"Mamma, kom sit by my en kyk hoe mooi is die sterre.

”Die blitse het op die horison gespeel. “Kom in, dis koud,” het Patrys van der Merwe gemaan.

Dit was asof die sterre daardie aand in Mei 2009 baie laag oor die plaasopstal gehang het en ’n mens aan die hemel kon raak.

Kirsten (4) moes geweet het dis ’n kosbare oomblik saam met haar ma...

‘God sal weer lewe stuur as dit Sy wil is’ - Patrys

Op Elandsfontein het seker al ’n miljoen trane geval, skat jy as jy verby die twee vertikale rotse naby die Karoo-plaashuis buite Victoria-Wes ry. Voor die rotse draai windpompies langs twee kruise. Dis hier naby waar Kirsten en haar boetie, Phillip (1), op 18 Mei 2009 gesterf het toe die deur van hul pa se bakkie (wat maande lank vasgesit het) in ’n fratsongeluk oopgegaan en hulle onder die agterwiel beland het.

Die ongeluk het die land aangegryp. Nou, twee jaar later, moet Patrys (suster van die oud-Springbok rugbykaptein Corné Krige se vrou, Justine) en haar man, Jan-Hendrik van der Merwe, opnuut verlies verwerk. Sy het pas vir die tweede keer sedert daardie hartseer dag ’n miskraam gehad.

Hulle het net begin opgewonde raak oor die baba wat in Mei gebore sou word toe die slegte nuus 12 weke in die swangerskap kom dat daar nie meer ’n hartkloppie is nie.

Destyds het Patrys kort ná die kinders se ongeluk ’n operasie ondergaan om kankerselle uit haar serviks te verwyder. Dié nuus is verdof deur die seer oor haar kinders.

“Dit was maar net nóg ’n ding wat ons getref het. Ons wou toets of ons weer kinders sou kon hê en toe kry hulle die kankerselle. Ek wou altyd ’n derde kind gehad het, maar Jan- Hendrik het toe die kinders nog geleef het, gevoel twee is genoeg.”

Langs die kombuistafel vertel hulle hoe Patrys toe weer swanger geraak het, maar hoe dit in Desember 2009 in ’n miskraam geëindig het. En nou dié tweede teleurstelling.

In Mei is dit twee jaar sedert Kirsten en Boeta se dood. Vanjaar sou dit ook ’n viering van nuwe lewe gewees het.

“’n Viering wat nou net uitgestel is totdat God glo die tyd is reg,” sê Patrys. “Hy sal weer lewe stuur as dit Sy wil is.”

’n Baba sal nie ’n plaasvervanger vir die oudste twee wees nie. “As ons weer ’n baba het, sal hy of sy ’n unieke wesentjie wees,” verseker Jan-Hendrik.

Níks kan hul kinders vervang nie. Hulle aanvaar ook nie hulle dood nie.

“Ons het net ’n keuse gemaak om daarmee saam te leef. Ons moes kies om aan te gaan, want daar was nie ’n ander uitweg nie,” sê Patrys.

‘Ons het daardie dag besluit ons sal saam deur hierdie ding kom’ - Jan-Hendrik

“Ons het verlede jaar met die eerste swangerskap vir niemand gesê ons verwag weer ’n baba nie,” vertel Patrys. “Toe ek op agt weke begin bloei, het ek die ginekoloog gebel. Hy het gevra of hy moet toets of daar nog lewe is, maar ek het geweet dis verby.”

Sy het van die begin van daardie eerste swangerskap nie gereed gevoel daarvoor nie.

“Asof die Here my voorberei het dat die baba nie sal leef nie.”

Nadat haar liggaam van die miskraam herstel het, wou sy weer swanger raak en het gespanne geraak
daaroor.

“Tot my ginekoloog vir my gesê het ek moet ’n swangerskap uit my gedagtes sny en my lyf ’n jaar kans gee.”

