n “mini-vakansie” wanneer ek klaar is met die dag se gejaag en die aand se dinge afgehandel het. Dan klim ek in die bed met my SARIE. Baie dankie vir die wonderlike bederf!
Liesl Levey, Amanzimtoti