My alles!

Soos die vliegtuig doer bo in die bloue hemelruim geruisloos afswiep Kaapstad toe, so vlieg my gedagtes hier op die Karoo-plaas na jou by die Landbou-konferensie. En terselfdertyd dink ek terug aan daardie onvergeetlike aand in September, 14 jaar gelede, toe ek jou ontmoet het. Ek besef weer hoe jy soos ’n warrelwind my voete totaal onder my uitgeruk het. Ek sou nooit kon droom dat ek jou, my geliefde, op ’n klein Karoo-dorpie se eeufeesvieringe sou ontmoet nie. Jy het onmiddellik my hart gesteel. Dit sou nooit net ’n droom wees nie. Jy het intussen myne geword. Jy sal onthou dat my familie en ek per motor op pad was na jou Karoo-dorp se eeufeesvieringe. Dit was ’n snikhete dag. Die N1 het ons geneem verby Beaufort-Wes, Victoria-Wes en Britstown. Was dit ’n nuwe ervaring vir my gesin? O nee. Ons het mos ses jaar op jou dorp gewoon. Dit was of ons weer op ons ou voetspote wou teruggaan. 

Ons het eerste jul kerktoring gesien, en toe die verwelkomingsbordjie “Kom geniet ons koeltebome”. Ons eerste kind is, soos ek, later in dieselfde kerk in dieselfde dooprokkie gebore. Weet jy, ek het nog nooit weer ’n kerk so uit sy nate sien bars soos daai laaste oggend van die reünie nie.

Onthou jy nog iets van daardie Saterdagaand? Daar was mos ’n dans in die Landbousaal, en min het ek geweet dat ek my hart net daar vir ewig en altyd sou verloor op ’n aantreklike jong vrygesel van die omgewing! 

Ek het jou opgemerk, en jy was toe nog ’n totale vreemdeling vir my. Ek is toe uiteindelik aan jou voorgestel. Die koeël was deur die kerk. Ek was so verlief soos nog nooit tevore nie. Ek onthou van ’n boervrou wat die aand vir my gesê het ’n mens huil net twee maal oor die Karoo – die dag wanneer jy jou daar vestig en die dag wanneer jy die Karoo verlaat. 

Ek het vir ’n jaar my vlerke gesprei oorsee, maar nooit van jou vergeet nie. Met my terugkoms van oorsee, moes ek baie hartseerpaadjies alleen stap. Ek het gewens jy was daar. En toe, twee jaar later het ek jou eers weer gesien. Ek het nog presies dieselfde oor jou gevoel. Ons kuiertjies was maar bra min, want Drie Susters is ver van die Kaap. Soveel ongetroude en onverloofde vroue het jou soos ’n springbok gejag – tydig en ontydig. Maar ek het met die louere weggestap. Jy’s my Karoo-ridder!

Vroeg in 2000 het ek die see, wat so stormagtig kan raak met branders wat spoeg, raas en slaan en seestrome wat jou kan meesleur, verruil vir die pragtige, stil Karoo. Weet jy, sy eindelose vlaktes, asemrowende sterrehemel, stofpaaie, skape se geblêr, skroeiende hitte en die ongelooflike reuk van reën, het my die Karoo se unieke bekoring laat besef. Sonsopkoms lyk vir my soos iets uit ’n plaasspens, die sonsak soos skilderye vol kleur. Wanneer die weer opsteek, borrel daar die allermooiste wolkformasies op die horison en die weerligstrale lyk kompleet soos iemand wat besig is om te swys. Die hemelruim bulder en brom dan onwillekeurig. Ek besef dat hierdie wêreld my nederig en dankbaar hou.

Alles is vir my so ’n nuwe ervaring – vleiswerk, biltong en droëwors maak, konfyt maak, olywe inlê, lekkers maak van kwepers, beskuit en brood bak, en appelkoosblatjang maak.

Ons het so afhanklik van mekaar geraak. Ek kry ook ’n beter insig van skaapboerdery ... nie net ’n “gone fishing”-werk nie. Jou liefde vir die boerdery is vir my ’n riem onder die hart. So ook jou liefde vir jou skaaphond, wat 13 jaar deel was van jou lewe en jy noodgedwonge moes uitsit.

Ná soveel jare groei my liefde steeds vir jou. Groep 2 se liedjie “Daar is niks soos ware liefde” draai nou in my kop. Ek het na my geboortedorp teruggekeer. Dink jy nie ook dat ons sirkel voltooi nie?

Skielik lyk my rekenaar strak en donker teen die oorweldigende blink krag van opregte liefde! Vroeër was die Karoo net deel van jou, maar sedert 1 Januarie 2000 – ons troudag – deel ons twee ons liefde vir mekaar en vir die Karoo ... vir ewig en altyd.