Begin September 2010 het sy ontdek daar is weer hoop.

“Soos die vorige keer wou ek nie te vinnig vir mense vertel nie. Ek en Jan-Hendrik het gewag voor ons
opgewonde raak. Miskien is ’n mens ná al die seer bang om nóg seer te kry.”

Maar net toe hulle begin hoop dinge gaan dié keer tog reg uitwerk, het ’n sonar gewys die hartjie het ophou klop . . .

Hulle is saam al deur soveel pyn.

“Ons het daardie dag van die ongeluk vir ’n uur alleen gesit en wag vir hulp. Ons het tóé besluit ons sal
saam deur hierdie ding kom. Dít sal dit vir ons makliker maak,” vertel Jan-Hendrik.

Natuurlik is die wonde nog daar en die trane vloei vrylik langs die kombuistafel as hulle daaroor praat. Maar hulle praat van die begin af eintlik maklik oor die kinders, vertel hulle.

“’n Mens dink nie hoe jy sonder hulle sal kan aangaan nie. Jy doen dit net,” sê Jan-Hendrik.

Agt jaar gelede het hy op die ongeluk afgekom waarin sy ma gesterf het.

“Dis ’n harde slag. Maar jou kinders se dood slaan dubbel so hard,” vertel die skaapboer wat gereeld die veld instap met sy seer.

Jan-Hendrik het Patrys ontmoet op een van haar familie se reünies op ’n plaas in die distrik.

 

“’n Mens dink nie hoe jy sonder hulle sal kan aangaan nie. Jy doen dit net.” - Jan-Hendrik

“Ek is gevra om te kom help braai vir al die mense. Ek het die Vrydag daar gekom en is eers vier dae later
daar weg! Ek is selfs op die familiefoto wat geneem is.”

Dié lang Springbok-netbalspeler van Ceres móét hy plaas toe lok, het hy besluit. Hulle het oor en weer begin kuier en so het Patrys uiteindelik ’n boer se vrou geword.

Die plaas Elandsfontein is sedert die 1800’s in die familie, volgens die kaart en transport wat in die gang hang. Die ou plaashuis het toe Jan-Hendrik sy bruid plaas toe gebring het al 20 jaar leeg gestaan.

Saam het hulle die plaasopstal weer laat leef. Hulle en die kinders.

‘Die Here haal die pyn uit jou lyf, want jou lyf sal dit nie kan hanteer nie’ - Patrys

Patrys besef op 35 gaan daar dalk nie genoeg tyd wees vir drie kinders soos sy vir haar en Jan-Hendrik (40) beplan het nie, maar sy sal enige geskenk van God aanvaar.

“Toe Chanté Hinds-Möller [gewese TV-aanbieder] se seuntjie Jan [18 maande] ’n week voor my kinders se dood hier naby ons op Carnarvon verdrink het, het ek vir my vriendinne gesê as so iets met my gebeur, kan hulle my maar langs my kind begrawe. ’n Mens sê dit so maklik.”

Die dag van die ongeluk het ’n genadige, doodse kalmte oor haar en Jan-Hendrik gekom.

“Alles om jou raak stil en jy is baie bewus van elke ding om jou. Dis asof goed in stadige aksie gebeur,” vertel Jan-Hendrik.

Patrys glo die Here haal die pyn uit jou lyf, want jou lyf sal dit nie kan hanteer nie. “Ek glo die skok sal jou
andersins ’n hartaanval gee.”

Sy het ná die ongeluk die huisdokter gebel en gesê hy moet kom, hul kinders is dood.

“Dit moes vir hom die moeilikste rit na die plaas gewees het. Hy het die lykies uitgelê en ek het vir hom ’n blou en pienk lakentjie gegee om hulle in toe te draai. Hy het hulle saam met hom dorp toe geneem, want ek het nie kans gesien dat ’n ambulans my kinders moet kom haal nie.”

