Jurie, my dierbare man Ek onthou toe ek baie jonk was, het ek gedroom oor eendag as ek groot is, sal ek hierdie beeldskone vrou wees wat alles het wat haar hart begeer. Ek gaan my prins ontmoet en wegry saam met hom, op sy wit perd. Hy gaan my verskriklik bederf en alles gee wat my hart begeer.

Toe sien ek natuurlik vir Aspoestertjie en die hele Aspoestertjie-kompleks tref my soos tien ton, maar ek het dit baie, baie vinnig ontgroei. Die lewe en die spieël het maar ’n manier om dit te doen. Ek wou ook nie meer “gered” word nie.   

Die lewe het aangegaan en my geleer dat ek die enigste mens is wat myself kon red of vernietig. Ek het besef ek wou eerder iemand hê wat sy vriendskap, gedagtes, foute, lewe en wie hy regtig is, sonder enige vrese, met my sal wil deel.

Ek was mos nou mooi groot en kon die lewe op my eie hanteer. En ek het. Tot op ’n dag, toe ek ongeveer 38 jaar oud was en my hele wêreld soos ek dit geken het, uitmekaar val. Ja, ek gee nie om om my ouderdom te verklap nie. Ek het 38 jaar se wysheid opgebou. Nou is ek 45 en trots op die kennis, lewenswysheid en gekleurde hare wat ek het.

Toe ontmoet ek jou, Jurie. My dierbare man met die mooiste glimlag en blou oë. Jy glimlag met jou oë, deesdae ’n baie rare eienskap. Die laaste drie jaar was die gelukkigste tyd van my lewe, my liefde. Ek kon nie vir ’n beter, meer liefdevolle eggenoot gevra het. Jy is my man, my beste vriend, konfidant, minnaar en die man wat my toelaat om EK te wees. Jy is my sielsgenoot en ek wil die volgende tweebiljoen jaar met jou deel. Ek wonder soms wat het ek gedoen om jou te verdien en dan skielik word dit stil in my. Dit maak nie saak wat ek gedoen het, wat saak maak is dat jy daar is en dat ek jou sal liefhê tot die dood ons skei, en dan nog langer. Hoe langer ons saam is en hoe meer ek na jou kyk, na jou glimlag, die vonkel in jou oog en die manier waarop jou hare in jou nek krul, elke klein en groot ding wat jy doen, raak ek meer en meer lief vir jou. Glo my, dit is moontlik. Die liefde is oneindig, daarom kan dit nie ophou groei nie. In elk geval, ons het ’n ewigheid om saam te wees en mekaar lief te hê. Wat ’n wonderlike voorreg om jou naam te dra, jou vrou te wees en jou liefde te ontvang. Waarlik onverdiende genade van Bo.

Al my liefde, vir altyd joune