Vertel my ’n liefdesverhaal wat nie ’n gelukkige einde het nie. Skryf ’n gedig wat nie rym nie. Sing my ’n lied wat nie oor liefde gaan nie. Nee, want wat is ’n liefdesverhaal sonder daardie gelukkige einde? Wat is ’n gedig sonder rym en wat is ’n liedjie sonder liefde? Wat is my lewe sonder jou?

Dís hoe ek oor jou voel!

Ek het altyd geglo ’n ridder bestaan net in storieboeke: Aspoestertjie se prins, Skoonlief en Ondier, Sneeuwitjie, die Sewe Dwergies en die Prins. Elkeen anders en uniek. Waar was my ridder, my prins? Was hy nog vasgevang in ’n storieboek?

Vandag skryf ek my eie sprokiesverhaal en jy is deel daarvan. Soek jy nie na liefde nie, vind dit jou. Jy het my weer geleer om lief te hê.

Die klein dingetjies wat ’n mens nie altyd onthou nie, is juis dié dinge wat my nou altyd sal bybly. ’n Sjokolade om my verkoue beter te maak. Rooi rose om my hartseer-trane op te droog. Jou glimlag in die oggend voor ons paadjies skei, en die drukkie wat my voorspoed toewens vir die dag wat voorlê.

Vir my is elke dag soos die eerste keer toe ons mekaar ontmoet het, omdat ek elke dag weer op jou verlief raak. My hart klop steeds vinniger as my foon lui en ek jou naam sien. Ek tel die dae af tot die naweek, want daar is dit net ons wat belangrik is. Daar voel alles reg en veilig. God het jou vir my geleen en ek sal jou altyd koester.

Ek skryf vandag vir jou ’n brief om dankie te sê ... vir jou bystand en geduld in die tye toe ek jou die nodigste gehad het. Jy was altyd daar: dag of nag. Jy is my beste vriend. Dis jy met wie ek alles eerste wild eel. Ons kan saam lag en saam huil. En as ek mismoedig voel ná ’n lang dag, staan jy voor my deur met ’n glimlag wat alles weer beter maak.

Niks sal my gelukkiger maak om elke oggend langs jou wakker te word nie. Wanneer ek smiddae huis toe kom, wil ek jou gesig sien. Dis net jy wat my weer moed gee vir die res van die week.

Hierdie brief is ons eie sprokiesverhaal, want jy’s my prins en ek jou prinses. Ons het al soveel herinneringe saam. Jy’s die ridder in my drome. Ek skryf nie ’n einde aan die brief nie, want ons storie het nog lank nie ’n einde nie.

As iemand my ’n paar jaar van nou vra wat die beste besluit van my lewe was, sou ek nie huiwer om te sê dit was om my lewe met jou te deel nie. Onthou dat ek jou liefhet en dat my hart aan jou behoort. Saam sal ons ons sprokiesverhaal voltooi.