’n Huis vol mense en baie liefde en troos verdoof die seer ná die dood, maar dit kyk jou in die oë as jy die
eerste keer weer alleen is, sê Patrys.

“Ons het van die Kaap af teruggery ná my operasie en die eerste besoek aan die sielkundige toe die vrees vir die leë huis ons oorval het. God het ons harte geken en naby die plaas het ons ’n wit wolkekruis gesien wat ons die versekering gegee het ons gaan oukei wees.”

Patrys hou haar besig met netbalafrigting en beplan om bane op die plaas te laat bou met die geld uit die
fonds wat vriende met die kinders se dood gestig het. Sy voel dit sal ’n gepaste nagedagtenis wees.

Voor die agterdeur groei ’n welige kruietuintjie en dié Karoo-boervrou se voortuin is ook pragtig.

Jan-Hendrik, of JH, soos sy hom noem, sê sy vrou blom sommer as sy in die tuin gewerk het. Die gastehuis op die plaas en gholf hou haar besig. Hy leef vir sy skaap- en wildboerdery.

Dis nie vir hulle ontstellend as ander paartjies met kinders van dieselfde ouderdom as Kirsten en Phillip kom kuier nie. Die meeste van hul vriende het klein kindertjies en hulle speel graag in die kinders se kamers.

Patrys voel nie sy moet hul kamers as ’n heilige terrein beskou nie. As daar hopelik weer ’n boetie of sussie is, sal hy of sy met die speelgoed speel en van die kleertjies aantrek.

In die voorportaal is ’n engelstandbeeld wat waghou oor twee houtkruise en die kinders se foto’s. In die woonvertrek is groot vergrotings van die laggende kinders.

“Ek is net spyt ons het nie een foto van ons vier saam as ’n gesin nie. ’n Mens raak so besig met die lewe dat jy van foto’s saam vergeet,” sê Jan- Hendrik.

‘’n Mens moet waardeer wat jy het terwyl jy dit het’ - Jan-Hendrik

“Ons sal met ’n volgende baba niks anders doen as met die ander twee nie. Ons het ons kinders reg opgevoed. Hulle was gehoorsame, goedgemanierde en geborge kinders,” sê Patrys.

Jan-Hendrik sê hulle sal ook nie ’n volgende kind oorbeskerm uit vrees dat hy of sy iets sal oorkom nie.

“Dit los ’n mens by die Here. Ons het geleer niks in die lewe is vanselfsprekend nie. ’n Mens moet waardeer wat jy het terwyl jy dit het.”

Om honderde vrae te vra sal hulle nie help nie, meen Patrys.

“Daar sal nooit antwoorde op almal kan wees nie. Hoekom moes dit juis met ons gebeur het? ’n Mens sal seker nie weet nie. Dit het ons beslis nader aan mekaar gebring en ons is dankbaar ons was gelowig toe dit gebeur het.”

Sy sê ’n mens wil nie in die begin hoor die tyd genees nie.

“Jy wil nie beter word nie, want jy is bang dit beteken jy vergeet jou kinders. Maar jy wórd beter en vergeet hulle nie. Jy aanvaar later daar is ’n plan, maar ek weet nog nie wat dit is nie.”

Sy gee nie om om met ander mense wat hul kinders verloor het te praat nie. Daar is nie regtig raad wat sy kan gee nie, maar sy weet hoe hulle voel.

“Daar is nie ’n resep om te cope nie, maar die sessies by die sielkundige het baie gehelp en ons oorweeg om vir nog ’n paar te gaan. Die sielkundige het my geleer as iets jou hartseer maak, don’t go there. Dis nie nodig om die hartseer uit te trek nie. Daar is genoeg oomblikke wanneer dit spontaan kom.”

Jan-Hendrik glo elke mens se swaarste ding is sy swaarste ding.

