Die voorstad Montana, Pretoria, is 'n tipiese voorbeeld van die Amerikaners se white picket fence dream. Dít is die lewe wat die gemeenskap gedink het Susan Visser (nou Lemmer) en haar gesin in die vroeë negentigs gelei het. 'n Mooi huis. Oulike mense. En 'n mooi, voorbeeldige dogter ...

Maar die gelukkige gesin, wat soms by die Wimpy ontbyt geëet het, en die pynlik netjiese huis was 'n front. Niemand mag geweet het wat eintlik in die Vissers se huis aangaan nie, vertel Susan Lemmer. Sy het haar dogter van kleins af geleer om altyd onberispelik aan te trek "sodat die wêreld na buite nie kan sien alles is nie pluis by die huis nie," het Cézanne my self vertel.

"Daar was 'n vaste reël. Niemand, nie familie of vriende,mag onaangekondig opgedaag het nie," sê Susan. Haar huwelik met Johan Visser, Cézanne se pa,was moeilik. Tussen die woede-uitbarstings deur sou Cézanne saans doodstil aangaan met haar studies.

"Die volgende oggend maak al drie van ons asof niks gebeur het nie,"sê Susan. Sy gun Cézanne die goeie verhouding wat sy deesdae met haar pa het. "Maar dit wat in ons gesin gebeur het, kan nie weggepraat word nie."

Susan het gedurende die hofsaak getuig dat huislike omstandighede deels verantwoordelik was vir wat met Cézanne gebeur het - dat sy in die kloue van Dirk Prinsloo beland het, die blondine met die vergrote

 

"Sy was die pragtigste kleuter met blonde hare en groot bruin oë. Sy is 'n slim enetjie, het haar oupa altyd gesê. My drome was dat haar toekoms anders as myne sou wees." - Susan

borste wat die land as adv.Barbie by die Idols-oudisies leer ken het. En wat nou sewe jaar tronkstraf vir 11 seksverwante klagte uitdien,insluitend kinderpornografie en die onsedelike aanranding van twee tienermeisies.

Ons gesels vandag in Susan se mooi huis in'n veiligheidskompleks in Pretoria. Sy het stylvolle meubels en buite staan haar Jaguar. Sy het 'n goeie pos in die korporatiewe wêreld. Maar haar hart is stukkend oor haar lieflingkind wat in die tronk is. Boonop is haar tweede huwelik, met Johann Lemmer, op die rotse. Haar lewe is 'n warboel van tronkbesoeke, werk en huweliksterapie en sy is so na aan in duie stort as kan kom.

"Ek kan nie nou aan skei dink nie. Ek sal nie dit ook nog kan hanteer nie." Sy het Johann tydens die hofsaak ontmoet toe hy as seksuologie-kenner insette gelewer het.

"My ridder op die wit perd, maar hy het hard gewerk aan Cézanne se saak en hy steun my steeds."

Sy weet nie nou hoe sy van dag tot dag gaan oorleef nie. Vir haar het die trauma en spanning van jare tot 'n punt gekom. Dis 'n aanpassing om alleen in die huis te wees: Sy en haar vrae oor hoe dinge vir hulle so verkeerd kon loop. Sy sê Cézanne het God om vergifnis gevra. "Hy het haar vergewe,maar mense kan nie."

Susan wou graag tydens die hofsaak met die betrokke tieners en hul ouers kontak maak om vir hulle te

 

"Ek verkwalik myself daarvoor.Ek het in my ongelukkige huwelik gebly omdat ek gedink het ek kan nie wegbreek nie." - Susan

 

vertel Cézanne sê sy is jammer. En dat sy self ook jammer is oor wat gebeur het. Volgens wet mag sy egter nie met hulle gepraat het nie.

"Ek wil dit steeds graag vir hulle sê." Tronkbesoeke breek haar hart. "Weet jy hoe dit voel om deur glas met jou kind te moet gesels? Dit was net so swaar om in die hof te sit. Jy wil haar beskerm, maar jy weet nie hoe nie."

Sy voel haar kind se vrese en pyn aan.

Niemand sal haar ooit kan oortuig dat Cézanne nie 'n intense vrees vir Dirk Prinsloo gehad het nie. En al lyk dit of Cézanne in die tronk aanpas, weet sy haar dogter is bang.

