In ons huis is ’n sêding: “Jy weet wat om te doen”. Dit beteken “dink aan my, droom van my en moet my nooit vergeet nie, ek’s lief vir jou”!

Hoe opgewonde moet ’n mens wees as jy nie kan slaap nie? As jy totaal uit jou kassie uit is? So opgewonde soos net ’n klein meisietjie is die aand voor sy groot skool toe gaan. Só opgewonde dat sy drie keer in die kas gaan loer het na haar nuwe blou skoolrok en die blink swart skoene met die blommetjiespatroon. Só opgewonde dat sy haar kosblik en sap al vanaand in die nuwe stywe “vreemdelyf-tas” wil inpak. Só opgewonde was my klein feetjie gisteraand!

Ek word vanoggend wakker met ’n vreemde knop in die keel en trane wat net wil-wil loop, want skielik voel my huis vir my vreemd met die wete dat my dogtertjie wat nou nog oopmond lê en slaap, netnou ’n vreemde wese gaan wees met die blou skoolrok en ’n wippende bokstert, met ’n blou lintjie vasgebind.

Met my koffiebeker in die hand staan ek buite in die vroegoggend-mooi. Ek bid vir die klein lyfie wat vandag vol bravade en vlinders op die maag die skoolgebou gaan instap en met ’n totale nuwe stukkie lewe gaan begin. Ek bid vir die wonderlike oupa en ouma wat so vroeg moes opstaan om kamera in die hand gereed te wees vir die groot gebeurtenis. Ek bid vir die juffrou wat die kleintjies moet leer en troos en liefhê en seker ook nie aldag lus het daarvoor nie. En ek bid vir die mamma wat alleen sterk (probeer) wees. En toe is dit opstaantyd vir juffrou Haasbek. Sy vlieg uit die bed. Waar sy ander oggende gedorrel het en nie wou opstaan nie, is sy vanoggend skielik wawyd-wakker. En toe sy so ongelooflik pragtig in haar uniform voor my staan, is ek so trots op haar wat met ’n passie uitsien na die vreemdheid wat voorlê. Foto’s word in die voortuin en langs die skool se hekkie geneem. Ek voel soos ’n lamter slagting toe sy my hand vol vertroue styf vashou en sê: “Kom ons gaan in”.

Ek stap die lang gang af met skoene wat klik-klak. Ons stap verby mammas met trane in die oë en 'n pappa wie se trane oor sy wange stroom. Mý trane sit ook vlak. Maar ek gaan nie huil nie, want die handjie in myne vra dat Mamma moet sterk wees.

Toe is ons by haar klaskamer. Sy groet die juffrou, wat vir haar ’n boek gee. My kleinding kies haar stoeltjie. Toe weet ek my dogtertjie ... sy’s okei! Sy het haar plekkie in die lewe klaar uitgekap en sy staan stewig daar!

En toe ek loop, roep sy my. Ek dink “asseblief net nie nou nie, want ek sal nie die trane kan keer nie”. Ek draai om. Sy staan in die klaskamerdeur met haar groot glimlag en sê: “Jy weet wat om te doen”!

Esmarié du Toit, Grootbrak