“As jy ’n kansie het, skryf aan my ook ’n briefie ...” Dis nou my nooi daai, jy weet ... Dink ek sal nie aan haar wil skryf nie, nou skimp sy maar. Aan my liefste meisie, my droomnooi, my bruinoog-engel, my enigste, my alles, Hierdie brief is vir Vrydagaand. Om aan te vul waar ek moet “army” toe gaan. En daarom, aan jou, net my mooiste gedagtes. Slegs een van die duisende wat daagliks deur my benewelde gedagtes spoel, deur die mislae van jou liefde wat ek hierbinne my ronddra. Ek dink aan my lewe, vaal, toonloos ... sommer maar net. In my geestesoog sien ek myself as ’n “flutterby” (skoenlapper) op ’n stille windvlug deur ’n digte woud. Hoë bome so hoog dat hul kroon nie sigbaar is nie, saamgepak om ’n oordak te word waardeur slegs enkele sonstrale gesif word. ’n Massa van smaraggroen in smeltende skakerings. So ver as wat ek kan sien is die grondoppervlakte deur ’n sagte mat van klawers bedek, roesrooi en groen, en groen en roesrooi. Hier en daar is daar kolle madeliefies, geel en wit, oranje en room. Te bang om een aan te raak, sit ek my vlug voort, op soek na iets, maar wat?Stil sweef ek voort na die hart van die woud. Dit word mistig, heerlik koel, dit slaan teen my aan. Ek was nog nooit hier nie, hier moet ... hier moet iets wonderliks wees ’n Waterval! Duisende stroompies water, kristalhelder, vloei saam om in een watermassa na benede te stort. Die bron van die mis. Dis soos ’n paradys. Varings, alle soorte en groottes staan bankvas, mos wat aan repe van die bome afhang. En daar ... wat is dit? ’n Orgidee – ’n meisie genaamd Esta. Die mooiste wat ek nog gesien het. Met bewondering en ingehoue asem bestudeer ek al die fyn besonderhede van die blom se skoonheid – kroonblare, in skakerings van ligroos tot ligpers tot donkerpers (jou persoonlikheid, karakter en eienskappe vorm ’n kaleidoskoop van kleur wat my in ’n hipnose plaas.) Geel helmdrade, fluweelsag (jou arms) vorm ’n binnesirkel, roepend, byna smekend. Diep, diep in die kern van die blom, ’n pêrel ... nee, ’n doudruppel-nektar (jou liefde), wat aan die atmosfeer ’n oorweldigende soet reuk gee. Skielik besef ek dat ek geen skoenlapper is nie, maar ’n jong man op soek na liefde. Stadig, baie stadig en met ’n benewelde hand reik ek uit om hierdie manjifieke blom aan te raak, en dan gebeur die ongelooflike. Die blom groei en hou aan met groei totdat dit my verdwerg. Stadig reik die helmdrade na my uit om my fluweelsag te omvou. Ek probeer spartel, ek is bang, maar ek kan niks doen nie. My verstand is bedwelmd, ek is lam, want die soet geur van die nektar (jou liefde) is soos ’n verdowingsmiddel in my gestel. My kop tol, ek hallusineer en ’n gevoel spoel my binne wat ek nog nooit ervaar het nie. Ek wil skreeu, lag en bokspring, want dis die wonderlikste gevoel ooit. Baie sag en stadig word ek deur die fluweelsagte helmdrade van my voete af gelig. Buigend beweeg hulle na binne, om my weg te voer, dieper, al dieper, tot in die hart van die blom. En daar, diep in die hart word ek in die nektar ingedompel. ’n Doudruppel van liefde, iets waarsonder ek nie wil leef nie. My grootste wens is dat my orgidee met my in die kern, in porselein sal verander sodat ek vir ewig vasgevang is in haar arms waar sy my sal vertroetel en voed met haar liefde (dat ons mag trou). Ek wil in die dieptes van jou hart bly, iets waaraan jy altyd kan vasklou sodat ons saam die storms van die lewe kan aandurf. My hart het ek aan jou gegee. ’n Orgidee – koningin van die blomme – jou het ek gekies bo al die madeliefies. Ek het jou lief, só lief dat dit seermaak, maar ’n pyn waarsonder ek nooit wil leef nie. Ek en jy gaan saam die lewe in, hand aan hand, op soek na die beter en dieper fasette van die lewe. Sjoe, my hand is lam, nie gewoond aan penstoot nie, maar vir jou gee ek al my liefde en drome, en ek hoop ek kon met die paar woorde aan jou my wonderlike prentjie teken. Van jou hopelose verliefde ou ...