"Jy ken jou kind. Sy glimlag dapper, maar haar oë smeek: Mamma, vat my hier uit!"

As deel van haar eie terapie gaan Susan 'n boek skryf."'n Storie waaruit ander ma's kan leer. My kind het binne 'n jaar van 'n konserwatiewe cum laude-student in Dirk se seksslaaf verander. Dit kan met enigeen se dogter gebeur."

Sy wil die agtergrond skets wat sy meen daartoe gelei het dat Cézanne in Dirk se mag beland het.

"Ek verkwalik myself daarvoor.Ek het in my ongelukkige huwelik gebly omdat ek gedink het ek kan nie wegbreek nie." Dís gevolglik die rolmodel wat sy vir haar dogter was.

"My voorbeeld as ma het haar op 'n manier in Dirk se arms gedryf. Sy het van kleins af geleer om 'n man te

ESKLUSIEF - Cézanne se eerste week in die tronk

Cezanne Visser het die eerste week van haar sewe jaar tronkstraf agter die blad en sy probeer so dapper as moontlik om aan te pas. Ma Susan vertel

 

 please."

Sy vertel hoe Cézanne as dogtertjie haar pa se kant gekies het as daar rusies tussen hom en Susan was. Dit het seergemaak. "Maar,as sy haar pa gepaai het, het hy my uitgelos. Die patroon het voortgegaan tot sy op universiteit was."

Enkele maande nadat Cézanne by Dirk ingetrek het,het Susan van Johan Visser geskei.

"Ons het vir 'n ruk saam probeer om ons kind van Dirk af terug te wen, maar ons het toe al jare nie meer 'n kamer gedeel nie." Johan was haar skoolliefde. "Die meisies was mal oor hom.Ek het gedink ek is die gelukkigste meisie op aarde toe ons begin uitgaan het."

Ná matriek het Susan by die destydse Normaalkollege in Pretoria onderwys gaan studeer en Johan is weermag toe. Kort ná haar eerste jaar begin het, het sy ontdek sy is swanger.Op 19 is sy getroud en op 20 was sy ma.

"Ek het gesukkel om die swangerskap te aanvaar, maar toe hulle Cézanne se wiegie langs my bed inskuif

 

"Hoe meer jy baklei om jou kind uit 'n verkeerde verhouding te kry, hoe minder help dit." - Susan

 

en ek my vinger na haar uitsteek, het sy dit met haar handjie vasgevat. Daardie oomblik is 'n hegte band gevorm." Omdat Susan self in 'n gebroke huis grootgeword het, het sy haar voorgeneem sy en Johan gaan die gelukkigste huis vir hul babadogtertjie skep.Hy het toe by die Nasionale Intelligensiediens (NID) gewerk en Susan het Cézanne versorg.

"Sy was die pragtigste kleuter met blonde hare en groot bruin oë. Sy is 'n slim enetjie, het haar oupa altyd gesê. My drome was dat haar toekoms anders as myne sou wees." Johan het later baie van werk verander.

"Cézanne was in vyf laer skole. Altyd die nuwe kind in die skool, maar altyd 'n presteerder." Skoolmaats het haar beny oor haar ma haar beste vriendin kon wees. Al was Cézanne nie 'n rebelse tiener nie, het ma en dogter soms ook "lekker vasgehaak".

"Ek moet beken dat Cézanne altyd die een was wat kom vrede maak het," vertel Susan. Op universiteit sou Susan enigiets doen om haar kind se regstudie te vergemaklik.Sy het laataand vir haar voor die klasse sit en wag.

"Cézanne het dit waardeer en soms vir my 'n borrelbad vol roosblare getap. Dan het sy op die badmatjie gesit en als vertel wat sy die dag geleer het." Susan besef die spanning in die huis was vir Cézanne op hoër skool en op universiteit moeilik en dat dit is hoekom sy haarself so in haar studies begrawe het.

"Toe sy haar regsgrade met lof slaag, was ek die trotsste ma. My drome vir haar het begin waar word. My hart het tjoklits geklop toe Cézanne advokaat by die onafhanklike balie word." Maar iets aan Dirk, destyds voorsitter van die Gautengse onafhanklike balie, het Susan van die begin af gepla. As ma moes sy magteloos toekyk hoe als waarop sy gehoop het en waarvoor haar kind gewerk het deur Cézanne se verhouding met Dirk vernietig word. Mooipraat en preek het op dowe ore geval.

