Sarie nóú!
My vriendin, my inspirasie onder dieselfde Suiderkruis, net aan die linkerkant van my Indiese Oseaan. Jy, self vliegvoos, kom by my aangeland nadat jy veilig in ’n hartsvriendin se tas na Perth toe verpak is. Voor ek myself tuismaak op my bed, sing ou Russell (sy van is Hobbs) en ek maak vir my die cappuccino wat as ’n
ekstra bederfpakkie in jou sak saamgekom het. Jou baadjie voel anders. Nuwe soort papier, so voel dit vir my. Of het ek jou net te lanklaas vasgehou? Jy inspireer my opnuut en steek daardie passie – van skryf in die taal waarin ek droom, dink, vry en baklei – aan die brand. Ek gun myself die bederf om vir ’n wyle net weer te wéés. In die teenwoordige tyd te leef. En toe pak die nou-ding my wat al so lank in my kop rondgedwaal het. My kreatiewe Afrikanerstem wat te lank stil was, sing, nee juig, opnuut. En briewe aan familie en vriende in my geboorteland vloei girts-garts uit my pen. SARIE, dankie vir jou inspirasie.
Karen Coetzee, Australië

Ode aan stilte
Ek assosieer stilte met die geluid van krieke wat kriek, die geluid van die nag. Ons almal smag na daardie stilte en sal ons oogtande gee om daardie stilte te ervaar. Maar wat ons nie besef nie, is dat stilte die heeltyd om ons te vinde is. Die ander dag het ek in die wingerde rondgeloop. Plaaswerkers was langs my aan die uitknip, maar behalwe vir hul geknip, kon ek niks verder hoor nie. Ek wou huil van verligting. Ek het stilte ontdek! Ons dink ons moet vlug om stilte te kan vind, maar ek dink ons moet eerder die stil plekke om ons herken vir wat dit is en dit benut ...
Lizeri Labuschagne, Paarl

Die mooi van Samaritane
Ek is ’n paar maande gelede in die Helen Joseph hospital in Johannesburg opgeneem. Dit was ’n toneel uit ’n heel ander Suid-Afrika, en in ’n sin ’n les in meer as een opsig. Met die staatsdiensstaking kry ons net die nodigste medikasie en hulp. Talle vrywilligers spring in om vloere te skrop, badkamers skoon te maak, beddens uit te skud en tydskrifte uit te deel vir ons siekes...Samaritane vriendelik met gewillige hande en ore. Ja, jongmense het kos en vrugte uitgedeel, grappe gemaak en ure by pasiënte deurgebring. Vreemdelinge het vir familie ingestaan wanneer die pasiënt op sy laaste was en geliefdes nie daar kon wees nie. ’n Vreemde “engel” het vir ’n 22-jarige vrou gesê: “Alles sal reg wees, weet jy? God is teenwoordig.” Twee jong dokters – Warren en Lauren – het ’n gebed vir my gedoen en ’n rukkie vertoef. Hulle het dit seker vir die meeste pasiënte gedoen. Ek het vir 16 dae die mooi van Samaritane ervaar. En waar God in beheer is, skyn daar altyd ’n lig.
Yvonne Lawrence, Johannesburg

Met voete
My gedagtes het begin terugloop op ver paaie toe ek jul artikel “Lopende kunswerke” (Desember 2010) lees. Op 81 sukkel ek om te loop, maar ek dra ’n skatkis van herinneringe met my saam. In die Dooie See het ek my voete vol modder gesmeer. In die Jordaanrivier het kristalhelder water oor hulle geloop, en by die Nyl wou ek hulle nie afdroog nie. By die piramides van Giza het hulle gebrand van die warm woestynsand en bo-op die Switserse Alpe het die sneeu gebyt, maar dit was heerlik. En die dag toe ek die Akropolis in Griekeland uitklim en oor Athene uitkyk, het ek geweet ons Here is groot en goed. En dáár het ek Hom geloof en gedank omdat Hy my troue metgesel op al my reise was.
Sarie du Pisanie de Bruyn, Vereeniging

Ekstra teelepel liefde
Ek is so opgewonde oor die klein SARIE KOS-boekie (Februarie) wat op my skoot val toe ek my SARIE oopmaak – my hoogtepunt elke maand. My mond water omtrent. Alles is maklik en vinnig om te maak, en dís ’n bonus. Ek hou maar by die basics, nie noodwendig omdat dit maklik is nie, maar daar is mos net nie tyd nie. En daar verlang ek met ’n knop in my keel na my ma se kos. Niemand se “grênd” kos kon nog ooit my ma se rys, vleis, en aartappels oortref nie, want sy sit ’n bietjie liefde in elke gereg. Dalk moet ons meer tyd maak om te kook, en ’n ekstra teelepel liefde byvoeg. Vergeet van die kalorieë en próé elke happie. Daar is buitendien groter denims in die winkels ...
Maré Louw, Tygervallei

Vry vrou
Baie dankie vir jul artikel “Daar ís lewe ná egskeiding” (Oktober 2010). En dit net toe ek self in die middel van ’n egskeidingsaak staan. 2010 was ’n moeilike jaar vir my. Ek het onder meer uitgevind iemand in ons binnekring het die hartseer en verwoesting van my huwelik van 25 jaar veroorsaak. Ses maande gelede het ek besef daar moet ’n ander lewe vir my wees. Dis ’n groot uitdaging om alleen te leef, maar dis goed om net myself te wees. O ja, daar kom dae dat dit voel of ek misluk het, maar die vreugde wat kleinkinders bring, laat jou weer in jouself glo. Die atmosfeer is altyd reg vir drukkies en soentjies. Vry vrou van Melkbos-aan-See

Slaan my asem weg!
Daar doen Nataniël dit weer! Dis ’n heerlike voorreg om iets te lees wat jou aan die hart gryp, woorde wat jou byna dwing om stadiger te lees omdat die betekenis van die leesstuk bykans te veel is vir jou hart ... en dan lees jy dit weer en weer en ervaar jy hoe die woorde elke keer ’n dankbare tinteling deur jou wese stuur. Eintlik behoort ek gewoond te wees daaraan. Nee, inteendeel, ek wil nooit gewoond raak daaraan nie, ek wil my keer op keer verlustig in die opregte en deernisvolle manier waarop Nataniël met my gesels oor die grootsheid van ons alledaagse lewens. Baie dankie, Nataniël, jou Kaalkop-essays is een van die mooi dinge in my lewe en slaan telkens my asem weg. Wat ’n genot.
Riana van Eyssen, Roodepoort

Patrys en Jan-Hendrik
My swangerskaptoets is negatief. Ek’s hartseer, maar ek bly aan die gang en lees later my SARIE. Groot trane rol terwyl ek jul artikel “Ons bly hoop op nuwe lewe” (Januarie 2011) lees. ’n Knop brand in my keel. Ek belééf hoe Patrys en Jan-Hendrik van der Merwe se kindertjies rondhardloop en speel op die plaas. Ek vóél die slag van onwerklikheid met die ongeluk. Ek vóél die hartseer van haar twee miskrame. Ek kan my indink hoe baie hulle al gehuil het. Vanoggend het ek die Here bevraagteken toe my binneste huiwer om weer swanger te wees. En ek dink aan duisende dinge hoekom ek my hart sal verloor as daar iets met my tweejarige poppie moet gebeur. Ek is self skuldig aan “as so iets met my moet gebeur ...” JH sê “’n mens moet waardeer wat jy het terwyl jy dit het” en “God sal weer lewe stuur as dit Sy wil is ...” Ek weet jou gló moet sterk wees.
Wendy Zeelie, Krugersdorp