Gewone heroes
Dis ná middernag en ek wag vir pasiënte in my klein heiligdom, ’n noodsentrum in ’n plattelandse hospitaal. Ek kyk na ’n voorbladfoto van ’n celeb, en dink ons word oorlaai met hoe mooi en goed bekendes is met al hul liefdadigheidswerk. By my werk sien ek daagliks ware SA stories. Ek is ’n 29-jarige vrou, ma en mediese dokter. Ek werk ongeveer 66 uur per week. As ek huis toe gaan, wag my sewe maande oue tweelingdogtertjies vir my. Hul motoriese en sosiale vaardighede is ver voor dié van hul maatjies, danksy die liefde van Maria en Emily, my engele tuis. As ek môreoggend inklok, het die suster (’n enkelma), wat baie min verdien, vir my beskuit gebak. Vir ’n bederfie omdat ek “nog nie lekker is ná gister se tragedie nie . . .” Ons sentrumpersoneel troos ’n ma wat al drie haar kinders verloor het, en hou bejaardes se hand vas ná nuus oor die groot kanker. Die ambulanspersoneel wat ure lank in minus agt grade beseerdes in die veld soek en stabiliseer, kom vra met ’n glimlag net warm koffie. My wens: Kom ons sien ook die gewone, ongepoleerde gesigte van ons local heroes om ons raak.
Dora, Vrystaat

Nederige inspirasie
Ons wou net uitkom ná weke se motreën, en toe ervaar ons meer as avontuur. ’n Prentjiemooi pad na  die Swazi-grenspos . . . Hoog in die berge, op die paadjie na die ou Diepgezet-asbesmyn, ontmoet ons die jong seun op ’n fiets. Hy lyk onseker, maar ek stel  hom gerus: Ons wil na sy spesiale fiets kyk. Die raam was dié van ’n verslete fiets, die wiele van ’n ligte kruiwa, en geen pedale. Hy moes dit stoot waar hy wou wees! Die Nike tekkie aan sy een voet was “om te rem én te stoot”. Sy naam is Ngomo, sê hy trots. In sy rugsak loer ’n hoendertjie, benoud oor sy toekoms, deur ’n gaatjie. Ek sê dankie met rooi appels en muntstukke vir sy manhaftigheid en sy hulp aan sy familie. ’n Drukkie en “God loves you, my friend” los ’n spierwit glimlag op sy gesig. Ons was al ver berg-op, toe hy steeds wuif. Ons het opnuut besef met hoe min party mense kan klaarkom. Tuis maak ons slimmer planne sodat meer dinge kan uitwerk vir 2011. Dankie, Ngomo, vir jou nederige inspirasie. Mag jou “fiets” hou totdat beter tye vir jou kom.
Connie Garrard, Kaapsche Hoop

Droomman
Met die rustige musiek van Lucas Maree se “Droomvrou” op die agtergrond sit ek en bespiegel oor my “droomman”. Hy het ’n wilde ligbruin kuif, onnutsige neutbruin oë, ’n parmantige, manlike neus met ’n paar verstrooide sproete. Sy arms span soos ’n handskoen om my middellyf. Sy mond, dié smeek altyd vir ’n soen. Ek hoor ’n vinnige voeteval en toe ek opkyk, is hy daar. My droomman in sy volle 1,13 m. En hy sê vir my: “Ouma, ek is lief vir jou!”
Ouma, Jeffreysbaai

Uit my hart
Ons het ons kosbaarste geskenk 34 jaar gelede van God ontvang – ’n pragtige seuntjie, net 5 dae oud toe ons hom aangeneem het. Agttien maande later het ons babadogter opgedaag . . . 17 dae oud. Vandag is ons grootouers vir my seun se 3-jarige dogtertjie. My meisiekind is swanger met haar eerste baba, ook ’n dogter. Ons besef daagliks hoe leeg ons lewens sonder hulle sou gewees het. Hulle is nie uit my gebore nie, maar het diep uit my hart gekom en ons koester hulle elke sekonde. Ons bid elke dag vir hul biologiese ouers vir berusting. Hulle het ons ’n kans op ouerskap gegee. Ons voel skatryk en weet God het sy kinders so lief dat Hy vir elkeen ’n tuiste sal gee.
Dankbare aanneemma, Welkom