"Hoe meer jy baklei om jou kind uit 'n verkeerde verhouding te kry, hoe minder help dit."

Haar ongelukkigheid oor Cézanne se verhouding met Dirk het op 'n hofinterdik teen haar en Cézanne se pa uitgeloop. Die res is hofgeskiedenis.

 

"Cézanne het my een aand badkamer toe geroep om iets vir haar te bring. Dit was die eerste keer dat ek gesien het hoe mismaak my kind se liggaam is." - Susan

 

"Dit was in daardie nege maande, toe ek kragtens die interdik nie met my kind kontak mag gemaak het nie,dat die verskriklike goed gebeur het." Susan wou uitvind wat in Dirk se verlede aangegaan het.

"Die man van Dirk se eerste meisie het my gebel en gesê hy bestee derduisende rande op haar terapie om te vergeet wat met haar gebeur het en hy sal ons dagvaar as ons enige kontak met haar maak. En Dirk se gewese vrou, wat intussen weer getroud is, se skoonpa ('n prokureur) het my gewaarsku om weg te bly van haar af.

"Maar dit was duidelik my kind is met 'n gevaarlike man deurmekaar. Ses maande voor hul inhegtenisneming het 'n private speurder my ingelig die polisie ondersoek dade met kinders teen Dirk en Cézanne.Ondanks waarskuwings wou sy niks weet van wegbreek nie.Ek het geweet dit stuur op 'n ramp af."

Met die inhegtenisneming op 19 Desember 2002 het Cézanne Susan histeries gebel.

"My grootste vrese het waar geword en ek het na hul huis gejaag. Dit was 'n warboel van polisievoertuie. Ek moes toekyk hoe my kind geboei word. Die polisie het die huis deursoek."

Cézanne is die dag voor Kersfees op borgtog uitgelaat met die voorwaarde dat sy nie met Dirk kontak maak nie. Ná 'n paar maande het Dirk Cézanne oorgehaal om na hom terug te gaan sodat hulle "saam teen die saak kan veg".

"Ek het toe begin om Dirk se eie game met mening met hom te speel om my kind terug te kry. Ek het hom gekomplimenteer en sy vertroue begin wen." Susan was op 'n sakebesoek in Kaapstad en Cézanne het Dirk gesmeek om haar na haar ma toe te laat vlieg, want ma en dogter het lankal gedroom van 'n vakansie saam. Dirk het ingestem, maar Cézanne moes dagboek hou van wat sy doen en elke 15 tot 30 minute het Dirk haar gebel, of sy het hom gebel.

"Cézanne het my een aand badkamer toe geroep om iets vir haar te bring. Dit was die eerste keer dat ek

 

"Ek het weer hoop vir my kind. Ek sien haar vorentoe as 'n motiveringspreker wat kan keer dat ander vroue in dieselfde situasie beland." - Susan

 gesien het hoe mismaak my kind se liggaam is. Sy was brandmaer en vol ringetjies deur al die erotiese dele van haar lyf. Dan was daar die tatoeëermerke." Sy moes vir Cézanne in Kaapstad ander klere koop, want Dirk het net skrapse klere vir haar ingepak. (Hy het elke dag besluit wat sy mag dra.)

"Ek was so geskok toe my kind van die vliegtuig af klim met 'n toppie wat skaars die groot borste bedek.Sy was 'n totale spektakel. Dis nie lekker om jou dogter so te sien nie.

"Tydens ons vakansie was sy weer die ou Cézanne, maar sy het my vertel van al die verskriklike goed wat gebeur het. Ek het haar gevra hoekom sy nie wegbreek nie. 'Mamma,hy sal my doodmaak ...' Ek kon vrees in haar oë sien." Susan verwyt haarself oor 'n stelling wat Cézanne een keer gemaak het:

"Mamma, hoekom het jy my nie teen mans soos Dirk gewaarsku nie?"

Sy voel sy het haar kind te karige seksvoorligting gegee. Cézanne was 'n naïewe maagd toe sy Dirk op 24 ontmoet het.

