Vir baie se oë, een se hart ...

Dit was moeilik om my beroep vyf maande gelede op te gee om voltyds huis te hou en ons kinders groot te maak ...

Maar soos die vrou van Spreuke wil ek ook vir jou versorg en ’n huis skep waar jy warm voel.

Van die eerste dag af het jy my lewe verander en my blyste bly maar ook my seerste seer geword. In die 2 021 dae wat hierop gevolg het, was jy elke keer die een op die wit perd in my drome.

Wanneer jou werk jou ver wegneem, verander die dae en voel dit of alles in ons huis na jou verlang. Selfs my selfoon stoor dan elk van jou sms’e, en wag dag en nag op jou stem. My tandeborsel wag soggens alleen sonder haar maatjie in die glas, jou motor wag ongeduldig in die garage, die katte raas met my omdat hul versorger nie hier is om hul kos op tyd te gee nie. Jou plekkie op die rusbank bly Nuustyd leeg en Boeta soek jou by die voordeur elke keer as hy dit hoor opgaan. En ék tel die dae af tot die dag wanneer ek lughawe toe kan ry om jou te sien stap deur “International Arrivals” se skuifdeure.

Nooit is daar ’n lekkerder rit Kaap toe as dié een nie.

Jy is soveel meer as waarvoor ek God so baie keer gevra het. Ek bars van trots om jou my man te noem en wanneer ek na jou kyk terwyl jy werk. Jou pikswart hare het stukkies grys, jou sagte bruin oë lag so maklik, jou skouers is breed, jou bene atleties en jou stem so mooi. Ek het baie gewonder as ek kon kies, sou ek wou hê ons seuns moet soos hul pa lyk of soos hy wéés ...

Nie alleen is ek gesëend genoeg om my lewe te deel met die liefde van my lewe nie, maar my man is getroud met die liefde van sý lewe en jy laat my elke dag só voel. 

Jou liefde laat my belangriker voel as enige sakevrou in ’n gesogte posisie en ook mooier as die modelle in die grimeer-advertensies in my gunsteling-tydskrif. Jou oë sien nooit my wasdag-rok raak of my deurmekaar hare of ongeverfde gesig nie. Al het ek 21 kg opgetel twee en ’n half maande gelede terwyl ek ons seuntjie verwag, gee jy steeds vir my so baie liefde. 
Ten spyte van my nukkerigheid, ongemak en moeilik-wees met jou in dié tyd, hou jy net aan ondersteun. Jou liefde dra my.

Jy kyk deur my en sien die ware ek binne, en daarom kan ek altyd myself wees by jou. Ek kan my hart by jou oopmaak en weet dat die inhoud daarvan in veilige hande is, want my seer word joune en jy deel in my blywees.

Dis waarom ek nie anders kon nie as om vir my niksvermoedende skoonma ’n paar weke gelede te vertel van my goeie man en mede-ouer. Sy’t gemeen dat die rede hiervoor toe te skryf is aan die feit dat sy ’n kwaai ma was. Maar ek weet die rede is eintlik jou hart en dat hulle onwetend al die jare die orgaan voorberei het om jou ’n wonderlike pappa en liefdevolle man te maak. Saam met jou wil ek ons twee seuns grootmaak om eendag ook goeie pa’s en mans te wees.

My lief, met geen ander mens wil ek vorentoe gaan, met geen ander mens so volkome myself wees nie, met geen ander mens kinders grootmaak nie, vir geen ander mens wag by “International Arrivals” nie, vir geen ander mens my beroep los en ’n Spreuke-vrou wees nie.

Dankie dat jy so immer-standvastig is in my lewe, my rots.

Jou Spreuke-vrou