Genoeg krag
My ses maande oue babaseuntjie lê ernstig siek in die hospitaal. ’n Nare virus het hom in sy lyf tuisgemaak. Ek word op die ergste voorberei. Die eerste nag koop ek ’n SARIE in die hospitaal-kafee. Ek kom egter nooit so ver om haar te lees nie. Met my SARIE op my skoot durf ons die nag aan. En elke keer as die monitor se alarm afgaan, druk ek die tydskrif stywer vas. So bid ek en SARIE vier nagte om langs ’n hulpelose lyfie. My stresvlakke is hoog, my kind veg om sy lewe en ek kan niks doen om te help nie. Ons is siekefondsloos in ’n peperduur hospitaal. ’n Week later gaan ons met ’n steeds siekerige seuntjie huis toe, maar hy’t oorleef. Prys die Here! My SARIE is ongelees. Sy lyk oud, verwese en opgebruik. Ek voel ook so, maar nes my tydskrif wat, ondanks dié voorkoms steeds ure se leespret inhou, weet ek diep binne my het ek die krag om die lang gesond word-pad en eindelose rekeninge aan te pak.
Juanita Peel, Pinegowrie

Trotse oomblikke
Dis my oudste kleinseun se gradeplegtigheid. Ek was al voorheen by sulke geleenthede, waar jou gedagtes soms afdwaal. Tog is hierdie een anders. Ek sien jong mense, elkeen die middelpunt van die geleentheid, trots op hul prestasies, met oë vol uitdagings vir die toekoms. Maar ek merk op dat sommige hul grootouers by dié plegtigheid mis. Trotse oomblikke soos gradedag moet gedeel word. Senior burgers, skakel met studente. Vind uit of hulle nog grootouers het en raak betrokke. Word deel van hul polsende lewe, ontmoet hul maats, luister na hul toekomsdrome, en geniet daardie oomblikke van fotomanewales op gradedag. Toon belangstelling in die akademie, en moedig hulle aan langs die sportveld. Dís die tonikum vir eensaamheid en lewensmoegheid ná aftrede. Ouma-wees is heerlik!
Leen Roux, Faerie Glen

Daardie gemis . . .
Baie dankie vir jul wonderlike tydskrif. Ek lees vandag met ’n seer hart die gedig in jul artikel oor Lucas Maree (Februarie 2011) en my hart gaan uit na sy dierbare vrou. Ek het al by baie oop grafte gestaan, en niks tref jou soos die een van ’n kind of van jou eie man nie. ’n Handvol vriende het my met liefde en deernis ondersteun toe my man sterf. Hoe moeilik moet dit nie vir mense wees wat alleen staan wanneer daar familiegevegte is nie? Of vir iemand sonder enigeen wat werklik omgee? Ek het ’n wonderlike man gehad. Ek mis die reuk van sy braaivleis. Ek mis sy groot hande om my en ons troetelwoorde vir
mekaar. Ek dink die meeste aan die eerste keer wat hy my in die reën omhels en gesoen het. Mense moet hul tyd saam geniet, onnodige gevegte los en soms maar die “opvoeding” oorsien!
Gesels net, Pellissier

Sarie knipoog
Dankie SARIE, vir ’n wonderlike jaar vol bederf wat ek en my dogter, Cornell Solomon, met jou kon deel en geniet. Dit het my dag gemáák wanneer ek jou in my posbus gekry het, geskenke en al! Ek het twee somerserpe gebrei, en gaan nou die mooi blomme vir ’n versiering op ’n baadjie aanpak, danksy jul breipatrone. SARIE KOS is ’n bonus. Smaaklike geregte uit dié tydskrif het al op ons tafel beland. Ek het ná 37 jaar in die onderwys afgetree en kan nie nou my intekening hernu nie. Maar as my begroting dit toelaat, gaan ek jou tog koop as jy vir my so knipoog op die rak! En hou aan om die pryse op te raap!
Alet Hart, Krugersdorp