My eerste liefdesbrief aan jou, Gert Ná my man se dood het ek nie gedink ek sou weer verlief raak nie. Ek wou ook nie. Ek het geweet die Here het ’n sin vir humor, net nie besef hoe erg nie. Voor ek geweet het wat gebeur, het ek ’n liefde vir jou in my hart gekry. Net Jesus kon dit daar plant. Ons is al baie lank goeie vriende, maar het nooit kon droom dat ek en jy bymekaar sou kom en so lief sou word vir mekaar nie. Lief, ek wil vir jou sê jy is die mees romantiese, eerbaarste, aantreklikste man wat ek ken. Ek wil vir jou dankie sê vir al die bederfies en die omgee. Ek glo daar is niks so wonderlik as om te kyk in die oë van die man wat jy liefhet, en opregte liefde, verliefdheid en respek te sien nie. Jy laat my altyd belangrik voel, en het weer die vrou in my wakker gemaak. Ons vrouens vergeet later dat ons mooi is van binne en buite. Jy het my dit opnuut laat besef. Ek voel weer lewendig en mooi. Die belangrikste wat jy my geleer het, is om tevrede te wees met my liggaam en lief te wees vir myself net soos ek is. Ek en jy kan saam gesels, saam hartseer wees, saam oopbek lag. En kan ons lág! Ai, Bok, dis so lekker om jou in my lewe te hê. Ja, ek moet vir jou dankie sê dat jy my partykeer reghelp. Ek waardeer dit, want ek weet jy is opreg. Ek het mos altyd vir jou gesê ek is nie die normale vrou nie! Jy het gesê jy’t gehoor twee mense moet sewe sakke sout opeet, maar nie geweet binne sewe maande nie! Wel, Bok, dankie vir die vasbyt. Dit was absoluut die moeite werd, want jy is die sout van die aarde vir my. Jou positiwiteit in die lewe is aansteeklik. Jy lag altyd, is nederig, toon naasteliefde en het altyd tyd vir almal. Dankie daarvoor. Elke vrou begeer ’n godvresende man, en daar gee Jesus toe vir my een. Ek is bevoorreg. Jy was altyd my rolstoelmaatjie, onthou jy? Nou, Gert van Wyk, is jy my rolstoel-liefling. Die sonsondergang het ’n nuwe betekenis vir my sedert ek en jy dit so baie keer met ’n glasie wyn op Melkbosstrand geniet. Ek wil hê jy moet weet ek is baie trots op jou dat jy tweede gekom het by die Outeniqua Wheelchair Challenge op George. Dit was fantasties. Jy het dit verdien. Jy’t hard geoefen en het uithouvermoë soos min. Ek sal jou altyd bystaan met jou sport en jou beste ondersteuner wees. Lovies