’n Brief aan my beminde, My jong lewe was so sonder hoop en ek moes die harde grondpad van die lewe vir so lank alleen stap dat ek gedink het dis hoe my pad sou wees. Maar toe gebeur die wonder ... op daardie nat somersdag! Ek het opgekyk in jou oë en my siel het in jou vasgeslaan. Wat ek gedoen het en hoe ek oorleef het voordat jy daar was, is iets waaroor ek altyd sal wonder. Jy het my voete vlerke gegee en my stap ’n huppel. Jou sagte lag maak die modderspore in my hart elke keer skoon. Ons was maar nog baie jonk in ons liefde vir mekaar toe die groot K in ons huis ingekom het. Elke behandeling het jou leeggetap. En net toe ek gedink het dis die einde van ons lewenspaadjie saam, het God, met sy liefde en deernis, jou weer aan my teruggegee. Die dag toe die maatskaplike werker my geskakel het dat my suster se drie dogters in die kinderhuis was, het jy en jou seuntjie my toegelaat om my hartkamers met drome te vul om laggende dogtertjies in ons huis in te neem. As ek die woord “dankie” gebruik, dink ek altyd dis te min. Maar dan sien ek die vonkel in jou oog en voel ek die streling van jou groot hand oor my. Dan besef ek opnuut ek is jou ribbebeen en jy my asem. Wanneer die lewensgolwe my onderstebo slaan, is dit jy wat met jou standvastigheid my redding is. En as my hart ween van al die lelik en onregverdigheid in die lewe, is dit weer jy wat my wys dat die glas halfvol is en nie halfleeg nie. God het toegelaat dat ek vir jou rustigheid bring, en toe gee Hy my die man oor wie ek van kleintyd af gedroom en in my ontluikende vrouehart weggesluit het. Die liefde in jou oë koester my as die lewe al my blare van my stroop. Jy is my alles en jou liefde help my om myself te wees en my oë oop te hou vir ander se nood. Dankie vir jou liefde. Dis ’n onsigbare goue ketting wat elke dag sterker word, en wat my die geloof gee om te hoop en te bou. Elke gebaar is ’n baksteen wat bou aan ’n vaste fondasie wat my lewe anker en my die selfvertroue gee om te blom en te gebruik wanneer die lewe sy skewe kant vir my wys. My man, my vriend, my Lief, my lewe. Jy gee vir my die son wanneer die lewe sy winterwang vir my gee, jy is die druppels reën wat my aardse grond voed sodat die water my siel kan skoon was. Ag man, jy is sommer net mýne!