Ons gaan deesdae met ’n gejaag deur die lewe en kyk hoeveel dinge ons in een dag kan inpas. Ons kla oor alles wat ons wil hê, maar nie onmiddellik kan kry nie. En soek net altyd nóg – nóg geld, nóg ’n nuwe motor of dalk ’n groter huis om mee te spog. Wanneer laas het ons regtig stilgestaan, rondom ons gekyk en nagedink waaroor die lewe eintlik gaan en hoe baie daar is om voor dankbaar te wees?

My dogter, Anika, is 7 jaar oud en is ’n hemipleeg. Sy kan nie haar regterarm gebruik nie. Haar brein is ook erg ooraktief weens ernstige breinskade ná ’n motorongeluk vyf jaar gelede. Albei gevalle maak dit dus vir haar baie moeilik om te konsentreer en in ’n hoofstroom-skool te wees. Ek en my gesin het verlede jaar Kaapstad toe getrek en Anika is by die Paarl Skool in Brackenfell aanvaar. Dis ’n skool vir kinders met neurologiese gestremdhede. Uiteindelik blom my kind. Sy is elke dag opgewonde om skool toe te gaan. Sy word nie meer weggedruk deur ander kinders nie en vir die eerste keer in haar lewe is sy net so normaal soos al die ander kinders in die skool. Sy het ook vir die eerste keer ’n beste maatjie. Hulle verstaan mekaar perfek en sien dinge in mekaar raak wat ons geneig is om mis te kyk. Ek was bevoorreg om hul konsert by te woon. Dit was die beste ervaring van my lewe. My oë was die hele tyd vol trane. Trane van hartseer wel, maar eintlik ook trane van blydskap en verwondering, en die meeste van alles trane van trots. Nie net op my dogter wat so pragtig gedans het nie – nogal die twist! – maar ook trots op elke kindjie wat deelgeneem het. Maak nie saak of hulle in ’n rolstoel is of sekere liggaamsdele nie kan gebruik nie. Hulle het met oorgawe gedans en gesing om die gehoor te vermaak.

En die enigste gedagte wat heeltyd deur my gegaan het, was dat ek omring is deur engele. Klein, pragtige, en in my oë, perfekte kinders. Dalk nie in vlees nie, maar in gees wel.

Baie van ons gaan dikwels negatief deur die lewe en kla gedurig, terwyl hierdie kinders altyd ’n glimlag op hul gesigte het. Hulle groet altyd, sommer met ’n drukkie of ’n soentjie. Hulle kyk ook nie vas in ras of geletterdheid of hoe baie geld of aansien jy het nie. Hulle sien ons raak vir die wonderlike mens wat elkeen van ons is. En hulle vra net ’n glimlag en aanvaarding.

Die personeel het ook deelgeneem terwyl die kinders vir die volgende item gereed gekry is. Dié mense is engele wat die Hemelse Vader daar geplaas het om ons spesiale kinders te help. Dankie vir almal van julle – kinders en grootmense van die skool – omdat julle my op my knieë gebring het. Nie net om dankie te sê nie, maar ook om te besef dat ek ’n rol kan speel.

Kom ons hou op om weg te kyk wanneer ons ’n gestremde persoon sien. Reik vir ’n slag uit. Julle hoef nie geld te gee en met die kinders te werk nie. Kyk na hulle met ’n glimlag op jou gesig. En glo my, jy gáán ’n verskil in hul lewens én in jou eie lewe maak. Mense wat my siening deel, kan my e-pos by daneelherselman@gmail.com

Daneel Herselman, Kaapstad