Copiapó, Chili.

33 mynwerkers het vir die eerste keer in omtrent 2 maande, weer daglig gesien. Dit was een van die grootste reddingspogings van sy soort, en op 'n diepte van 652 m, suksesvol uitgevoer. In Camp Hope, die tydelike verblyf van die honderde familielede, vriende en nuuskieriges en 'n magdom joernaliste, word angstig  gewag op die myners se terugkeer na hul geliefdes. Die mynwerkers was sedert 5 Augustus 2010 vasgekeer ná 'n ondergrondse rotsstorting in die San José-myn in die Atacama-woestyn.

Hulle is in 3 groepe verdeel vir die reddingspoging: Dié wie se geestestoestand die beste is, sal eerste uitkom, sodat hulle indien iets skeefloop, dit sal kan hanteer. Die tweede groep werkers is dié met mediese probleme. Daar is so 5 van hulle. En laastens sal dié wat fisiek baie sterk is, uitgelig word.
Kyk die video van die eerste reddingspoging

Het jy geweet?

  • Die kapsule waarin hulle opgehys word, word die Phoenix genoem. Aan boord is 'n suurstofmasker, mediese instrumente, 'n radio en 'n videokamera sodat die reddingswerkers elke mynwerker se toestand kan monitor.

Die Phoenix-kapsule waarin hulle gered gaan word
foto: www.telegraph.co.uk

Vir elke myner wag daar sokkerkaartjies om Real Madrid teen Manchester United te gaan kyk, en 'n duur vakansie op die Griekse eilande ('n geskenk van 'n flambojante sanger wat nou 'n mynmagnaat is).

Een van die myners, Ariel Ticona, het pa geword tydens sy ondergrondse verblyf. En hy het met 'n handgeskrewe brief laat weet sy dogtertjie moet Esperanza heet. Dis Spaans vir hoop. 

Wetenskaplikes by NASA het 'n hoë-proteïen-dieet voorgestel wat in 'n vloeistofvorm vir hulle gegee is. Dit voorkom ook dat hul naar word op pad boontoe.
Hulle moes aërobiese oefening onder die grond doen om hul kardiovaskulêre funksies aan die gang te hou, hul spiertonus te verbeter en sodat hulle oortollige liggaamsvet kon verbrand om in die kapsule te pas. Elkeen moes die Zephyr BioHarness dra, iets soortgelyks aan wat NASA se ruimtevaarders gebruik om hul hartklop en longaktiwiteit te monitor.
Elke mynwerker het elke dag aspirien gedrink om bloedklonte te voorkom as gevolg van hul verswakte longtoestand.
Vir die rit na bo het Oakley vir elke mynwerker spesiale sonbrille geskenk om hul oë te beskerm teen die fel sonlig, sand en stof wat hulle op die oppervlak sal begroet. Hulle word in donkerkamers behandel nadat hulle uitkom.
Kamp Hoop
Kamp Hoop
- waar honderde familielede, vriende en nuuskieriges wag op die koms van die mynwerkers.

Hoe gemaak as hulle bo is?

Die hele area by die myn is ingerig vir die koms van die mynwerkers. Daar's 'n roete wat elkeen gaan volg sodra hy bo is. Met mediese sorg wat prioriteit kry.

1. Onmiddelike mediese hulp

2. Primêre mediese sorg met 'n volledige ondersoek van elke mynwerker

3. Hier ontmoet mynwerkers hul familie en vriende

4. Ontmoeting met die president van Chili en ander afgevaardigdes

5. Pers-area

Bron: www.cnn.com

 
Bronne: Kentucky.com, CNN.com, bbc.com