"Omdat Dirk my al meer begin vertrou het, kon Cézanne soms deur die week by my kom kuier.Ons het weer die ou ma-en-dogter-verhouding herstel. Dié band was my wapen teen Dirk en hy het my daaroor gehaat."

Cézanne het al traer geraak om terug te gaan na die plaas op Bela-Bela, waar hulle toe gewoon het. Uiteindelik het die breuk gekom waarop Susan gehoop het. Maar saam daarmee ook die vrees. "Dirk het gedreig om ons albei te vermoor. Ons het by vriende gaan bly." Voor Dirk se inhegtenisname in Rusland - nadat hy 'n bank probeer beroof het - was Susan en Cézanne elke keer vreesbevange om in die openbaar te verskyn. Cézanne het geglo hy sal 'n skerpskutter kry om haar te vermoor of 'n bom by die hof laat plant.

Hy het haar altyd vertel dat hy eendag nog 'n "groot" misdaad sou pleeg en dat almal hom daarvoor sal onthou.Sy het geglo hy is in staat om so iets te doen omdat hy heeltemal wapenbehep was. Hulle was verlig toe hy in Rusland vir 13 jaar tronk toe gestuur is. Cézanne het my by geleentheid vertel dat sy nou "absoluut niks vir Dirk voel nie". Hy het haar lewe vernietig, en sy was dankbaar dat haar ma vir haar 'n "ontsnaproete"geskep het. Sy het haar ma ook geloof vir al haar hulp.

Cézanne het vertel hoe sy eers nie baie geneë was om in die openbaar te verskyn nie omdat mense haar herken het. Maar Susan het haar stelselmatig by haar eie vriendekring ingetrek.

"My ma het my soms gespot dat ek weer die ou konserwatiewe Cézanne geword het," het Cézanne gesê.

"Ek het probeer om ons lewens so normaal moontlik te laat aangaan," sê Susan.

Tydens die hofsaak het die huishouding deur fases gegaan waarin almal opgewonde was oor 'n nuwe stukkie getuienis wat kan help,maar ook die aftye wanneer dinge nie goed gelyk het nie.

"'n Mens leef tussen hoop, teleurstellings,vrese en jy bid jou knieë deur," sê Susan.

Cézanne moes verskeie terapie-sessies ondergaan om haar ervaringe te verwerk, maar sy het weer geleer om 'n man te vertrou, het sy my self vertel. Susan wil nie uitwei oor Cézanne se vriend van die afgelope twee jaar nie.

"Hy is 'n goeie man wat Cézanne tot dusver goed ondersteun het.Cézanne het vir hom 'n ring gegee om hom aan haar te herinner terwyl sy tronkstraf uitdien." Die koste van Cézanne se hofsaak was hoog en dit het groot finansiële eise aan Susan gestel.Sy sal hard moet werk om 'n neseier op te bou vir ingeval Cézanne in die toekoms weer regshulp nodig het. Maar sy wil in die eerste plek haar kind ondersteun.

"Cézanne mag nooit twyfel dat ek daar is vir haar nie." Soms moet sy sterk wees,al breek haar hart.Susan was en is bereid om haar kind soos 'n tierwyfie te beskerm teen mense se oordeel.Sy het die afgelope jare emmers vol trane gestort, maar sy sou haar kind nooit verwerp nie.

Cézanne sal hopelik betrokke raak by regswerk in die tronk.Die gevangenisowerhede ondersoek dié moontlikheid.

"Ek het weer hoop vir my kind. Ek sien haar vorentoe as 'n motiveringspreker wat kan keer dat ander vroue in dieselfde situasie beland." Sy sien haar kind ook eendag as 'n gelukkig getroude vrou met kinders." Maar dit sal 'n baie spesiale man moet wees wat begrip het vir wat met haar gebeur het."

En ja,sy glo die white picket fence dream ís moontlik vir Cézanne. "Veral teen die einde van die saak het Cézanne baie neerslagtig geraak. Maar dan het ek vir haar gesê: 'Kom, Zanie, ons trek jou mooi aan. Jy hoef nie jou seer vir die buitewêreld te wys nie."

**Twee dae ná haar onderhoud met SARIE is Susan in die hospitaal opgeneem om te rus.

Foto: www.dieburger.com