“Of dit nou jou hondjie of jou kind is wat sterf. Dis die oomblik wat jy besef daar is nie ’n swaarder pyn nie. Ons het al die seerste seer gehad en dit gee alle seer vir die res van ons lewens ’n ander perspektief.”

Patrys is nie meer bang vir die dood nie, want sy weet dan gaan sy weer haar kinders sien. “Ons almal gaan soontoe. Hulle is net voor ons daar. Hulle swem nou seker so veel soos hulle wil!”

Jan-Hendrik sê hy en Patrys voel mekaar se hartseer aan en huil soms saam en soms alleen. Partykeer huil sy saam met vriendinne en ander kere huil hy saam met sy swaers of vriende.

Patrys vertel op watter spesiale manier mense haar ondersteun het.

“Twee vriendinne het vir my ’n ring gegee met die kinders se geboortestene, ’n vrou het ’n skildery van twee spelende kinders gemaak en ’n beeldhouer het ’n engelbeeld kom aflaai.”

Patrys se ouers, Christine en Pietman, haar suster, Justine, haar broer, Peter, en hul gesinne, en Jan- Hendrik se pa, Phil, en sussie, Suné, en háár gesin is almal diep deur die tragedie geraak.

“Justine se klein Sophia was net so oud soos Kirsten en die tweetjies was onafskeidbaar wanneer hulle hier gekuier het. Sy vra gereeld wanneer kom Kirsten en Boeta nou weer terug van Liewe Jesus af. Justine moes haar vir terapie neem, want al die gehuil tydens die tragedie het haar baie ontstel.”

Die gemeenskap het saam met hulle gerou en die boerdery help bestuur om dinge makliker te maak.

‘Nou het ons elkeen ’n klip’ - Kirsten

“Mense is nog baie bewus van wat gebeur het. Eendag het ’n oom hier aangekom met die windpompie wat hy voor die gedenkklippe neergesit het. Jan-Hendrik het gevoel daar kan nie net een windpompie wees nie en het ’n tweede een gaan koop.”

Jan-Hendrik het die lang rots lank voor die ongeluk op ’n dag op die berg gesien en besluit om dit huis toe te sleep en naby die opstal te plant. Dit was net ná Phillip se geboorte. Dis sy seun se klip, het hy gesê.

Maar toe breek die boonste deel af en Jan-Hendrik plant dit langsaan.

“Nou het ons elkeen ’n klip,” het Kirsten getroos. “Een vir Boeta en een vir my.”

Boeta het altyd gelag en Kirsten het ’n ou gees gehad. ’n Diep wysheid vir ’n vierjarige.

“Sy het een dag vir ’n gas ’n drukkie gegee en op sy vrou se skoot gaan sit. Die vrou het gesê Kirsten kan haar pyn aanvoel. Sy was hartseer toe sy vir Boeta sien, want haar seuntjie het op dieselfde ouderdom verdrink.”

Kirsten was soos ’n moedertjie vir Boeta.

“Soos hulle graag hand aan hand gestap het, so het hulle gegaan.”

Het Kirsten diep in haar gees geweet hul klippe sal nog die volgende geslagte herinner dat daar eens twee laggende kinders op die plaas gebly het? Dat hulle Karoo-engele sou word?

Daar het ’n vrede oor Patrys en Jan- Hendrik gekom toe hulle presies ’n jaar ná die ongeluk die kinders se as in ’n klipgraffie teen die berg gaan sit het.

In die bries van hoop wat steeds oor Elandsfontein waai, tol die windpompies vrolik.

“As ons daar verbyry en die wind waai, sal Jan-Hendrik sê: Kyk hoe speel hulle.

“Toe ons gisteraand by die plaas inry, was dit windstil. Hulle slaap seker nou, het hy gesê.”

Patrys en Jan-Hendrik Jan-Hendrik en Patrys deur SARIE afgeneem net ’n paar dae voordat hulle die hartseer nuus oor ’n tweede miskraam gekry het.